Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Renosterboere se hoop vertrap

Renosterboere wat bedel vir kos omdat dit swaar gaan, gaan vir nog minstens drie jaar moet wag voordat hulle moontlik horing oorsee kan verkoop.

John Hume het op Facebook om hulp gevra om sy renosters te voer. Foto: Deon Raath

Dié boere het verlede jaar nuwe hoop gekry dat inter­nasionale verkope in Mei by die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) goedgekeur kan word.

Suid-Afrika moes teen 25 Desember kennis gee van die voorstel om witrenosterhoring vanaf bylae 1, van hoogs bedreigde spesies, na bylae 2 te verskuif sodat internasionale handel in dié horing moontlik kan wees.

Die departement van omgewingsake het einde Oktober aan die parlement gesê die wetenskapowerheid, wat deur wetgewing gestig is om die regering te adviseer oor dié omgewingskwessies, het aanbeveel dat Suid-Afrika die witrenoster-kwessie ophaal. Maar Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, het nagelaat om dit op die agenda te plaas voor die spertyd van 25 Desember.

Dit kan dus nie meer in Mei in Sri Lanka bespreek word nie en die vroegste wat Suid-Afrika weer die saak kan ophaal, is in 2022.

Staat besit 17 ton horing – wat ’n fortuin werd is.

Plaaslike renosterhandel is ná lang hofgevegte onder streng omstandighede gewettig, maar renosterboere kan steeds nie horing in die buiteland – waar die vraag is – verkoop nie.

Die renoster-megaboer John Hume van Noordwes het verlede week op Faceboek gebedel vir voer vir sy 1 642 renosters omdat hy glo nie meer kan bekostig om met sy teelprogram voort te gaan nie.

Piet Warren, nog ’n groot wildboer van Phalaborwa in Limpopo, sê aan Rapport boere sit met die hande in die hare. “Ons is hartseer en baie gefrustreerd. Daar word van 2013 af vir ons belowe dié jaar gaan dit gebeur, toe weer in 2016 en verlede jaar weer.’’

Hy sê plaaslik kan ’n kilogram renosterhoring vir ongeveer R50 000 verkoop word.

“Viëtnam bied ons tans R300 000 per kilogram aan. As ons nou kon verkoop, sou ons oor die R2 miljoen kon kry vir ’n horing van sowat 7 kilogram.”

Hy sê die land sou daarby baat gevind het as die minister gedoen het wat sy belowe het.

“Daar is 17 ton renosterhoring in staatsbesit – dit is ’n ongekende inkomste vir die staat!’’

Volgens hom kry stropers ongeveer R100 000 per kilogram op die swartmark.

Dit is dus baie meer winsgewend om te stroop as om die diere wettig aan te hou.

Hy meen boere word reeds ontmoedig om dié diere aan te hou omdat dit eenvoudig onekonomies is. “Onthou, een renoster eet soveel as drie en ’n half beeste. En dan moet jy kyk na sekuriteit – ons het gewapende wagte wat die diere oppas en ysterhekke.’’

Dit kos hom ongeveer R1 000 per maand per renoster vir onderhoud. Hy besit ongeveer 100 renosters en beplan om binnekort nog vyf aan te koop omdat hul nou vir spotgoedkoop verkoop word.

Warren sê in Suid-Afrika sal ’n volwasse renosterbul van ouer as vyf jaar met sy horing vir ongeveer R120 000 verkoop. ’n Renoster lewe volgens hom tussen 35 en 40 jaar lank en produseer elke jaar ongeveer 2 kg horing (die bulle).

Pelham Jones, voorsitter van die vereniging van private renostereienaars (PROA), sê die departement van omgewingsake het hulle op 24 Desember 2018, ’n dag voor die veronderstelde aansoek, in kennis gestel Suid-Afrika nie sal aansoek doen by Cites nie.

Hy sê dís nadat PROA in besonderhede met die departement gekonsulteer het oor die ekonomiese voordele wat dit sou inhou.

Hy meen die wettige handel in renosterhoring sal die druk van stroping van die getal wilde renosters verwyder, aangesien die gebruikers van die horing dit dan wettig kan bekom eerder as om ’n gestroopte horing te moet koop.

Jones sê renostereienaars staan voor ’n reuse-uitdaging die volgende drie jaar, aangesien hul bestuurs- en veiligheidskoste vir die diere moet dek sonder die vooruitsig van ’n inkomste. Daar is boonop hardnekkige droogtes landwyd. Die departement van omgewingsake het nie Rapport se navrae beantwoord nie.

Meer oor:  John Hume
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.