’n Riviergids wat die naweek tydens ’n begeleide binnebandry-aktiwiteit op die Stormsrivier in die Tuinroete Nasionale Park verdrink het, is geïdentifiseer.

Bramwell Anthony Damons Foto: Facebook
Hy is Bramwell Anthony Damons (31), sê sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, by navraag.
Volgens Nkohli doen die polisie ’n geregtelike doodsondersoek.
Na verneem word het Damons gewerk vir ’n konsessie van Sanparke wat wateraktiwiteite in die park aanbied.
Luidens ’n vroeëre verklaring van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is hy en die polisie Saterdagaand oor die ongeluk ingelig.
Twee riviergidse was saam met sewe gaste vermoedelik elk op sy eie binneband op die rivier, toe hulle nie betyds by die eindpunt aangekom het nie. Die owerhede se hulp is ingeroep om na hulle te help soek.
Die reddingspan het die groep mense gekry op hul bymekaarkomplek, maar net agt van die nege mense was daar. Dit het geblyk een van die gidse (Damons) het stroomop in die water geval. Die groep mense het hom uit die water gehaal en probeer bybring. Hulle moes toe sonder hom na die bymekaarkomplek teruggaan.
Volgens die NSRI is Damons se lyk Sondagoggend deur die NSRI van Oesterbaai, die polisie en sy duikeenheid en Sanparke se personeel gevind op die plek waar die mense hom uit die water gehaal het.
Die konsessie, Black Water Tubing, is Maandag om kommentaar genader, maar sê hy is nie in ’n posisie om kommentaar te lewer nie en het navrae na die NSRI verwys.
Volgens Damons se Facebook-blad is hy oorspronklik van Port Elizabeth.
• Op 25 Maart 2000 het 13 mense verdrink toe hulle op binnebande op die Stormsrivier gevaar het en hulle deur ’n fratsvloed getref is.