Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Roofdier-vrou en kêrel stry glo voor haar dood

Die roofdierliefhebber van Limpopo wat op vakansie in KwaZulu-Natal gesterf het, het glo die aand van haar dood “woorde gehad” met haar  kêrel.

Annel Snyman (38) van die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela (Warmbad) is op Maandagaand 9 September deur Chris Luus, haar kêrel, gekry waar sy aan ’n rekverband aan die haak van die badkamerdeur in hul wooneenheid by ’n vakansieoord gehang het. Sy het vermoedelik haar eie lewe geneem.

Annel Snyman en haar ma, Antoinette.Foto: Verskaf

Nardus Snyman, haar broer, sê die veiligheidswagte by die vakansieoord in die Drakensberg, waar sy suster en Luus met vakansie was, het hulle die aand glo gehoor baklei.

Luus ontken dit dat hulle baklei het. “Ons het nie baklei nie. Ons het net woorde gehad vir mekaar omdat sy verdwyn het toe ek ge-shower het en ek haar sewe keer aanhoudend gebel het en sy nie geantwoord het nie. Ek was net bekommerd oor waarheen sy was en omdat sy my nie gesê het nie.”

Luus sê Snyman het haar selfoonherlaaier in sy bakkie gaan haal en haar selfoon se klank was nie aangeskakel nie.

Hy het gesê Snyman het twee dae voor haar dood gesê as sy doodgaan, wil sy veras word.

Volgens Luus het Snyman “uit die bloute” begin praat oor die dood en dat haar as oor haar leeus by die park gestrooi moet word.

Wynand van Zyl, ’n gids by die Loebies-roofdierpark, sê die betrokke gesprek het op ’n aand begin met ’n gespot toe hy vir Snyman gesê het “as ek doodgaan, kan jy my bakkie kry. Sy het gesê as sy doodgaan, kan ék haar bakkie kry. Dit was ’n geskerts.”

Van Zyl sê almal het al “lank terug” geweet Snyman se wens was dat wanneer sy doodgaan haar as oor haar leeus gestrooi moet word. “Sy was beslis nie depressief nie. Sy was opgewonde oor van die diere wat binnekort nuwe werpsels gaan kry. Haar dood is vir ons almal baie sleg.”

Annel Snyman (38) by van die wilde diere by die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo.Foto: Facebook/Loebies-roofdierpark

Luus ontvang sielkundige berading ná Snyman se dood.

“Ek het bitter seer en daar gaan nie ’n sekonde van ’n dag of nag verby dat ek nie aan haar dink of huil oor haar nie. My hart is stukkend. Annel was my alles en ek het haar verloor.”

Hy sê hy het die aand van haar dood buite op ’n hangmat by die swembad van die vakansieoord aan die slaap geraak toe Snyman haarself glo gehang het.

Sy het die afgelope 12 jaar aan die outo-immuunsiekte lupus gely.

Chris Luus en Annel Snyman. Op die foto kan die verband aan Snyman se regterarm gesien word waar ’n hiëna haar onlangs gebyt het.Foto: Verskaf

Luus sê Snyman “het haar seer diep weggesteek”.

“Sy het altyd gesê sy het ’n graad in lag en om haar seer weg te steek. Daar is goed in haar lewe wat haar gepla het waarvan niemand geweet het nie.”

Intussen gaan die Snyman-familie voort om ’n private lykskouing op Snyman in Pretoria te laat doen.

Haar broer, Nardus Snyman, sê die lykskouing sal Vrydag of Maandag gedoen word. “Daar is baie onbeantwoorde vrae oor wat daardie aand gebeur het. Ons wil duidelikheid hê.”

Luus sê “kan hulle haar nie net in rus en vrede laat nie?”

Kol. Thulane Zwane, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê die Winterton-polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek. Die lykskouing wat ’n staatspatoloog gedoen het, se bevindinge sal deel van die ondersoek uitmaak. Daar word geen ander klag ondersoek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.