Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rommel-held sê hy wil nou skole bou

Die Kovsie-student wat kitsroem behaal het nadat hy aanhou vullis optel het wat werkers daar gegooi het, se projek vir ’n skoner, beter Suid-Afrika het maar pas eers begin.

Eckhard Binding (21) en sy pa, Hagen (56), tydens ’n kuiertjie by die Uniegebou saam met Rapport. Foto: Deon Raath

Die video op Facebook van Eckhard Binding (21) wat rommel in ’n asblik gooi terwyl twee vroue in rooi EFF-hemde dit weer en weer uitgooi, is nou al meer as drie miljoen keer gekyk.

Gekontrakteerde skoonmakers by die Universiteit van die Vrystaat het verlede Vrydag betoog om permanent aangestel word. Hulle het tafels, stoele en asblikke omgegooi.

Midde-in hierdie chaos het Binding instinktief gereageer.

Jy hoef nie uit jou pad te gaan of vreeslik moeite doen om te help nie.

“Ek was gefrustreerd en ongelukkig. Ek het gevoel iemand moes iets doen. Toe begin ek maar skoonmaak. ’n Vriend, Donel Smith, het my vir ’n ruk gehelp, maar hy moes klas toe,” sê Eckhard.

“Ek het gedink as ek net daarmee begin, gaan ander studente sien wat ek doen en begin help. Vuil en skoon het mos nie velkleure nie. Toe ek weer sien, is die betogers en die politicians kwaad vir my.

“Ek het my nie aan hulle gesteur nie en net aanhou skoonmaak. Ek het geweet iemand sou in hierdie stare-off verloor. En ek het geweet ék sou nie die een wees wat wegkyk nie,” sê Eckhard.

Verlede Vrydag op die Kovsie kampus was nie die eerste keer wat Eckhard Binding (21) ’n openbare spasie in Bloemfontein skoongemaak het nie en hy wil die beloning-geld wat hy nou van reg oor die land aangebied word gebruik om mede-Suid-Afrikaners te help. Foto: Deon Raath

Die storie eindig egter nie met die video nie.

“Ek het daardie laaste papiere en goed klaar opgetel, en toe deur die mense weggestap en dit in ’n ander asblik gaan weggooi. Niemand het dit daar uitgehaal nie.”

Sy pa, Hagen (56), sê Eckhard se skoonmaak-gier is nie ’n nuwe ding nie.

Rapport het die pa en seun by die Uniegebou in Pretoria ontmoet.

“Hy maak al van kleins af oral skoon. Verlede Junie toe die Bokke teen Engeland in Bloem gespeel het, was hy een van 15 vrywilligers wat ’n deel van Nelson Mandela­rylaan gaan skoonmaak het. Hulle wou hê besoekers moes ’n skoon stad binnery vir die rugby.”

’n Skermgreep van die video op YouTube wat Eckhard Binding amper oornag een van die bekendste studente in die land gemaak het.

Eckhard, ’n derdejaarstudent in bank- en beleggingsbestuur, stap langs sy pa en buk kort-kort om papiertjies op te tel.

“Jy hoef nie uit jou pad te gaan of vreeslik moeite doen om te help nie. Jy kan mos op pad na jou bestemming skoonmaak. Kyk hoe lyk dit hier en kyk hoe baie mense is hier. As almal net een papiertjie opgetel het . . .”

In kommentare onderaan die skoonmaakvideo het wildvreemdes vir Eckhard dankbetuigings, geld en selfs ’n beurs aangebied.

’n Moslem-man wat nie sy naam genoem wou hê nie, het selfs aangebied om Eckhard se hele derdejaar te betaal.

“In my geloof mag ons nie ’n goeie daad doen en mense dan daarvan vertel nie,” het die man verduidelik.

Eckhard wil die geld wat mense skenk, gebruik om ’n stigting, Start Talking SA, op die been te bring. “Ons moet mekaar beter verstaan,” verduidelik hy.

Met sy stigting wil hy onder meer kort dokumentêre prente maak oor teer sake soos verlede Vrydag se protes.

“Ons moet ophou skree en weer met mekaar praat.”

Hy wil ook ’n idee leen by Melusi Tshabalala, wat die gewilde Facebook-blad Melusi’s Everyday Zulu bedryf en ook ’n gelyknamige boek op die rak het.

“Ons wil video gebruik om weeklikse taallesse op ’n YouTube-kanaal aan te bied. Streekstale. Omdat ek in Bloem bly, sal ek graag met Sotho daar wil begin en hoop dat dit uitkring,” sê Eckhard.

“As ons mekaar se tale kan praat, verstaan ons mekaar en dan is daar baie minder misverstande.

“Om mekaar te verstaan is ’n groot stap na ’n verenigde Suid-Afrika.”

Hy wil ook in arm buurte vraghouers in klaskamers omskep.

Geld hiervoor ontbreek egter nog – maar hy vra ook mense se “tyd en kennis” vir Start Talking SA.

“Ons wil as gewone mense inspring en ons eie gemeenskappe ophef deur mekaar te help.”

* Intussen het Kovsies die projek The Walk to Uhuru van stapel gestuur, waarmee die universiteit R2 miljoen wil insamel om vir arm studente se opvoeding te help betaal.

As deel van die projek word ’n staptog van 350 km van die Bloemfontein-kampus tot by Kovsies se QwaQwa-kampus beplan, asook die klim van die Uhuru-piek van Kilimandjaro.

Meer oor:  Eckhard Binding  |  Rommel  |  Eff-Lede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.