Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Roerende laaste onderhoud met Chester

Die span van die Via- en Netwerk24-rugbyprogram Groen en Goud, wat vandeesweek ’n onderhoud met die oud-Springbok-vleuel Chester Williams gevoer het, sê hulle het met skok van sy dood verneem.

Williams is Vrydagmiddag kort voor 18:00 aan ’n hartaanval dood.

Cecil Barry, uitvoerende vervaardiger van die program, sê hul span het Maandag met Williams gaan gesels en volgens die span was dit ’n besonderse onderhoud.

“Ek was nie self daar nie, maar ons span het blykbaar ’n ongelooflike onderhoud met hom gevoer. Dis baie hartseer dat hy net so skielik gesterf het. Volgens die span was daar geen aanduiding dat hy siek was, of dat hy swaargekry het nie,” het Barry gesê.

Die oud-Springbok-vleuel Chester Williams Maandag saam met Anton Smal van die Groen en Goud-span.

Anton Smal, die vervaardiger van die program wat deel was van die span wat Maandag die onderhoud met Chester by sy huis in Plattekloof gevoer het, sê die nuus het hulle onkant gevang.

“Hy het perdfris en gesond gelyk. Dit was ’n goeie onderhoud en ons is almal verskriklik geskok dat hy so skielik dood is.”

Smal sê Chester het so aktief, fiks en besig gelyk dat dit sy verstand te bowe gaan dat hy ’n paar dae later gesterf het.

“Ek het juis opgemerk dat hy so goed, gesond en aktief lyk vir sy ouderdom. In hierdie donker tyd is ons medelye met sy vrou, Maria, wat ná al die jare steeds net bewondering en liefde vir haar man gehad het.”

Smal sê hy het lanklaas iemand teëgekom wat hul eggenoot so liefhet.

“Sy praat altyd met bewondering van hom en was duidelik sy steunpilaar.”

Die oud-Springbok-vleuel Chester Williams Maandag saam met Kobus Zietsman van die Groen en Goud-span.

Kobus Zietsman, die inhoudsregisseur van Groen en Goud, sê wat hom sal bybly, is die versameling foto’s wat in Chester se voorportaal hang.

“Die oorgrote meerderheid van die foto’s is van sy vrou en kinders, foto’s wat Chester self gehang het, wat ’n storie vertel van ’n pa en man wat geweldig lief en trots is op sy gesin!”

Zietsman sê wat verder uitgestaan het in die onderhoud was die belangrike rol wat Chester in Madiba se visie van nasiebou as die enigste speler van kleur gespeel het en sy stigting se werk wat teruggeploeg het in die gemeenskap.

Intussen het die Via-span gesê hulle hoop om so spoedig moontlik die onderhoud met Chester Williams te redigeer sodat hulle dit met Via-kykers kan deel.

“Die span is reeds hard besig om die onderhoud te redigeer. Ons is almal diep geskok en ons hoop dat die onderhoud soos ’n huldeblyk aan Williams sal wees,” het Barry gesê.

Volgens Williams se vrou, Maria, het hy saam met hul kinders van die gimnasium af by die huis aangekom en gekla oor drukking op sy bors. Hy het haar gevra om hom hospitaal toe te neem.

“Ek het hom agter in die motor gelaai en na die ongevalle van die Panorama-kliniek geneem,” het sy gesê.

* Die spesiale uitsending van Via en Netwerk24 se rugbyprogram Groen en Goud oor Chester Williams sal op Vrydag 13 September om 17:30 op Via, DStv-kanaal 147, uitgesaai word.

Meer oor:  Chester Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.