Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rommel-skok: Kondome, spuitnaalde, plastiek op strande
Vrywilligers maak die strand by Danabaai in Mosselbaai skoon. Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team

’n Hoop kondome en selfs gebruikte spuitnaalde van dwelmverslaafdes.

Dit is van die artikels wat op 15 September op Internasionale Strand-skoonmaakdag op strande in die Suid-Kaap opgetel is.

Tussen 400 en 500 vrywilligers het op dié dag 15 strande vanaf Gourits buite Mosselbaai tot by Wildernis naby George opgeruim.

Die strand-skoonmaakdag is gereël deur die Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart), ’n organisasie wat hom beywer vir die red en bewaring van seediere, en is deur sakeondernemings en bewareas gekoördineer.

Tersia Marais van Smart sê hulle wag nog vir die finale syfers van al die rommel. “Dit was ’n reuse-operasie. Dit is ’n geouditeerde opruiming wat beteken dat ons data vir internasionale doeleindes gebruik word.”

Dié rommel is by die Mosselbaaise hawe opgetel.Foto: Stranded Marine Animal Rescue Team

Volgens haar is onder meer groot hoeveelhede kondome, sigaretstompies, vislyne, plastiek, stukkies mikro-plastiek, plastiekkorrels en selfs gebruikte spuitnaalde op die strande gevind.

“Ons het baie spuite gekry met die naalde nog daarin. Met ander woorde dwelmverslaafdes doen hul ding op die strand en gooi hul spuite neer, wat lewensgevaarlik kan wees,” sê sy.

Volgens haar is min groot artikels gevind. “Van die vreemde artikels was byvoorbeeld ’n klein teddiebeertjie op een strand. Daar is beslis strande wat vuiler is as ander. Daar is strande wat skoner is en waar jy moet soek om iets te kry. Die meeste vullis word agter die duine of tussen plantegroei op die duine gegooi. Van die straat af lyk dit skoon totdat jy tussen die grassies en die plantjies begin grou. Dan kry jy al die gemors.”

Volgens haar beoog hulle om weer ’n grootskaalse plastiekkorrel-skoonmaakveldtog op van Mosselbaai se strande uit te voer omdat so baie plastiekkorrels weer uitgespoel het.

Sy sê Smart gaan ook betrokke raak by skole om deel te neem aan ’n program oor vullisstorting en herwinning.

“Dit is ’n deurlopende bewusmaking- en opvoedingstaak. Ons moet mense leer as jy niks neergooi nie, sal daar niks wees om later op te tel nie. Dit is die boodskap wat ons wil oordra.”

Op 16 September het Smart ’n Kaapse pelsrob by Wildernis se strand gered nadat sy in vislyn verstrengel geraak het.

Meer oor:  Suid-Kaap  |  Strande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.