Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rooi en wit – Alice in haar troukleure gegroet
’n Pa se smart: Hennie Maree, Alice se pa, word deur sy skoonseun, Mannie van Dyk, ondersteun. Lynettte Maree, Alice se suster, staan regs van Van Dyk. Foto:

Rooi en wit, die kleure waarin Alice Maree (21) volgende jaar met haar verloofde, CJ Blumenthal, sou trou, is Vrydag in Theunissen as temakleure gebruik om van haar afskeid te neem.

Maree is verlede Vrydag op 24 Februarie in die Pelonomi-hospitaal se waakeenheid oorlede nadat sy op 9 Februarie glo deur ’n man wat op parool vrygelaat was, aangerand en verkrag is.

Die beweerde voorval het by Maree se werkplek in Theunissen plaasgevind.

Maree se gesondheid het ná die voorval verswak. Sy het toevalle begin kry en kon die laaste paar dae nie meer loop of praat nie.

Sy is Vrydag uit die NG kerk Moedergemeente deur ds. Pieter Conradie begrawe. Talle begrafnisgangers het uit eerbetoon rooi en wit klere gedra en rooi en wit ruikers het ook die kerk en haar kis versier.

Conradie het in sy boodskap gesê Alice was ’n diaken in die kerk en dit was altyd opvallend hoe ’n hegte gesin die Maree’s was.

CJ Blumenthal, Maree se verloofde, word deur Hansie Henning, Alice se swaer, by die graf ondersteun. Die paartjie sou volgende jaar trou.Foto’s: Alet van der Walt
Geliefdes van Alice Maree dra haar kis na die graf, links is ’n foto van haar. Foto:

Sy was ’n sprankelmens en almal is stukkend en kwaad oor dit wat gebeur het.

“Ons is kwaad vir Alice se aanvaller. Ons het baie vrae.”

Conradie het ook gesê Alice se aanvaller was ’n trawant van die bose.

“Hoe kan so ’n mens ’n fyn mens soos Alice van haar vrouwees en lewe beroof,” het hy gevra.

Hy het gesê almal is kwaad vir die regering wat nie meer wet en orde kan handhaaf nie en sommige mense is selfs kwaad vir God oor dit wat gebeur het.

“Maar Alice sal leef tot in ewigheid.” het Conradie gesê.

CJ Blumenthal het in ’n laaste huldeblyk aan Alice Maree ’n weergawe van Psalm 23 gesing.

Die man wat daarvan verdink word dat hy Maree beroof, aangeval en verkrag het, is op 6 Februarie op parool vrygelaat nadat hy ’n vonnis vir aanranding met die doel om ernstig te beseer uitgedien het.

Hy het ’n skootrekenaar, tabletrekenaar en selfoon van Maree in Theunissen probeer verkoop en is op 10 Februarie aangekeer.

Hy sal weer op 10 Maart in die hof verskyn.

Die Vryheidsfront Plus se leier in die Vrystaat, Jan van Niekerk, het in ’n verklaring gesê Maree se lewe is deur haar verkragter, wat op parool vrygelaat was, gesteel.

’n Voorval soos dié is nie ’n geïsoleerde voorval nie. Die party het Maree se geliefdes sterkte toegewens in die moeilike tyd wat voorlê.

Meer oor:  Alice Maree  |  Theunissen  |  Trou  |  Verkrag  |  Parool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.