Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Regulasies vir sport en kultuur bekend

Die regulasies vir kontak- en niekontaksport, biblioteke, argiewe, museums, galerye, filmteaters en teaters is Maandagaand in die Staatskoerant afgekondig.

Die regulasies tree onmiddellik in werking.

Hiervolgens kan kontaksportsoorte weer met hul oefensessies begin mits aan die voorgeskrewe gesondheidsprotokolle voldoen word. Geen ondersteuners sal egter by hierdie oefensessies toegelaat word nie.

Alle sportliggame moet binne twee weke van Maandag af skriftelik by Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, aansoek doen om hul oefensessies af te skop en die volgende aan hom voorlê:

• ’n Gedetailleerde bedryfsplan;

• Die name van die oefenplekke;

• Besonderhede van alle spelers/atlete en sportlui;

• Kontakbesonderhede van mense wat positief of negatief getoets is; en

• Die datum waarop oefensessies hervat.

Die sportliggame moet onderneem dat alle spelers/atlete en ondersteuningspersoneel koronavirustoetse sal ondergaan voordat enige oefensessies in kontaksport hervat word.

Bykomende voorsorgmaatreëls moet deur sportliggame getref word wanneer spelers/atlete in ’n omgewing wat as ’n brandpunt vir die virus bestempel word, oefen of daar deelneem. Die onderskeie sportliggame sal aanspreeklik gehou word vir enige skade of nalatigheid ten opsigte van die bekamping van die virus. Die onderskeie sportliggame moet ook ’n plan ontwikkel vir die infasering van spelers/atlete wat aan sowel kontak as niekontaksportsoorte deelneem voordat enige oefensessies of wedstryde kan plaasvind.

Sportliggame van niekontaksportsoorte mag nie met enige oefensessies of wedstryde begin alvorens hulle skriftelike toestemming van die minister gekry het nie. Die minister het ’n week kans om aansoeke van sportliggame van niekontaksportsoorte te oorweeg. Sportliggame wat nie tevrede is met ’n besluit kragtens hierdie aanwysings nie, kan binne 14 dae ’n appèl by ’n onafhanklike paneel indien ten opsigte van hul aansoek vir die hervatting van hul oefensessies en wedstryde.

Alle toerusting by oefensessies moet voor en ná gebruik ontsmet word. Atlete/spelers moet te alle tye ’n gesigsmasker dra. Slegs vyf atlete/spelers kan in ’n groep saam oefen. Lakwerk en naby kontak in oefensessies mag nie toegelaat word nie. Oefensessies kan slegs in ’n spesifieke tydgleuf plaasvind byvoorbeeld 15 minute vir voorbereiding, 75 minute vir oefening in klein groepe en 15 minute vir afkoel ná sessies.

Kuns, vermaak en kultuur

Alle biblioteke, argiewe, museums en galerye moet eers aan gesondheidsprotokolle voldoen voordat hulle vir die publiek heropen.

Biblioteekdienste sal beperk word tot slegs die leen en terugneem van biblioteekmateriaal. Aanlyn verwysing en programmering sal deur biblioteke aangemoedig word en studiegebiede sal beperk word tot 30% van hul kapasiteit.

’n Rekenaargebied sal slegs 10% van ’n biblioteek beslaan. Kinder-en-speelgroepdienste by alle biblioteke bly gesluit.

Filmteaters en teaters kan weer hul deure oopmaak indien 50 mense of minder, uitsluitend personeel, toegelaat word.

Filmteaters en teaters moet aan die volgende vereistes voldoen:

• Handreinigers moet beskikbaar wees;

• ’n Veilige afstand moet waar moontlik tussen klante, besoekers en personeellede gehandhaaf word;

• Gesigsmaskers moet gedra word;

• Gesigsmaskers mag net verwyder word terwyl mense iets eet of drink;

• Plekke moet waar moontlik vooraf bespreek word en kaartjies moet deur kontaklose betaling gekoop word;

• Persele moet voor die opening, tydens en ná gebruik deeglik ontsmet word;

• Toerusting en gereedskap moet gereeld skoongemaak word;

• Alle toilette, deurhandvatsels en toerusting wat gedeel word, moet ook gereeld skoongemaak en ontsmet word;

• Alle vensters en deure moet oop wees vir voldoende ventilasie;

• Beskermingstoerusting moet aan personeellede verskaf word;

• 1,5 m moet tussen mense op die perseel gehandhaaf word, en ook wanneer daar in ’n tou gestaan word;

• Daar moet ’n aangewese gebied wees waar mense wat Covid-19-simptome toon, geïsoleer kan word; en

• Almal moet met hul aankoms deur ’n siftingsproses gaan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Regulasies  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.