Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Robbe laat redders bontstaan

Minstens sewe robbe wat sedert verlede Vrydag aan die kusgebied van Groot-Brakrivier tot Boggomsbaai anderkant Mosselbaai uitgespoel het of gewaar is, het lede van Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) behoorlik laat bontstaan.

Drie robbe is Vrydag na die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth geneem. “Baie pikkewyntjies spoel ook tans op die strande uit en ons vra mense om Smart of Saprec, die seevoël-en-pikkewynrehabilitasiesentrum in Mosselbaai, te skakel,” sê Tersia Marais van Smart, ’n organisasie wat hom beywer vir die red en bewaring van seediere.

Een van die sub-antarktiese pelsrobbe vroeër in die Hartenbos-dierehospitaal. Foto: Christie de Graaff

Verlede Vrydag het Smart ’n oproep gekry oor ’n rob wat in die moeilikheid by Glentana is. Die rob is gevang en veearts toe geneem, maar is kort daarna dood.

Daarna is Smart in kennis gestel van ’n rob wat by Nautilusbaai in toue verstrengel en beseer is. Die rob is ook veearts toe geneem, waar hy dood is.

Maandag is Smart ingelig oor ’n klein rob by Hartenbos, wat net dopgehou is. Dinsdag is ’n rob by Reebok opgemerk, maar hy kon nie gevang word nie.

By Gourits is ’n rob dopgehou wat Vrydag weer terug see toe is. Woensdag is ’n sub-antarktiese pelsrob by Suiderkruisstrand op Groot-Brakrivier gevang, en nog een is op Boggomsbaai deur die Fransmanshoek-bewarea gevang. Die twee is na Smart se veearts, dr. Frans de Graaff van die Hartenbos-dierehospitaal, geneem waar hulle aangesterk het.

Dié twee is Vrydag na Bayworld in Port Elizabeth geneem waar hulle gerehabiliteer en later vrygelaat sal word.

Nog ’n gewone Kaapse pelsrob genaamd Dusk van Gouritsmond wat ook by De Graaff aangesterk het, is ook na Bayworld geneem. “Dusk is so twee weke gelede op Gouritsmond gekry,” sê Marais. “Sy was baie maer, maar het goed gewig opgetel nadat sy behandeling gekry het.”

Dusk sal ook later vrygelaat word.

Bel Smart by 072 227 4715 of Saprec by 082 364 3382.

Meer oor:  Smart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.