Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rolprentman was te naby – kameelperd nie doodgemaak

Die veelbekroonde rolprentfotograaf Carlos Carvalho se begeestering om ’n kameelperd van naby te verfilm, het hom sy lewe gekos.

Carvalho is Woensdag dood nadat ’n kameelperd hom by die Glen Afric Country Lodge met die kop gestamp het, sê Richard Brooker van die lodge.

Die Brooker-familie besit dié lodge naby Broederstroom in Noordwes waar wildlewe-tonele al vir sowat 30 jaar vir plaaslike en internasionale advertensies en rolprente geskiet word.

Gerald in volle glorie – net ’n swaai van sy kop het Carlos Carvalho se dood veroorsaak. Foto: Verskaf

“Toe Carlos voor die kameelperd staan om hom te verfilm, het die dier wydsbeen gaan staan, sy nek afgebuig en sy kop na Carlos geswaai,” het Brooker Vrydag gesê.

“Hy het Carlos teen die kant van die gesig getref. Carlos het dadelik geval en was bewusteloos.”

Carvalho is per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem, waar hy later dieselfde aand aan sy kopbeserings dood is.

“Sy vrou is in ’n toestand, sy het ná die ongeluk dadelik van hul huis in Port Elizabeth hierheen gevlieg,” sê Brooker.

Gerald, die kameelperdbul wat Carvalho gestamp het, sal soos altyd op die lodge aanbly en vryelik kan wei. “Hy het niks verkeerd gedoen nie, hy het net sy gebied beskerm,” sê Brooker. “Dit was ’n tragiese ongeluk en dit was die eerste keer dat so iets by ons gebeur. Ons harte gaan uit na Carvalho se familie.”

Brooker se ma, Vicky, sê hulle het Woensdagmiddag ’n “maklike” toneel verfilm waar Gerald die kameelperd iets in die pad gevreet het.

“Ons het die filmspan soos altyd vooraf baie duidelik met ’n luidspreker gewaarsku om nié naby die diere te kom nie. Ons raak nie aan hulle nie. Ons sit kos neer en hulle kom vreet dit en loop weer weg na hul woon- en weigebied soos hulle wil.

Carlos Carvalho is dood nadat ’n kameelperd hom met sy kop gestamp het. Foto: Facebook
Gerald die kameelperd op die Glen Afric Country Lodge naby Broederstroom in Noordwes wat Carlos Carvalho met die kop gestamp het. Foto: Verskaf

“Gerald het ná die padtoneel self weggeloop. Intussen het Carlos wye skote van ’n voertuig af in die pad verfilm. Gerald het later weer nader aan die skiettoneel, agter ’n bos in, beweeg.”

Vicky sê Carvalho, wat al vir nege jaar tonele op die lodge verfilm, “het teen sy karakter in” die voorgeskrewe reëls oortree en te naby aan die kameelperd gegaan – net sowat ’n meter weg van die dier.

“Dit was glad nie eens deel van die amptelike verfilming nie. Ons vermoed Carlos het homself in die oomblik verloor in sy begeestering om die dier van so naby te kon verfilm.”

Vicky sê die kameelperd het Carvalho nie aangeval nie. “Hy het doodstil gestaan en Carlos net met ’n stadige swaai van sy kop uit sy onmiddellike ruimte probeer kry.”

Vicky sê hulle het die nodige lisensies wat vereis word om diere te verfilm. “Ons het ’n baie goeie reputasie.”

¦ Carvalho is onder meer vereer vir die verfilming van die rolprent The Forgotten Kingdom waarvoor hy in 2013 en 2014 pryse op onderskeidelik ’n filmfees in Londen en by die Africa Movie Academy Awards ontvang het. Die rolprent handel oor ’n jong man in Afrika wat sy pa, van wie hy vervreem was, moet gaan begrawe.

Carvalho het sedert 1999 verskeie pryse vir sy verfilming ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.