Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
OORSIG: 'Ons trane oor Shaleen dié van liefde' – minister

Die legendariese aktrise Shaleen Surtie-Richards word met ’n amptelike staatsbegrafnis gegroet.

'n Gedenkdiens word in die kapel van Memorial Park in Durbanville gehou. 

13 Jun. 16:28:28

Die begrafnis is verby. 

13 Jun. 16:00:03

Shaleen het kom rus in die skadu's van Tafelberg

Eerw. Lionel Surtie, Shaleen se broer, lei die erediens.

Surtie sê Shaleen het kom rus in die skadu’s van Tafelberg. Hy sê in hul ouerhuis het hulle hoofsaaklik Afrikaans gepraat.

Hy sê dat hy sy boodskap namens Shaleen in Afrikaans gaan gee.

Die titel daarvan is “Moenie bang wees nie, moenie bang wees nie”.

Hy sê Christus alleen is die antwoord op die mense se vrae van lewe en dood.

Hy sê dat hy namens Shaleen wil sê moenie bang wees vir die lewe nie. Vrees is die oudste en sterkste menslike emosie en dit verlam ’n mens.

Dit maak jou siek en verlam vandag die krag wat jy môre nodig het om die onheil aan te durf.

Vrees maak ’n mens ongeskik vir die beproewinge van die lewe.

Die beste manier om jou lewe te leef, is om besig te wees met iets wat langer as die lewe duur.

Die swaarste las is vrees vir dinge wat nooit gebeur het nie.

Wanneer vrees aan die deur klop, stuur vir geloof om die deur oop te maak en jy sal vind daar is niemand nie.

13 Jun. 15:42:47

Verteller van stories

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, sê op hierdie hartseer geleentheid word Surtie-Richards se lewe ook gevier en sy word geëer.

Hy sê pres. Cyril Ramaphosa het aangekondig dat hierdie nasionale juweel vereer word en dat landsvlae halfstok sal hang.

“Sy was op verskeie maniere ’n verteller van stories. Sy was die beste storieverteller deur al die karakters wat sy uitgeleef het. Sy het ons meer geleer van onsself, van dit wat ons ware Suid-Afrikaners en ware mense maak. Selfs al is dit tragies, is die vertelling van stories altyd goed vir ons.

“Ons trane is dié van liefde, van vreugde wat ons ervaar het met die vertelling van haar stories. In 2021 het ons soveel kunstenaars verloor.

“Al die tragedies kom in ’n tyd wanneer ons land hul wysheid nodig het in nasiebou. Niemand sal twyfel in die rol wat Shaleen gespeel het om mense te verenig nie.

“Shaleen was ook ’n onderwyseres wat ons geleer het om uit te hou, om te droom en om aan te hou met droom.

“Sy het haar rol gespeel om eenheid te bou in diversiteit deur te sê: ‘Ek is wie ek is.’

“Sy het ons geleer dat ’n mens trots moet wees op wie jy is en waar jy vandaan kom, dit is haar boodskap wat in die jeug moet voortleef,” sê Mthethwa.

“Shaleen, jy het gesterf sonder om te groet, maar jy leef voort in ons geheue.”

13 Jun. 15:23:36

Patricia de Lille bring hulde

’n Boodskap deur Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, word voorgelees.

“Dit is vir my baie hartseer dat ek nie hier in persoon kan wees om totsiens te sê aan my goeie vriendin nie. Sy was ’n oop en brutaal eerlike mens. Ek het soveel van myself in haar gesien. Gewoonlik is ek die een wat die meeste praat. Maar met Shaleen kon ’n mens nie ’n woord inkry nie. Want sy het al die praatwerk gedoen.

“Dit was lekker. Net Shaleen kon dit regkry om my stil te hou. Sy was altyd eerlik en het altyd gelag. Altyd reg om ’n goeie tyd te hê. Sy kon hard speel en hard werk.

“Dit is hartseer dat haar dood die stryd van Suid-Afrikaanse kunstenaars blootlê in hul later jare.

“Haar dood moet ’n wekroep wees dat kunstenaars beskerm moet word, hul regte beskerm en gerespekteer moet word. Dat daar na hulle gekyk moet word,” lui De Lille se boodskap.

13 Jun. 15:18:43

Appollis sê Surtie-Richards het die deure afgebreek met haar karakters, met of sonder ’n kopdoek. Met haar deernis.

Daar is geld uit haar gemaak, sê Appollis.

