Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rian se mond kry hom (weer) in die sop op radio
Rian van Heerden Foto: Felix Dlangamandla

Rian van Heerden, bekende omroeper van Jacaranda FM, is vir ’n week van die lug af gehaal nadat hy hom vir ’n luisteraar vererg en dié ’n “dom d**s” genoem het in ’n telefoniese gesprek oor die radio.

Die voorval het Vrydagmiddag tydens Van Heerden se program The Scenic Drive gebeur toe ’n luisteraar na onder andere Van Heerden as ’n “moffie” verwys het.

“Kan julle f****n moffies oor iets anders praat hierdie tyd van die dag, asseblief?” het die luisteraar in ’n SMS aan die radiostasie gevra.

Van Heerden het die man op die lug gebel en hom oor sy boodskap uitgevra.

“Ek weet net nie hoekom ons oor al hierdie goed hierdie tyd van die dag moet praat as die kinders luister nie,” het die man geantwoord.

Van Heerden vra dan: “So, wat is die probleem as die kinders luister?” Waarop die man reageer: “Wil julle hulle nou indoktrineer oor sekere goed?”

Van Heerden vaar daarna uit teenoor die luisteraar omdat hy die woord “moffies” in sy boodskap gebruik het en vra die man waarom hy nog na hom oor die radio luister.

Die man antwoord dan dat Jacaranda FM “eintlik ’n baie goeie stasie” is.

“Hoe lank is ek al op die lug, jou blerrie ignorant b*st*rd? Jy, my ou maat, is ’n dom d**s. Verstaan jy?” sê Van Heerden dan.

Hy vra dan die man om nie meer na hom te luister nie en die man stem daartoe in. Die foonoproep word dan beëindig.

Van Heerden het daarna op die lug om verskoning gevra vir sy “kru taalgebruik”.

“Jammer, die woorde het uitgeglip maar hy ís een (’n dom d**s). Ek kon nie aan ’n ander term dink om te gebruik nie. Ek vat volle verantwoordelikheid vir wat kom.”

Die luisteraar het die SMS gestuur in reaksie op Van Heerden se radio-onderhoud met die akteur Earl Gregory oor sy rol in die gay- romantiese komedie No Hiding Here op Showmax.

Gregory het onder meer gepraat oor sy ervaring daarvan ’n man te soen terwyl die kameras rol.

“Dit was die dapperste ding wat ek nog moes doen omdat Suid-Afrika steeds konserwatief is,” het Gregory in die onderhoud gesê.

Jammer, die woorde het uitgeglip maar hy ís een (’n dom d**s). Ek kon nie aan ’n ander term dink om te gebruik nie. Ek vat volle verantwoordelikheid vir wat kom.

Jacaranda FM het die gebeure bevestig.

“ ’n Deel van ons verantwoordelikheid teenoor ons luisteraars is om onverdraagsaamheid uit die weg te ruim as dit sy lelike kop op ons platforms uitsteek. Jacaranda FM koester diversiteit en dialoog wat alle vorme van diskriminasie bestry, insluitende dié gegrond op seksuele oriëntasie en geslagsidentiteit,” sê Hennie Myburgh, programbestuurder van Jacaranda FM.

“In ’n ongelukkige woordewisseling tussen Rian van Heerden, aanbieder van Jacaranda FM se The Scenic Drive, en ’n luisteraar, word Rian as ’n ‘moffie’ bestempel. Die aanbieder het gereageer deur onaanvaarbare taal te gebruik soos deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaiklagtekommissie gedefinieer.”

Myburgh het bevestig dat Van Heerden vandeesweek van die lug af is en volgende Maandag (8 Maart) sal terugkeer.

“Danny Painter staan vir Rian in terwyl ons die probleem saam met die Uitsaaiklagtekommissie oplos.”

Shouneez Martin, registrateur van die Uitsaaiklagtekommissie, het bevestig dat vyf klagtes ontvang is oor die gebruik van die woord “d**s”. Hy kan egter nie in hierdie stadium daaroor kommentaar lewer nie.

“Wat gebeur het, het gebeur – en ek neem volle verantwoordelikheid daarvoor,” het Van Heerden Woensdagoggend by navraag aan Netwerk24 gesê.

Hy het verdere navrae na die radiostasie verwys.

Van Heerden het ook die Saterdagoggend ná die voorval die volgende op sy Facebook-blad geskryf:

Het haat al ooit gelei tot een goeie ding in hierdie wêreld? Het dit al ooit een persoon se lewe beter gemaak? Now imagine living in a world where every movie, TV show, magazine, advert, mall, beach and street reminds you that you are not normal. That who you love or just even like is not normal. Would you eventually hate yourself too?

Ons as gay mense se lewe is nie maklik nie. Probeer verstaan. Asseblief.

What I said yesterday on the air has been said. I take responsibility. But I have had enough of bigotry.

Ander voorvalle waar Van Heerden in die pekel was

Netwerk24 en ander media het al oor ander voorvalle berig wat Van Heerden in die moeilikheid laat beland het.

Hier volg ’n paar daarvan:

• “Jy is breindood. Gaan boek jouself in by die Nuwe Hoop-skool (vir leerlinge met spesiale behoeftes)!”, het Van Heerden destyds by Jacaranda FM in “ ’n oomblik van woede” op ’n luisteraar gereageer. Hy is daarvoor beboet en het later erken hy is spyt oor die uitlating, is vroeër berig.

• Van Heerden is ’n klompie jare gelede by die stasie 702 afgedank oor ’n uitlating wat hy gemaak het. Hulle was aan die gesels oor die Bulle se rugbywedstryd daardie Saterdag en hy het opgemerk dat die Bulle deesdae regtig cr*p rugby speel. ’n Vrou van Houghton, Johannesburg, het hom onmiddellik gebel: “How dare you use the c-word on the radio?” Hy het aan haar probeer verduidelik dat dit eenvoudig die waarheid is en dat cr*p nie ’n lelike woord is nie.

“Sy het summier die foon in my oor neergegooi en kort daarna het ek my gewraakte woorde gespreek. Op regsadvies sal ek dit liewer nie hier herhaal nie, maar dit het daarop neergekom dat die verkramptes almal ’n guns sal doen as hulle hul suurstofmasjiene afskakel,” het hy in 2017 in ’n meningstuk op Netwerk24 geskryf.

• Die Blou Bulle Maatskappy het in 2004 vir Van Heerden as sy stadionaankondiger afgedank nadat hy tydens ’n Super 12-wedstryd op Loftus Versveld neerhalende opmerkings teenoor die Waratahs gemaak het, het die SAUK destyds berig. Hy het na die Australiese rugbyspan as sheep rooters verwys.

Van Heerden is ook twee seisoene voor hierdie voorval afgedank toe hy soortgelyke aanstootlike opmerkings in Afrikaans aan besoekende spanne gerig het, het News24 berig.

• Die Mail & Guardian  het in 2006 berig dat Van Heerden die jaar tevore R50 000 in skadevergoeding moes opdok nadat hy aan sy luisteraars by Punt Radio gesê het om te “k*k op die bonnet van (ene) Catherine Myburgh se kar”. Iemand het dit toe wel gedoen.


Meer oor:  Rian Van Heerden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.