Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Reich van Welkom se oorskot veras

Die laaste bietjie hoop dat haar pa dalk nog lewe, is weg nadat sy oorskot Dinsdag opgegrawe is, het Belinda Ferreira, dogter van die vermoorde Karl Reich (82), gesê.

Volgens haar was dit vir haar ’n baie emosioneel dag omdat sy nog aan die hoop vasgeklou het.

Karl Reich (82)Foto: verskaf

“Ek weet dit maak nie sin nie, maar ’n mens bly maar glo dat daar ’n kans is dat dit nie hy is wat daar begrawe is nie.”

Reich is op 21 September 2018 in sy huis in Welkom vermoor. Sy moordenaars het sy lyk saamgeneem in een van sy twee motors wat hulle gesteel het, en hom buite Pretoria uitgegooi.

Reich se spoorlose verdwyning het daartoe gelei dat sy familie maande lank onverpoosd na hom gesoek het.

Eers in Mei vanjaar het die Valke ’n deurbraak gemaak.

Twee mans wat in hegtenis geneem is, het uitwysings aan die ondersoekspan gedoen, en dit het daartoe aanleiding gegee dat Reich se oorskot geïdentifiseer kon word.

’n Munisipale werker het ná die moord afgekom op Reich se lyk wat in die veld gegooi is en die polisie in kennis gestel.

Die polisie in Pretoria het nie die onbekende man se lyk met Reich se verdwyning verbind nie, en hy is as armlastige in die Lotus Garden-begraafplaas begrawe.

Die graf van Karl Reich in die Lotus Garden-begraafplaas.Foto: verskaf

Ferreira het gesê die familie kan ten minste nou berusting vind in die feit dat sy oorskot opgespoor is.

Hulle wou egter nie Dinsdag die opgrawing in die Lotus Garden-begraafplaas bywoon nie.

Reich se oorskot is Dinsdag kort ná die opgrawing in ’n noodverassing in Viljoenskroon veras.

Familie en vriende beplan voorlopig om op 13 September ’n roudiens in die Katolieke kerk in Welkom te hou.

“Daar is ’n oop nis onder dié van my ma, Marie, en ons gaan die helfte van die as daarin sit.”

Die res wil Ferreira laat strooi op plekke waar die familie voorheen saam met haar pa vakansie gehou het.

Die armmansgraf waar Karl Reich (82) begrawe is, moes Dinsdag oopgemaak word sodat sy oorskot aan sy familie oorhandig kon word.Foto: verskaf

Corné van Zyl van Graceland-begrafnisdienste in Winburg het die opgrawing saam met die polisie, munisipaliteit en gesondheidswerkers behartig.

Van Zyl het gesê dit was ’n baie moeilike opgrawing omdat die staat drie kiste bo-op mekaar begrawe. Reich se kis was heel onder.

“Ons moes al drie die erg verweerde kiste uithaal, die oorskot weer in nuwe kiste sit en die ander twee herbegrawe.”

Dit was nie aangenaam nie, het sy gesê.

Volgens haar is sy net bly dat sy Reich se familie kon help om afsluiting te kry.

* Reich se vermeende moordenaars verskyn weer in September in die hof in Welkom.

Karl Reich (82) se oorskot is in hierdie kis oorgeplaas voordat dit veras is. Foto: verskaf
Meer oor:  Karl Reich  |  Welkom  |  Verdwyning  |  Oorskot  |  Moord-Ondersoek  |  Verassing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.