Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rehabilitasie-sentrum: ‘Die dwelms én die loesings vloei’

Dwelms is glo vryelik beskikbaar en aanrandings maak na bewering deel uit van die “terapie” wat dwelmslawe ontvang by die I Am Recovery Ministries-rehabilitasiesentrum in La Montagne in Pretoria.

Hendrik van Bosch van Rayton. Hy beweer hy is voor sy pa, sy vrou en twee minderjarige kinders aangerand. Foto: Deon Raath

Só beweer voormalige pasiënte van dié sentrum. Die ondersoeker Mike Bolhuis het noue bande met I Am Recovery.

Een van die voormalige pasiënte is Riaan Jansen (33), wat in Januarie by die sentrum opgeneem is.

“Ek het nie dwelmprobleme gehad nie, maar ek was daar vir anger management.

“My ouers het Mike genader en twee van sy mense, sulke wildewragtigs, het my by die huis kom haal,” vertel Jansen.

Hy sê hy het hom nie teengesit nie, maar hulle het hom nogtans hardhandig behandel. “Hulle het my pa voor my gebel en gevra of hulle my kon slaan. My pa het vir hulle gesê ‘julle raak nie aan my kind nie’, maar hulle het my steeds geboei.”

Hendrik van Bosch se foto met sy aankoms by die sentrum – en nadat hy glo ’n stuipe-aanval gehad het.
Hendrik van Bosch die oggend na sy beweerde aanranding deur werknemers van die sentrum. Foto: Verskaf

Hy dink nie Bolhuis weet wat alles in die sentrum aangaan nie.

“Daar is dwelms, aanrandings en romantiese verhoudings tussen vrywillige personeel en diensgebruikers (pasiënte). Tot einde April was daar ook nie regtig enige sprake van terapie nie. Waarvoor betaal ’n mens dan?”

Jansen sê hy het op sy tweede dag in die sentrum die ligamente in sy enkel geskeur en byna geen mediese hulp gekry nie.

“Hulle het my nie dokter toe of selfs kliniek toe gevat nie. Ek het net pynpille, ’n kruk en ’n enkelstut – wat hulle by die apteek gekoop het – gekry,” sê Jansen.

Ná net meer as ’n maand in die sentrum is hy aangestel as IT-beampte en ontvangsklerk. “Dít terwyl my ouers onder die indruk was ek kry nog terapie as ’n diensgebruiker.”

“Diensgebruikers” is die naam wat die sentrum vir sy pasiënte gebruik.

Die rehabilitasiesentrum van I Am Recovery Ministries. Foto’s: Elizabeth Sejake

“I Am Recovery is ten ergste ’n klug en ten beste ’n halfweghuis waar gebroke mense aan hul eie genade oorgelaat word,” sê Jansen.

Pasiënte wat Bolhuis na die sentrum verwys betaal volgens Jansen “maklik R30 000 vir ’n maand se terapie”, terwyl private gebruikers tussen R5 000 en R8 000 betaal.

“Dit gaan alles oor geld. Hoeveel geld kan die sentrum so gou moontlik maak. Diensgebruikers se regte tel nie veel nie.”

Hy sê terwyl hy by I Am Recovery gewerk het, was hy die enigste werknemer met ’n geldige noodhulpsertifikaat. “Ek is vlak 3 gekwalifiseer. Daar was nie regtig enige ander mediese hulp vir diensgebruikers beskikbaar nie. Geen tandarts, dokter of selfs sielkundige nie.

“Daar het nou ’n maatskaplike werker bygekom sedert ek weg is daar,” sê Jansen.

Dewald Horn, ’n voor-malige pasiënt.Foto: Elizabeth Sejake

Hy sê ook die sentrum is onhigiënies. “Daar was ’n diensgebruiker met hepatitis C. Sy eetgerei is nie eens apart gewas of iets nie en hy het met ander, gesonde diensgebruikers ’n kamer gedeel.”

