Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Roerende huldeblyke vir Allison Plaatjies

Die familie en vriende van die onderwyseres Allison Plaatjies wat in Oktober vermoor is, het Saterdag van haar afskeid geneem op haar begrafnis in Swellendam.

Honderde roubeklaers het by die St. Lukes Anglikaanse-kerk in Swellendam opgedaag en huldeblyke het ingestroom.

Allison Plaatjies se kis is versier met sierskrif en blomme. Foto: Verskaf

“Sy was ongetwyfeld ’n liefling dogter, ’n liefling suster, ’n liefling kleindogter, ’n liefling familielid, ’n liefling vriendin en by uitstek ’n liefling onderwyseres vir Sederberg Primêr in Clanwilliam aan die Weskus waar sy skool gegee het vir die laaste paar maande,” sê Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Rural and Farmworkers Development Organisation, in ’n verklaring.

“Allison was deel van die mense in die gemeenskap wat ’n verandering in ander se lewe wou bewerkstellig. Inderdaad was sy saam met ons in die stryd om die omstandighede van ons mense te verander aan die Weskus,” sê hy.

Die staat voer aan dat Philip April, Allison Plaatjies se ekskêrel, haar doodgesteek en ook haar keel afgesny het.

Hulle het mekaar sowat drie jaar gelede op die Mowbray-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) ontmoet. Albei was toe onderwysstudente.

Roubeklaers dra Allison Plaatjies se kis.Foto: Verskaf

Woensdag het April in die landdroshof in Clanwilliam op aanklag van moord met voorbedagte rade, motordiefstal en regsverydeling verskyn.

Die staat voer aan dat April sy meisie van 30 maande met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n mes, doodgesteek het. Haar lyk is op 27 Oktober omstreeks 19:00 in haar woonstel in Katjiepieringstraat, Clanwilliam, met veelvoudige steekwonde gevind.

Allison Plaatjies Foto: Facebook

’n Roudiens is ook Donderdag by dieselfde kerk in Swellendam gehou.

“Wanneer familie en vriende iemand so skielik verloor en jy sien die lewelose liggaam wat ’n paar dae gelede nog die spontane, liefdevolle, mens was, dan besef jy daar is maar net een tree tussen jou en die dood.

“Om iemand vir wie jy so baie lief het te verloor en te groet is seker die seerste groet vir almal. Die hartseer is egter ’n realiteit en slegs die Heilige Gees, die Trooster, kan ons in sulke tye die krag gee en vertroos,” sê Claasen.

By Plaatjies se graf is duiwe vrygelaat as ’n simbool dat haar siel ook vrygelaat is.

“’n Mens voel so magteloos,” sê Claasen. “Hoeveel vroue moet nog sterf? Nie lank terug nie het ons ’n nasionale depressie beleef met die vlaag van moorde op vroue en kinders. Hier dink ons aan Uyinene Mrwetyana, Jessie Hess en Leighandre “Baby Lee” Jegels, en so kan ons aangaan.

“Dit het die land in byna ongekende solidariteit laat saamstaan teen geslagsgeweld. Die tragiese en wrede moord van Allison laat ons egter met helder nugterheid besef dat ons baie meer sal moet doen om die situasie om te keer, om ons kinders en vroue die sekuriteit te bied wat hulle verdien, en waarop hulle geregtig is.”

Allison Plaatjies is Saterdag begrawe. Foto: Verskaf
Meer oor:  Allison Plaatjies  |  Swellendam  |  Clanwilliam  |  Roudiens  |  Onderwyser  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.