Sy was ’n etekaartjie vir verskeie publikasies. Sy was nuus wat verkoop het en teaters waar sy in ’n produksie was, het uitverkoop. Appollis sê haar wysheid, haar insig, maar die meeste van alles haar humor, daardie lag uit haar maag uit, is haar erfenis.

Karin Kortje sing die “Onse Vader”.

13 Jun. 15:02:26

'’n Bek wat definitief moet jêm kry'

Basil Appollis vertel hoe Surtie-Richards en hy mekaar op die KKNK in Oudtshoorn ontmoet het.

“Met haar Noord-Kaapse aksent en lekker praat. ’n Bek wat definitief moet jêm kry. Haar verhale het ’n mens vasgevang. Sy was ’n uitsonderlike onderwyseres destyds. Sy was bekommerd oor die leerlinge in die skool waar sy skoolgegee het."

Sy het ’n storie oor vermenigvuldiging in somme vertel. Twee vermenigvuldig met nul is hoeveel, klas? Twee vermenigvuldig met nul is hoeveel? Ek het vir jou gesê twee vermenig met nul is bokkerol. Maar daardie woord nie – sy was baie meer kleurvol, vertel Appollis een van Surtie-Richards se gunsteling-stories.

Appollis sê Surtie-Richards het in haar loopbaan 60 eerbewyse gekry.

Hy sê Surtie-Richards en hy het die hele dag gestry oor waar die sigaretaansteker is as hulle op toer is.

“Waar is die lighter? Bassy. Ek het die lighter vir jou gegee. Daar is die lighter in jou hand dan.”

13 Jun. 14:50:43

'Al was ons van die plaas af, was ons hoëklas en ordentlik'

June van Merch, Basil Appollis en Royston Stoffels is die volgende sprekers.

June van Merch sê sy en Surtie-Richards was van die plaas af, maar hulle was hoëklas en ordentlik.Van Merch sê sy hou nie daarvan as mense hard praat nie.

So Surtie-Richards het altyd sag met haar gepraat.

Surtie-Richards het vir haar “vasgevat” en grimering aangesit.

Sy het twee dae gesukkel om die oogomlyner met baba-olie van haar gesig af te kry.

Sy het gesê in Johannesburg het sy geweet sy het ’n veilige hawe en ’n goeie vriendin met wie sy haar hart kon deel.

In die laaste jare het hulle nie op mekaar se stoepe rondgelê nie, maar hulle deel vir altyd hul liefde.

13 Jun. 14:49:12

Huldeblyk deur die familie

Michelle Surtie De Bruyn, Shaleen se niggie, lewer 'n huldeblyk namens die familie.

‘n Emosionele Surtie De Bruyn vertel sy moes op haar tannie se 60ste verjaardag ‘n toespraak lewer.

Daar was bekendes op die geleentheid.

Shaleen het haar eenkant toe geroep. "Jy is ‘n Surtie, jy is jou pa se kind. Moenie vir jou worry oor die mense nie. Ons is die mense. Jy lig jou ken op en jy praat," het Shaleen aan Surtie De Bruyn gesê.

Vandag vier sy weer die lewe van "Suid-Afrika se tannie".

"Ons het geweet Suid-Afrikaners kyk op na haar, maar die week het die familie besef hoe lief almal vir haar was."

Surtie De Bruyn sê haar tannie sou kom kuier, altyd met baie vriende.

“Sy sou opdaag met ’n klomp armbande, glinsterend. Oogwimpers wat wapper.

“Sy het stories vertel van die verlede en kinders het aan haar voete gesit en gelag. Die kinders van die familie sal voortgaan om haar stories te vertel. Sy was fabulous en fun.”

Indien ’n mens waarlik omarm en vier wie jy is, kan jy enigiets doen. Die familie staan onder die lig van haar ster, sê Surtie De Bruyn.

 

Foto: Jaco Marais

13 Jun. 14:26:50

Die program begin

Alistair Izobell begin die diens met ’n boodskap oor Surtie-Richards.

Hy sê ’n legende se lewe word gevier.

Sy was lief vir jong mense en die program sal daarom ook baie jong mense insluit.

Die Kaapse sangers Mujahid George en Karin Kortje sing. Izobell sê dit is ’n dag van viering, so mense mag hande klap vir die sangers.

 

Foto: Jaco Marais

13 Jun. 13:49:32

Rouklaers het Surtie-Richards se kis, met ’n ruiker rooi blomme daarop, in die kapel ingedra. As deel van die amptelike diens is ’n landsvlag oor haar kis gedrapeer.

 

Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.