Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Restaurante in Bfn weer op dreef

Dit is ’n verligting om vir ’n slag weer uit te eet en nie skottelgoed hoef te was nie.

Só het Talita van Zyl van Kimberley Dinsdag gesê toe sy saam met Rudolph Steinmann, haar kêrel, in die ry by die Spur in die Loch Logan Waterfront gestaan het.

Nicola Backenridge, mede-eienaar van die restaurant Bella Casa in Westdene, en Bongani Dyantyi, bestuurder, maak seker alles is reg vir hul klante. Foto: Charles Smith

Hulle is twee van baie klante wat sedert Dinsdag versigtig voor die deure van restaurante en koffiewinkels gewag het om ’n burger, melkskommel of koffie op ’n gesonde afstand van ander te geniet.

“Ek het die geselligheid van uitgaan, bestel, eet en kuier vreeslik gemis,” sê sy.

By die McDonald’s het twee leerlinge hul maskers afgehaal en gesmul aan hul hoenderstukkies.

Larisca Labuschagne, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, sê ná drie maande van inperking is dit baie lekker om weer tussen mense te wees.

Charné Wansbury, haar vriendin, ook in gr. 9, van die Hoër Meisieskool Oranje, sê hoewel sy dit geniet om weer uit te eet, voel sy ’n bietjie benoud.

“Ek is nie meer daaraan gewoond om mense om my te hê nie.”

Die meisies sê dit gaan maar sukkel-sukkel om met ’n masker te eet. Al die werknemers van die restaurant was egter gemasker.

Larisca Labuschagne, ’n leerling aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, kuier in die Bloemfonteinse Waterfront saam met Charné Wansbury van die Hoër Meisieskool Oranje op die eerste dag wat mense weer by ’n restaurant of koffiewinkel kan aansit. Foto: Cheréne Pienaar

Kim Backenridge, eienaar van die Italiaanse restaurant Bella Casa in Westdene, sê sy en haar span is opgewonde en gereed om ondanks al die buitegewone regulasies weer lewe en liefde in hul restaurant te blaas.

“Ons het ons span werknemers en veral ook ons klante baie gemis.”

Backenridge sê hoewel hulle dankbaar is om weer hul deure te kan oop maak, is daar baie dinge wat anders gaan wees.

“Die grootste regulasie wat vir ons sleg is, is die verbied van die verkoop van alkohol saam met die kos.”

Sy sê meeste van hul wins kom uit hul drankverkope, want hoe lekker is ’n glasie rooiwyn nie saam met spaghetti bolognaise nie.

“Ons moes ook die helfte van ons tafels verwyder sodat daar ’n afstand van 1,5 m tussen elke tafel is.”

Die restaurant mag ook nie meer komberse gee vir klante wat koud kry nie, en hulle het die blaaie van al die tafels geverf sodat hulle nie tafeldoeke hoef te gebruik nie en dit dus makliker ná elke ete skoongemaak kan word.

Rolprentteaters in die binneland was Dinsdag gesluit en verlate omdat die eienaars nog nie die besonderhede oor die maatreëls het wat op hulle van toepassing is nie.

Meer oor:  Spur  |  Bella Casa  |  Rudolph Steinmann  |  Talita Van Zyl  |  Kim Backenridge  |  Kimberley  |  Bloemfontein  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.