Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rommel? Nee, Thea sien 'n inkomste!

’n Gr. 10-leerling van Malmesbury het ’n plan gemaak om ekstra sakgeld te verdien én die aarde “groener” te maak. Suzaan Potgieter het met Thea Nel (16) oor haar onderneming, Aard Asem, gesels.

Thea saam met haar werknemers: Lydia Jacobs, Lucas Kay, Kenneth Engelbrecht, Jackie Welkom en Rachel Booysen. Kay, Engelbrecht en Welkom is permanent deel van die span, en die ander twee help uit wanneer nodig.

Omring deur sakke vol papier en ’n magdom kartonbokse werk Thea en haar span daagliks om soveel moontlik herwinbare produkte in te samel, te sorteer en met ’n vragmotor Kaapstad toe te stuur.

Wat ons as rommel beskou, is vir hierdie groep mense hul werk en inkomste.

“Alles het begin toe ek meer sakgeld wou hê en my pa gesê het ek sal moet werk om die geld te verdien,” vertel Thea.

Haar pa het haar aangespoor om by TW Waste ­Paper hand te gaan bysit. Daarna het sy oor naweke herwinningsdromme by huise op Malmesbury opgetel en het haar pa haar dit help wegry.

“Daarna het dit al hoe besiger geraak, en ek het van die huis af begin werk om die herwinbare goed te sorteer.

“Ná ’n atletiekdag by die skool het ek in die agterplaas gewerk om al die rommel te sorteer en besef dit is glad nie

higiënies om dit tuis te doen nie. Toe het ons dit na die skoolterrein geskuif,” sê Thea.

Kort daarna was die skool­terrein te klein, en sowat twee maande gelede het sy ’n klein pakskuur begin huur van waar sy nou met die hulp van haar ma, Erika, die onderneming Aard Asem bestuur.

“Aard Asem se leuse is ‘Help jou vriend aarde om asem te haal’.

“Vir my gaan die onder­neming nie net oor geld nie, maar ons maak ’n verskil. Ons maak mense van herwinning bewus, en ons gee geld vir mense wat herwinbare produkte vir ons bring.

“Hulle help ons, ons help hulle, en almal help die aarde,” sê sy.

Thea het drie permanente werkers en twee mense wat uithelp as dit besig raak.

Kenneth Engelbrecht was die eerste mens wat Thea aangestel het. “Ek geniet dit om hier te werk. Ek word sommer sad as ek moet huis toe gaan.”

Engelbrecht sê die onder­neming is sy lewe en hy hou daarvan om deel van die goeie doel van Aard Asem te wees.

Thea sê: “So ’n klein verskil, soos om ’n papiertjie op te tel, kan ’n massiewe impak maak.”

Sy lag en vertel dat haar vriende al die spot dryf met haar en herwinning, want hulle wys haar gou daarop wanneer ’n papiertjie op die grond lê.

TW Paper Waste is nog deel van haar onder­neming en kom haal gereeld die glas, plastiek, blik, karton en papier wat sy by huishoudings en ondernemings insamel.

Thea het groot drome.

“Ek wil Aard Asem graag eendag uitbrei en ’n leefstyl­winkel met natuurlike en ‘groen’ produkte oopmaak,” sê sy.

Sy wil ná skool medies gaan studeer en hoop die geld wat sy deur Aard Asem maak, sal kan help om vir haar studie te betaal.

  • Skakel Aard Asem by 082 574 3549 as jy wil herwin.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.