Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Regters mág hul mening lug’
Regter Zak Yacoob
Regter Johann Kriegler

Kaapstad. – Regters en oudregters het, net soos enige ander Suid-Afrikaner, die reg om hul politieke oortuigings uit te leef.

Hulle het die reg om die regering te kritiseer én standpunt in te neem oor politieke sake, het oudregters en grondwetkenners gereageer nadat adv. Michael Masutha, minister van justisie, gesê het regters moet hulle eerder nie oor politieke vraagstukke uitspreek nie.

Masutha het in ’n onderhoud gesê dit is kommerwekkend dat regters – veral afgetrede regters – betrokke raak by litigasie teen die staat namens burgerregteorganisasies en hulle in die openbaar oor “blatante politieke vraagstukke” uitspreek.

’n Mate van spanning tussen die regbank en uitvoerende gesag – soos ná die pres. Omar al-Basjir-debakel – is normaal, het hy gesê.

“Of dit in die eerste plek grondwetlik is of nie, is iets wat nog nie getoets is nie, maar ons is bekommerd.”

In reaksie hierop het oudregter Zak Yacoob gesê: “Hulle [die regering] dink sekerlik nie omdat hulle ons volle salaris betaal, besit hulle ons nie. Dit sal totaal belaglik wees.”

Regters in Suid-Afrika verdien ná hul aftrede steeds hul volle salaris.

“My standpunt is dat regters kommentaar mag lewer op regeringsake en politieke partye; sê as die regering reg is, maar eweneens duidelik en ten sterkste ook sê as ons ­dink die regering is verkeerd,” het Yacoob gesê.

Oudregter Johann Kriegler, wat vroeër vanjaar gesê het pres. Jacob Zuma gebruik ’n “tirannie van die meerderheid” om die howe te ontduik in sy hantering van die Nka­n­dla-saak, het gesê hy stem saam oudregters behoort hulle nie in party­politieke sake te begewe nie, maar as burgers is hulle geregtig daarop om hulle oor die politiek uit te spreek.

Regters en oudregters verloor nie hul reg op spraakvryheid nie, het Kriegler gesê.

Hy het verwys na oudregter Kate O’Regan wat in die ouderdom van 52 ná haar termyn van 15 jaar as regter in die konstitusionele hof uitgetree het.

O’Regan is deesdae ’n erelid van die grondwetwaghond-organisasie Casac, wat hom vanjaar ’n paar keer tot die hof gewend het oor omstrede besluite van die uitvoerende gesag. “Moet O’Regan dan handjies gevou sit? Of sit en brei? Dit is nonsens.”

Die grondwetkenner prof. Marinus Wiechers het gesê dit sal ’n “absolute ontkenning van hul menswaardigheid wees” om regters en oudregters te diskwalifiseer om aktief aan die politiek deel te neem.

“Dit is onsinnig; dit is verregaande. Hulle kan tog nie van hul burgerregte afstand doen nie? Dit is mos gekheid.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.