Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Reusevlag in PE wapper dalk weer eersdaags
Die 60 m hoë vlagpaal staan al langer as ’n jaar sonder ’n vlag in die Donkin-reserwe in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Die wêreld se grootste Suid-Afrikaanse vlag sal na verwagting binnekort weer in Port Elizabeth wapper.

Dié vlag van 12 m x 8 m groot is meer as ’n jaar laas in die Donkin-reserwe gehys nadat die meganiese hyser van die 60 m hoë vlagpaal onklaar geraak het.

“Die vlag het in November 2018 laas gewapper, en dit was net die een uitsteldatum ná die ander,” het Tony Neveling, eienaar van Gecko Tours, wat begeleide toere in die stad aanbied, gesê.

Die Donkin-reserwe is deel van Roete 67, ’n wandelpad wat ontwikkel is om oudpres. Nelson Mandela se 67 jaar van toewyding aan Suid-Afrika te gedenk.

Talle besoekers moet egter teleurgesteld omdraai, want daar is in dié stadium geen vlag nie.

“Die vlag is gewild en mense lees daarvan in die bemarkingsmateriaal. Dit is ’n teleurstelling wanneer hulle daar kom en die vlag is nêrens te sien nie. Dit is ’n baken in die stad en kan van baie plekke af gesien word.”

Luvuyo Bangazi, woordvoerder van die Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap (MBDA), het by navraag gesê die span wat die herstelwerk doen, het verskeie uitdagings gehad nadat die hyser beskadig is en die enjin en meganisme herbou moes word.

“Die meganisme is gereeld versien en die vlag is nege jaar lank gehys totdat dit gebreek het. Dit kan ongelukkig nie vinnig herstel word nie.”

Volgens Bangazi is die MBDA se toelae eers in Desember betaal en dit het hulle genoop om sekere uitgawes af te skaal.

Die vervanging van die meganisme se onderdele is verder vertraag omdat die enjin nie plaaslik vervaardig is nie en op die onderdele van oorsee gewag is.

Bangazi het gesê die hyskabel is reeds uitgehaal en die nuwe meganisme en ratkas is teruggesit.

“Sodra ’n hyskraan gehuur word, sal die kabel en hystoestel ingesit word.”

Afhangende van die weerstoestande, sal die hyskraan Woensdag met die installering begin.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Donkin-Reserwe  |  Sa Vlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.