Jansen sê hy is weg nadat ’n ander pasiënt, Hendrik van Bosch, glo deur werkers van die sentrum aangerand is. Dit het volgens Jansen gebeur toe die sentrum se mense Van Bosch by sy huis gehaal het.

“Hulle het hom vreeslik geslaan. Ek kon die skade duidelik sien toe hy daar aankom en ek het gesê hy moet hospitaal toe, maar hulle het hom net bed toe gestuur.”

Die volgende oggend het hy hom boeglam geskrik toe hy Van Bosch sien.

“Hy moes in sy slaap ’n stuipe-aanval gehad het, want die regterkant van sy gesig het vreeslik gehang.”

Die 31-jarige Van Bosch, wat in Rayton, naby Cullinan, woon, het Vrydag aan Rapport gesê hy was twee maande al “skoon” van dwelms toe hy in die sentrum opgeneem is. Hy het vrywillig gegaan, want hy het gevoel hy is “nog nie reg nie”. Hy sê as hy geweet het wat by die sentrum aangaan, sou hy hom nooit daar laat opneem het nie.

“Hulle het eers my hande agter my rug geboei en toe my voor my pa, my vrou en my twee minderjarige kinders, 11 jaar oud en vier maande, begin slaan.”

Riaan Jansen, ’n voormalige pasiënt. Foto: Deon Raath

Dié twee sentrumwerkers se name is aan Rapport bekend.

“Die een man het my seker vier keer met die vuis geslaan, terwyl die ander een twee houe ingekry het.”

Van Bosch, Jansen en nóg ’n voormalige pasiënt wat in ’n stadium die “hoofseun van die sentrum” was, Dewald Horn (25), sê almal die pasiënte gebruik dwelms in die sentrum.

“Jy ruik elke aand die tik-walms,” sê Horn.

Horn sê die sentrum doen die teenoorgestelde van dít waarvoor hy betaal word.

“Mense gaan soontoe vir iets soos dagga en dan maak hulle kennis met gevaarliker dinge soos tik en heroïen.”

Cristo Kuypers-Kruger, uitvoerende hoof van die I Am Recovery Ministries-sentrum, het Rapport na Bolhuis verwys. “Al ons medianavrae word deur Mike hanteer.”

Bolhuis het nie op spesifieke vrae oor die sentrum geantwoord nie, maar het by monde van sy prokureur al die aantygings ontken en gesê daar is ’n smeerveldtog teen hom. Lees sy volledige kommentaar:

Mike antwoord op bewerings

Mike Bolhuis se prokureur, Rehan Coetzee van Steenkamp & Jansen Ingelyf, sê die bewerings deur Bolhuis se kliënte en oor die I Am Recovery Ministries-rehabilitasiesentrum is vals “en gee nie die werklike instruksies, opdragte, advies en dienste gelewer deur ons kliënt weer nie”.
Hy sê in al die gevalle is Bolhuis se dienste “behoorlik en professioneel gedoen”.
Hy sê Bolhuis gaan nie vertroulike inligting van die klaers bekend maak “bloot om sy onskuld te bewys of om te bewys dat die klagtes geen meriete het nie”.
Bolhuis nooi die klaers om met hom te skakel sodat hy die klagtes, waarvan hy nou eers gehoor het, kan bespreek en probeer om dit op te los, sê Coetzee.
Andersins kan die klaers regstappe doen as hulle dan werklik glo dat hul klagtes meriete het “en nie net poog om ’n smeerveldtog te dryf” nie.
Bolhuis, sê Coetzee, vermoed dat hy die slagoffer is van ’n smeerveldtog deur die klaers.
“Ons het geen twyfel dat enige eis suksesvol deur ons kliënt weerlê sal word nie.”
Volgens Coetzee het hulle reeds aan adv. Willem Edeling opdrag gegee om te help met “remedies om ons kliënt se goeie naam te beskerm”.
Coetzee sê Bolhuis en sy kollegas neem met elke opdrag behoorlike opdragte van die kliënt. “Daar word

nooit, soos nou deur van die klaers beweer, net ’n brief geskryf nie.”

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.