Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cyril stel Roelf as gesant aan
Roelf Meyer

’n Kwarteeu nadat hulle die sleutelfigure in die destydse Kodesa-onderhandelinge vir ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika was, het pres. Cyril Ramaphosa vir Roelf Meyer aangestel as een van sy spesiale gesante om te help met die vredesproses in Madagaskar.

Die ander gesant is Ebrahim Ebrahim, ’n vorige adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Meyer het dit Donderdag bevestig.

Ramaphosa, wat destyds die ANC se onderhandelingspan gelei het, en Meyer, wat aan die hoof van die Nasionale Party-regering se onderhandelingspan was, het jare gelede saam en individueel gehelp om die vredesproses in Noord-Ierland aan die gang te te kry.

“Ek en my maatskappy het ’n paar jaar gelede, toe Gert Grobler nog die ambassadeur in Madagaskar was, betrokke geraak by die voortslepende politieke probleme daar.

“So ’n maand of wat gelede toe die situasie daar weer begin versleg het, het ons vir Lindiwe Sisulu (die minister van internasionale betrekkinge en samewerking) gaan spreek om haar op die hoogte te bring van wat aangaan.”

Geweld het in April in dié land uitgebreek. Vier mense is in dié geweldpleging dood.

“Sy (Sisulu) het pres. Ramaphosa gekontak en hy het ons (Meyer en Ebrahim) as sy spesiale gesante aangestel.”

Hoewel Ramaphosa die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is, tree Meyer en Ebrahim as spesiale gesante van Suid-Afrika op, en nie van die SAOG nie.

Die situasie in Madagaskar, wat die laaste vyf jaar versleg het, is ’n groot kopseer vir die SAOG en die Afrika-kommissie wat ook ’n spesiale gesant daar het.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Dan Xangaza

Oudpres. Joachim Chissano van Mosambiek was in ’n stadium as die SAOG se gesant in Madagaskar betrokke.

Meyer en Ebrahim was die afgelope maand al keer saam met Sisulu in Antananarivo, die hoofstad, om daar met die strydende partye te gaan bemiddel.

Meyer glo Sisulu se teenwoordigheid het ’n groot rol gespeel om “redelike vrede” te bewerkstellig.

Madagaskar se pres. Hery Rajaonarimampianina het vandeesweek in opdrag van dié land se konstitusionele hof ’n kabinet saamgestel wat ook verteenwoordigers van opposisieparty insluit.

Die samestelling van die kabinet moes die onderskeie partye se steun in die vorige verkiesing in 2013, weerspieël.

Christian Ntsay, ’n tegnokraat wat lank vir die Verenigde Nasies en die Internasionale Arbeidsorganisasie gewerk het, is as die premier aangewys. Hy het geen politieke bande nie, maar geniet die steun van al die partye.

Rajaonarimampianina, Marc Ravalomanana, wat van 2002-2009 die president was, Andry Rajoelina, wat Ravalomanana se bewind in ’n staatsgreep omver gewerp het, is die drie groot rolspelers.

Ravalomanana  was later vir lank in ballingskap in Suid-Afrika.

Madagaskar se konstitusionele hof het gelas die verkiesing moet in die land se droë seisoen – dus voor September – plaasvind.

“Omdat meningspeilings nie in Madagaskar toegelaat word nie, is dit baie moeilik om te sê wie die meeste steun geniet,” sê Meyer.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Roelf Meyer  |  Madagaskar  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.