Die polisie het Vrydag ’n nasionale reserwemag vir die polisie se eenheid vir openbare orde in Pretoria bekend gestel.
Dít kom ná bevindings van ’n studie wat in 2013 gedoen is dat die polisie se eenheid vir openbare orde versterk moet word om by te hou met die beheer van skares in die land.

Die polisie se eenheid vir openbare orde het Vrydag 'n vertoning in Pretoria aangebied. Foto: SAPD
Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sithole, nasionale polisiehoof, het Vrydag die bekendstelling by die polisie se opleidingsakademie in Pretoria-Wes bygewoon.
Die eerste nasionale reserwemag vir die polisie se eenheid vir openbare orde is op 1 April 2013 in Pretoria bekend gestel.
Intussen is daar soortgelyke reserwemagte in Mariannhill in KwaZulu-Natal (KZN), Matsulu in Mpumalanga en Faure in die Wes-Kaap gestig. Met die stigting van die reserwe-eenhede in Pretoria, KZN, Mpumalanga en die Wes-Kaap is daar nou 41 eenhede vir openbare orde in die land.
Die doelwit is om vier nasionale reserwe-eenhede en 50 provinsiale reserwe-eenhede op die been te bring. Dit sal uit altesaam 11 000 lede bestaan.
Lede van die eenheid vir openbare orde moet ’n strawwe oefeningsprogram voltooi voordat hulle amptelik aanvaar word. Hulle word opgelei in skarebeheer, hoe om die gepantserde Nyala-voertuie te bestuur, hoe om konflik tussen strydende groepe te besleg, sowel as ’n kursus in die gebruik van die waterkanonne wat die polisie tydens oproerige situasies inspan.
Sithole het Vrydag gesê hy is trots op die uitbreiding van die nasionale reserwemag van die eenheid vir openbare orde van die polisie.
“Dit is belangrik om openbare orde in die land te behou sodat Suid-Afrika ’n land is waar almal veilig voel,” het Sithole gesê.