Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Regering skarrel om Eskom te red

Tensy die regering in die ses weke ná die algemene verkiesing op 8 Mei ’n tweede tamaai finansiële reddingsboei vir Eskom gooi, sal die kranke kragkolos heeltemal ophou om te funksioneer.

Dit is die boodskap van Intellidex se hoof van kapitaalmarkte en Eskom-kenner. Peter Attard Montalto.

Tito Mboweni

Montalto het in ’n nota aan beleggers gereageer op die nuus dat die regering op 2 April in die geheim noodmaatreëls gebruik het om byna R18 miljard aan Eskom beskikbaar te stel sodat hy sy verpligtinge vir Maart se maandeinde kon nakom.

Dit het gekom ná ’n vertraging met ’n verwagte R7 miljard-uitbetaling van die Chinese Ontwikkelingsbank wat vir 25 Maart beplan was. Eskom was toe so in die knyp dat hy nie sy verpligtinge kon nakom nie.

As Eskom agter raak met sy betalings, kan al sy skuldeisers onmiddellike betaling van alle uitstaande bedrae eis. Dit sou ’n finansiële ramp wees vir die regering, wat in werklikheid Eskom se ganse berg skuld van sowat R470 miljard waarborg. Weens kruiswaarborge kan selfs ander staatskuld en skuld van ander staatsondernemings dan opgeroep word.

Toe die omvang van Eskom se kontantkrisis duidelik word, het die nasionale tesourie op 27 Maart die Korporasie vir Openbare Deposito’s, ’n filiaal van die Reserwebank, genader vir ’n lening van R4,6 miljard vir 11 dae. Ten spyte daarvan dat die regering die lening sou waarborg, het die organisasie op 29 Maart, ’n dag voor maandeinde, die versoek afgewys.

Weens kruiswaar­borge kan ander staatskuld opgeroep word.

Eskom het toe R3 miljard by Absa geleen tot 2 April, gerugsteun deur ’n staatswaarborg. Dit het Eskom se bas gered tot R5 miljard van die noodgeld uitbetaal is wat die minister van finansies, Tito Mboweni, vir Eskom beding het. Eskom het dit deels gebruik om die Absa-lening af te los.

Die noodgeld is deel van die R23 miljard per jaar wat Mboweni in Februarie in sy begroting opsy gesit het om Eskom te help, maar die plan was dat dit eers tussen Augustus en Oktober uitbetaal sou word.

Eskom brand egter tans diesel teen ’n ongekende tempo in ’n poging om die ligte aan te hou. Dít, asook dringende herstelwerk aan kragsentrales, vreet kontant.

Die kragreus het vroeër bekend gemaak dat hy sowat R1 miljard per maand aan diesel bestee, teenoor die R600 miljoen per jaar waarvoor die energiereguleerder Nersa in Eskom se tariewe voorsiening gemaak het.

Benewens die skade wat beurtkrag aan die ekonomie doen, kan kragonderbrekings ook die ANC by die stembus negatief raak, dus is die druk op Eskom om die ligte aan te hou beduidend.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, wat snuf in die neus gekry het oor Mboweni se noodhulp aan Eskom, sê hy moes behoorlik grou om agter die kap van die byl te kom.

Die wet bepaal dat Mboweni binne 14 dae ná hy die noodmaatreël in werking gestel het, aan die parlement en die ouditeur-generaal verslag moet doen.

“Hy het gewag tot op die 14de dag, wat ook op die vooraand van die Paasnaweek was,” sê Lees.

Hy vra nou dat die parlementêre komitees vir finansies, openbare ondernemings en toewysings dringend vergader en behoorlik ingelig word oor die werklike omvang van Eskom se probleme.

Die krisis is boonop nog glad nie afgeweer nie.

Mboweni sê in sy verslag aan die parlement dat die volgende betaling uit die noodfondse voor die einde van April gedoen gaan word. Dít, ondanks die feit dat die Chinese geld volgens die departement van openbare ondernemings steeds in April verwag word.

Montalto wys egter daarop dat Eskom se geldsake in so ’n toestand is dat die ouditeure sy finansiële state vir die jaar tot einde Maart onmoontlik kan afteken as synde vir ’n lopende saak. Die feit dat Eskom steeds nie toegelaat word om koste te verminder deur personeelafleggings nie en sy snoep tariefverhoging hom met ’n R250 miljard-skuldgat gelaat het wat hy nie kan diens nie, is onoorkombaar, sê Montalto.

Dit is onafwendbaar dat die regering teen einde Junie reeds ’n betekenisvolle tweede reddingsboei of oorname van Eskom se skuld moet aankondig, sê hy.

As Eskom se ouditeure nie Eskom se status as lopende saak kan sertifiseer nie, “sal alle skuld onmiddellik betaalbaar word en Eskom ophou funksioneer”, sê Montalto.

Lees sê dit kan lol om betyds nog geld vir Eskom beskikbaar te stel. Mboweni het reeds die maksimum onttrek waarvoor die wet voorsiening maak met die noodmaatreël. Ander toekennings aan Eskom moet die gewone pad deur die parlement loop. Dit sluit openbare verhore in en kan maklik ses weke neem.

Montalto sê die regering moet meer openlik wees met beleggers, want wat eintlik hier ter sprake is, is ’n krisis vir die na­sionale ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.