Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Regstappe word oorweeg ná klopjag op moskee
Die polisie het verlede week ’n klopjag op die moskee in Ficksburg uitgevoer en dit deurgesoek vir vuurwapens en plofstof. Foto: Verskaf

Moslems in Ficksburg in die Oos-Vrystaat gaan regstappe teen die polisie doen nadat beamptes, vermoedelik van die taktiese reaksie-eenheid, ’n klopjag op hul moskee uitgevoer het.

Die polisie het op 9 April omstreeks 17:15 by die moskee opgedaag nadat hulle ’n wenk gekry het dat “ ’n misdaad” in die moskee gepleeg is.

Die moskee se hoofgebou is in aanbou en twee aanbidders het by die konstruksiewerkers gestaan en die vordering van die bouwerk bespreek toe swaar gewapende polisiebeamptes met klapmusse skielik daar opdaag.

Die beamptes het die mense glo “hardhandig” behandel, hulle beveel om te lê en een beampte het glo sy voet op een van die aanbidders gesit, sê Vaseem Mohmed, woordvoerder van die Noor-e-Taiba Masjied.

Volgens Mohmed het die beamptes nie dadelik ’n deursoekingslasbrief aan die mense by die moskee gewys nie.

Die beamptes is met snuffelhonde en skoene by die moskee in. Hulle het ook ’n ander gebou deurgesoek wat tydelik as gebedskamer gebruik word.

Die lasbrief, wat lui dat daar vir wapens, plofstof en ammunisie gesoek is, is eers later toe die polisie weg is aan mense gewys.

“In ons geloof word honde as ‘onrein’ diere gesien en dit was oneties om ’n hond in die moskee te bring. Die beamptes het ook geweier om hul skoene uit te trek.

“Niks van die goed waarna hulle gesoek het, is gevind nie. Ons voel geviktimiseer. Die hele Moslem-gemeenskap in Ficksburg is geskok en getraumatiseer oor die gebeure. Die beamptes moes met meer respek opgetree het,” sê Mohmed.

Volgens hom verstaan hulle nie hoekom daar nie eers meer ondersoekwerk gedoen is voordat die polisie ’n klopjag uitgevoer het nie.

“Wat ons die meeste geskok en seergemaak het, is dat ons ’n goeie verhouding met die polisie het. Ons is van die mense wat eerste reageer as daar ’n noodgeval is.

“Die manier hoe hulle dit gedoen het, is die ergste. Ons respekteer die polisie en die wet en ons gee ons samewerking. Dit is ’n plek van gebed.”

Die moskee is in aanbou en is verlede week tydens ’n klopjag deur die polisie vir vuurwapens en plofstof deurgesoek. Foto: Verskaf

Volgens Mohmed het die mans wat deur die gewapende beamptes aangesê is om op die grond te lê, gedink hulle gaan doodgaan. Hulle het “hul laaste gebede begin opsê” en een kon twee dae ná die voorval nie slaap nie, sê Mohmed.

Volgens hom is ’n prokureur reeds aangestel om met die saak te help.

Kapt. Phumelelo Dlamini, polisiewoordvoerder, sê die polisie het op ’n wenk gereageer dat ’n misdaad in die moskee gepleeg word waarna ’n deursoekingslasbrief verkry is om die moskee vir wapens deur te soek.

Volgens hom is ’n intelligensie-gedrewe operasie uitgevoer.

“In die stadium kan ons nie verder kommentaar lewer nie, omdat die operasie steeds aan die gang is.”

Hy het bevestig dat geen wapens gevind is nie en dat daar geen saak aanhangig gemaak is nie.

Meer oor:  Ficksburg  |  Moskee  |  Klopjag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.