’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur nadat ’n 33-jarige man glo vanuit sy werkswinkel in Butterworth in die Oos-Kaap ontvoer is.
Schalk van der Merwe is glo Donderdagmiddag deur ses gewapende mans ontvoer nadat hulle sy werkswinkel binnegekom en hom in sy motor gedwing het.
Die polisie in die Oos-Kaap het bevestig Van der Merwe is steeds vermis en die soektog duur voort.

Die vermiste Schalk Van der Merwe. Foto: Facebook
In ’n stemnota wat op sosiale media versprei word, het ’n hoorbaar ontstelde vrou haarself as Alida, die vrou van die vermiste Van der Merwe geïdentifiseer, en ’n pleidooi vir hulp in die soektog gemaak.
“Ek is van Oos-Londen. My man is in Butterworth. Ons het ’n werkswinkel daar. Vyf mense het nou omstreeks 17:00 na die werkswinkel gekom – wel ses mense. Almal met vuurwapens– hulle het hom in sy motor (wit Audi A3) gedwing en is weg met hom,” lui ’n gedeelte van die stemnota.
Met navraag aan Alida het ’n vriendin Vrydagoggend haar foon geantwoord en gesê hulle gaan nie op hierdie stadium enige verklarings aan die media maak nie.
Kapt. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Donderdagmiddag uitgeroep vir ’n ontvoering in die nywerheidsgebied by Butterworth.
Volgens die polisie se inligting was die slagoffer met ’n vuurwapen tot binne-in sy motor gedwing.
Volgens Mawisa was die slagoffer ten tyde van die voorval saam met sy ma (60), wat ongedeerd, maar geskok gelaat is weens die voorval.
Die polisie se voorlopige ondersoek het nog geen sukses opgelewer nie en die soektog duur voort.
Enigeen met inligting kan die Msobomvu-polisiekantoor bel by 047 492 0180, of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.