Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Restaurantman haal al self asem ná rooftog
Francois Swart is in ’n kritieke, maar bestendige toestand in die hospitaal nadat hy deur ’n rower met ’n gaspistool geskiet is. Foto: VERSKAF

Francois Swart (21) wat in die nek geskiet is tydens ’n rooftog op Lichtenburg, Noordwes, se toestand is bestendig terwyl dokters nog moet besluit of hy geopereer moet word vir ’n aneurisme.

Sy ma, Christie van Rooyen, het Sondag gesê die asemhalingspyp in sy lugweg kon intussen verwyder word. “Ons wag nou om te hoor van die spesialiste wanneer hulle ’n angiogram kan doen om vas te stel hoe hulle die aneurisme verder moet behandel. Dis so seer om my kind só te sien . . . die emosionele herstel vir almal, maar meestal vir hom, gaan ook ’n pad wees.”

Swart het ná die rooftog Woensdagoggend vroeg reeds ’n operasie van agt uur ondergaan om die skade aan sy slukderm te herstel wat deur een skoot aan flarde geruk is. Die tweede koeël is net onder sy kakebeen in en by sy nek uit. Van Rooyen sê die skote het ’n aneurisme (uitbulting) in een van Swart se nekare veroorsaak.

“Dokters moet nog besluit of hy ’n groot operasie deur sy borskas moet kry om die aneurisme te behandel, en of hulle net ’n stent kan insit. Ek weet God is in beheer, maar die menslike faktor kom ook in en dan dink jy alles wat ’n ma maar kan dink.”

Swart, ’n bestuurder by die Laguna Spur op Lichtenburg, is Woensdag omstreeks 02:00 geskiet toe hy en ’n kollega ná werk koeldrank by ’n vulstasiewinkel gaan koop het. Hy en Jan Louw het hulle daar in ’n rooftog vasgeloop toe hulle wou betaal. Een van die rowers het Swart op ’n kort afstand met ’n gaspistool geskiet. Hulle het sy selfoon en Louw se voertuig gesteel, maar die voertuig is later teruggevind.

Ek weet God is in beheer, maar die menslike faktor kom ook in en dan dink jy alles wat ’n ma maar kan dink.

Swart is van die Lichtenburg-hospitaal na die Mahikeng-hospitaal en van daar na Baragwanath se trauma-eenheid oorgeplaas.

Van Rooyen vertel Swart het sy onderwysstudie gelos om sy droom na te jaag van eendag ’n restaurant besit. “Hy praat al van sy laerskooldae daarvan om ’n restaurant te besit. Hy het ses weke gelede die pos as bestuurder by die Spur op Lichtenburg gekry.”

Swart se ma probeer nou geld insamel dat hy na ’n private hospitaal oorgeplaas kan word. Sy sê haar seun, wat in Pretoria groot geword het, is geliefd onder baie.

Een van die vermeende rowers is ook intussen in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn, het lt.kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, gesê.

Meer oor:  Francois Swart  |  Gewond  |  Rooftog  |  Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.