Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rocky nét so ’n uithouer soos Stallone-karakter

’n Negejarige Duitse herdershond wat vier maande ná sy verdwyning uiteindelik met sy mense-ouers herenig is, is sy eerste aand tuis met heerlike kos, hondehappies en baie liefde bederf.

Waar hy was en hoe hy deur die hartjie van die winter oorleef het, bly ’n raaisel. Maar soos die gelyknamige karakter in die Sylvester Stallone-flieks het nóg Rocky nóg die gemeenskap van Middelburg moed opgegee.

Rocky, die Duitse herdershond, en Apollo, ’n Labrador-kruising, het op 5 Junie spoorloos verdwyn. Apollo het twee weke later teruggekeer huis toe, maar Rocky is eers ná vier maande uiteindelik met sy maat en mense-ouers herenig. Foto: Facebook/Middelburg Diere: Verlore of Gevind

Janine Johnson kon nie glo hul hondekind is gevind nadat hy en Apollo, ’n eenjarige Labrador-kruising, op ’n manier by die erf uitgeglip het nie.

Haar man, Wayne, het op 5 Junie vroegoggend opgemerk dat die honde nie tuis is nie.

Foto’s van Rocky en Apollo is op Facebook gedeel in ’n poging om hulle op te spoor.

Ná vier maande is Rocky uiteindelik weer by die huis. Angelene Kolver het hierdie foto van hom buite haar huis in Dennesig geneem. Foto: Verskaf

Nie lank daarna nie het iemand die egpaar laat weet dat hulle vir Rocky by ’n plaas nie ver van die huis af nie gesien het en hulle is onmiddellik soontoe.

Met hul aankoms was daar egter geen teken van die groot swart en bruin hond nie.

Dit was die begin van ’n vier maande lange soektog na Rocky wat elke keer in ’n doodloopstraat sou eindig. Apollo het intussen ná net twee weke, maar sonder sy beste maat, by die huis opgedaag.

Rocky die Duitse herdershond was baie dors en honger toe hy ná vier maande uiteindelik opgespoor is. Foto: Facebook/Middelburg Diere: Verlore of Gevind

Die Johnsons sou daagliks terugkeer na die plaas en in die omgewing rondry om na hul hond te soek. Die gemeenskap is ook via die plaaslike koerant en radio van Rocky se verdwyning verwittig en gevra om vir hom uit te kyk.

Twee maande ná sy verdwyning is ’n soekgeselskap gevorm met sowat 30 mense wat ’n groot gebied in die Dennesig-omgewing gefynkam het, maar Rocky was net mooi nêrens.

“Ons het moed verloor, want ons het gesoek en gesoek. Ons kon hom net nie kry nie en niemand het hom weer gesien nie,” sê Johnson.

Die gemeenskap van Middelburg het onverpoos na Rocky gesoek nadat hy vir vier maande vermis was. Hy is uiteindelik gevind en terug by sy mense. Foto: Facebook/Middelburg Diere: Verlore of Gevind

Sy was nie baie hoopvol nie toe inwoners van Dennesig haar Donderdagoggend met die nuus bel dat daar ’n Duitse herdershond buite hul erf is wat net soos Rocky lyk.

Angelene Kolver en haar kêrel bly oorkant ’n veld sowat een kilometer vanaf die Johnsons se huis.

Sy vertel dat sy die hond al die Woensdagaand buite by hul hek opgemerk het, maar dat hy toe weggeloop het.

Rocky het buite Angelene Kolver se huis in Dennesig, Middelburg, gesit. Foto: Verskaf

Hy was die volgende oggend omstreeks 07:25 terug. Die paartjie het egter nie die hek vir hom oopgemaak nie, omdat hulle self honde en katte het en nie geweet het of hy aggressief is nie.

“Hy wou by die erf inkom en het teen die hek opgespring en getjank. Ek het stadig nader geloop en hom deur die hek begin vryf om te kyk of hy vriendelik is,” sê Kolver.

Hulle het ook vir hom drie bakke kos gegee wat hy alles opgevreet het.

Kolver het die hond van iewers af herken en op Facebook na die plasing oor die vermiste hond gesoek en die nommers geskakel.

Rocky buite Angeline Kolver se erf die Donderdag wat hy terug aan sy mense besorg is. Foto: Verskaf

Johnson was in daardie stadium op kantoor en nie seker of dit net nog ’n doodloopstraat sou wees nie. Sy het tog maar ’n vriendin gevra om te gaan kyk of dit Rocky is en indien wel, om hom saam met haar te neem.

“Toe is dit hy! Ná soveel maande was dit nogal ’n skok,” sê Johnson.

“Hy was vreeslik opgewonde om haar te sien. Hy het sommer by haar bussie ingespring, soos hy altyd doen.

“Dit is baie snaaks dat hy net eendag opgedaag het in dieselfde omgewing waar die soekgeselskap was.”

Volgens Johnson is Rocky uitgeken aan die ekstra toon aan een van sy pote.

Sy menspa het hom veearts toe geneem. Behalwe dat hy verskriklik maer en baie honger en dors was, was hy piekfyn. Ná ’n paar inentings is Rocky weer terug by die huis saam met Apollo.

“Apollo het hom vreeslik baie gemis en elke dag vir hom gehuil. Daai hond kyk op na Rocky asof hy sy pa is – hulle is onafskeidbaar,” sê Johnson.

Sy bedank almal wat onverpoos na Rocky help soek het.

Meer oor:  Middelburg  |  Tuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.