Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rolene Strauss weer ’n Kovsie
Rolene Strauss is gereed om weer medies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer. Foto's: Conrad Bornman

Ná ’n jaar van roem, prag en glans draf die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss weer klas op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die dryf en passie om ander te help, is allermins geblus, maar dit is volgens haar nou eers belangrik om haar mediese studies te voltooi.

“Ek wil nou weer na normaal terugkeer en graag my mediese studies (aan die Universiteit van die Vrystaat) voltooi,” sê sy.

Ná ’n jaar waarin sy as Mej. Wêreld in 2014 oor die wêreld heen gereis het, lê daar nou ’n paar uitdagings vir haar voor.

“Die grootste aanpassing is dat ek nie meer in dieselfde jaargroep is as voor Mej. Wêreld nie.”

Al haar klasmaats het verlede jaar hul studies voltooi en is klaar dokters.

“En dan moet ek weer begin leer. Die brein is ’n leerspier wat nou weer fiks gemaak moet word, so ek moet nou weer in daardie roetine kom.”

Al was sy ’n jaar lank die mooiste vrou in die wêreld, hanteer haar klasmaats, dosente en pasiënte haar nie anders nie.

“Hulle almal doen baie moeite om my weer ‘normaal’ te laat voel. Ek voel glad nie selfbewus nie.”

Haar oë glinster amper net so helder soos die ring aan haar vinger wanneer sy oor haar planne ná Mej. Wêreld praat.

D’Niel Strauss, ’n sakeman en die liefde van haar lewe vir die afgelope vier jaar, is die gelukkige man wat haar in Februarie sy vrou sal kan noem.

Hul families het onlangs saam die Strauss Foundation op die been gebring.

“Albei ons families hou van teruggee. En ons almal is Strauss’e.” Sy lag.

“Dit maak darem die admin ’n bietjie makliker.”

Deur dié organisasie wil hulle aan mense teruggee deur meer op gesondheid te fokus.

“Ons wil ’n mediese sentrum stig waar ons mense kan help – dit is die plan.

“Ons wil graag in ’n meer professionele rigting gaan. Maar eers wil ek my studies klaarmaak.”

Alles wat sy in haar kroningsjaar geleer het, help haar om vandag met ander oë na pasiënte te kyk.

“Ek het meer simpatie met die pasiënte. Ek dink groter en aan meer as net die siekte. Ek dink ook nou aan hul menswees en hul omstandighede.”

Om Mej. Wêreld te kon wees maak dinge ook “effens makliker” met die Strauss Foundation.

“Meer mense sal luister as ek praat en meer mense sal die Strauss Foundation se werk as belangrik ag.”

Deur haar nuwe Rolene Strauss-webtuiste, wat binnekort aanlyn sal wees, sal sy ook meer van haarself aan mense van regoor die wêreld kan gee.

“Ek wil alles met mense deel: Van my werk tot my troue. Ons is nie aan enige tydskrif verbonde nie, so ons troustorie sal op my webtuiste gedeel word.”

As alles goed gaan, is sy in 2017 dr. Rolene Strauss met ’n man en hul eie huis.

“Ek sien baie uit daarna. En al gaan ek nog swot nadat ons getrou het, is die plan dat D’Niel elke naweek Bloem toe sal kom sodat ons mekaar gereeld sien en ek op my studies kan fokus.

“Sonder sy en my familie se ondersteuning sou niks hiervan moontlik gewees het nie.”

Meer oor:  Rolene Strauss
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.