SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Algemeen
OORSIG: Brand in bedwang

Die rook het Donderdagoggend dig gehang om die staatsgebou in die middestad van Johannesburg waar ‘n brand, wat Woensdag die lewens van drie brandbestryders geeis het, steeds woed.

Volg Netwerk24 se regstreekse dekking hier:

06 Sep. 17:00:28

Vlamme geblus, maar brandbestryders bly op toneel

Brandbestryders van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni het die brand in die Bank of Lisbon-gebou in bedwang gebring. "Rook borrel nog uit die 16de verdieping," sê Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse mediese nooddienste. Brandbestryders verwyder nou soveel moontlik kartondose en papiere uit die brandgebied. "Dit sal bepaal of die brand vannag geblus gaan word." Sy sê die situasie in die gebou word elke twee ure geëvalueer en spanne van vyf werk saam en word geroteer.  Sewe brandweerwaens, drie hyskrane en 50 brandbestryders was Donderdag op die toneel. Twee Oryx-helikopters van die lugmag het oor die gebou gesirkel en is op bystand om waterbomme op die gebou los te laat indien nodig. 

Michael Sun, lid van die Johannesburgse burgermeesterskomitee vir openbare veiligheid, sê brandbestryders sal 'n tweede nag by die gebou waak. 

Buite die afgesperde gebied om die gebou het voetgangers toegekyk hoe brandbestryders die 16de verdieping met water deurdrenk. Die water loop teen die gebou af en mense staan met hulle selfone en neem foto's van die wolkekrabber wat om sy boonste verdiepings pikswart is van die roet. 

Op die foto word 'n brandweerhyskraan ingespan om een van die verdiepings wat nog nie vlamgevat het nie, met water te deurdrenk. Foto: Werner Beukes


06 Sep. 15:56:59

Hamburgers, sjokolade en piesangs vir woema 

Dis 'n gewoel by die Bank of Lisbon-gebou waar brandbestryders mekaar aflos om die vlamme te bestry. Ruskans is min, maar snoepgoed soos hamburgers, sjokolade en piesangs gee hulle woema. Tussen die roet en rook deur hou brandweermanne moed en bou aan die kameraderie met hul besonderse sin vir humor. Wynand, 'n lid van die Tshwane-brandweer, wat slegs sy eerste naam wou gee, sê hy was tot op die 13de verdieping van die gebou."Dit is lekker warm daar bo, maar die probleem lê by die verdiepings hoër," sê hy. Op dié foto wys sy kollega Danie hoe pê die stryd teen die vlamme 'n mens maak.  Foto: Simon Sonnekus  

06 Sep. 15:32:20

KYK:Woeste vlamme in bedwang

Die rook borrel nog uit by die Bank of Lisbon-gebou in die Johannesburgse middestad. Simon Sonnekus berig dat die woeste vlamme in bedwang blyk te wees.

06 Sep. 15:26:06

Geboue ontruim

David Makhura, Gautengse premier, sê die meeste van die geboue om die brandende Bank of Lisbon-gebou is ontruim as voorsorgmaatreël vir ingeval die brand versprei. Hoewel Makhura kon bevestig dat die brand in die regsafdeling van die departement van gesondheid begin het, is dit nog nie bekend watter dokumente vernietig is nie. Dit volg ná gerugte van brandstigting om korrupsie in die departement te verdoesel.

Intussen is twee Oryx- helikopters van die Suid-Afrikaanse lugmag is op bystand om  waterbomme op die brandende Bank of Lisbon-gebou los te laat indien nodig. ‘n Lid van die lugmag, wat anoniem met Netwerk24 gepraat het, sê dit lyk of die brand in bedwang is, maar die helikopters kan binne oomblikke ontplooi word as dit nodig word.  

Op die foto staan personeel van die lugmag langs 'n brandweerwa en koukus. Foto: Simon Sonnekus 


06 Sep. 15:16:55

Brandweermanne rus en eet wegneemhoender naby die brandende gebou. Foto: Simon Sonnekus

06 Sep. 15:15:11

Die Tshwane-metro het twee brandweerwaens en brandbestryders gestuur om hul kollegas in Johannesburg by te staan.  Foto: Judith Silomo

06 Sep. 15:15:07

KYK: Kajuitraad voordat hulle die vlamme pak 

Brandbestryders sit koppe bymekaar en gaan hul toerusting na voordat hulle by die brandende Bank of Lisabon-gebou ingaan. Twee brandweerwaens van die Tshwane-metro en hul bemanning het hulle Donderdag deur die loop van dag by hul kollegas in die Johannesburgse middestad aangesluit om die brand wat Woensdag uitgebreek het te help blus.   Foto: Judith Silomo

06 Sep. 14:41:52

KYK: Brand het by regsafdeling ontstaan

David Makhura, premier van Gauteng, sê die brand by die Bank of Lisbon-gebou het in die regsafdeling van die provinsiale departement van gesondheid ontstaan. Noodhuisvesting vir die werkers van dié en ander geboue word nou gesoek.

Vrou bring hulde aan haar brandweerman wat dood is

Die vrou van Simpiwe Moropane (28) het op Twitter hulde gebring aan haar man wat Woensdag in die brand in die Bank of Lisbon-gebou dood is. Onder die naam Yuri Tsheke bring sy hulde aan Moropane as haar man, beste vriend en pa van haar kinders, saam met foto's van hulle as gesin. 

06 Sep. 13:47:30

Dié drie helde dood in brand

'n Jong pa van 28 is een van die drie brandbestryders wat Woensdag in die brand in die Bank of Lisbon-gebou dood is. Simpiwe Moropane se vrou het oor haar verlies getwiet en hom as haar beste vriend bestempel. Khatutshelo Muedi (37), Moropane se kollega van die Fairview-brandweerstasie, is ook in die brand dood. Die derde brandbestryder, Mdusuzi Ndlovu (40) was verbonde aan die Sentrale-brandweerstasie.  

Op die foto van links is: Ndlovu, Muedi en Moropane 

Meer oor:  Brand  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.