Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Room van veebedryf vereer
Die Kluitjieskraal Jerseykudde van PJ (links), JA en AJ Schoonwinkel van die Swellendam-omgewing is as die voorste kudde in die kategorie vir melkbeeste aangewys. Foto: Verskaf

Die room van die veebedryf is aanlyn op die Standard Bank SA Stamboek Elite-prysuitdeling bekend gemaak.

SA Stamboek, wat aantekening en genetiese evaluasie doen, het Vrydagaand op DigiTV erkenning aan die beste telers, stoeterye en stoetdiere gegee.

Die jaarlikse glansgeleentheid wat vroeër vanjaar sou plaasvind, is weens die Covid-19-pandemie digitaal aangebied.

Dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek. Foto: Mlungisi Louw

SA Stamboek, met sy hoofkantoor in Bloemfontein, vereer stoettelers wat sy dienste en produkte gebruik.

Dr. Japie van der Westhuizen, SA Stamboek se hoofbestuurder, sê die toekennings word op objektiewe metings gebaseer.

“Die pryswenners is absoluut die beste van die beste wat van SA Stamboek gebruik maak.

“Die hoogtepunt van dié prysuitdeling is om die topstoetkuddes van die jaar in vyf kategorieë te vereer.

Stoetkudde van die jaar vir kleinvee

Die Majobe Merinostoetery van Johan Hoffman van Vlaklaagte, Bothaville, is as wenner in die kategorie vir kleinvee bekroon. Die toekenning is deur Vleissentraal geborg.

Die stoetery onderneem sedert 1998 om merino’s vir die hoogste inkomste per hektaar te ontwikkel.

Hoffman sê hy het bevind rekordhouding is die belangrikste aspek in boerdery en dít begin die dag dat die lam gebore word.

“Dit gaan om die genetiese materiaal van elke dier ten volle te kan benut en om dit te kan doen, moet ’n mens volledige rekords van die dier hê.”

Christopher Melamu van die Lamus Bonsmarakudde op Nilse naby Vryburg is die stoetkudde-wenner vir vleisbeeste. Foto: Verskaf

Stoetkudde van die jaar vir vleisbeeste

Die Lamus Bonsmara-kudde van Christopher Melamu van Nilse naby Vryburg, is die wenner in die kategorie vir vleisbeeste. Die toekenning is deur Vleissentraal geborg.

Melamu – wat voorheen deur ander bonsmaratelers gehelp is om ’n sukses van sy stoetery te maak en nou dieselfde vir opkomende boere doen – se hoofdoelwit is om beeste van gehalte aan die bedryf te lewer.

Hy boer ook by Reivilo en sal later vanjaar hier sy eerste produksieveiling hou.

Melamu sê hy het ’n baie produktiewe kudde, waarvan die gehalte jaarliks verbeter.

“Dit neem baie toewyding en dissipline om die teelwaardes te hou waar dit is.”

Stoetkudde van die jaar vir melkbeeste

Die Kluitjieskraal Jerseykudde van AJ, JA en PJ Schoonwinkel van die Swellendam-omgewing is as die voorste kudde in die kategorie vir melkbeeste aangewys. Die toekenning is deur Standard Bank en Telwiedrè Voere, asook DeLaval geborg.

AJ, wat die vyfde generasie is wat hier boer, sê die uitslae van die melkmonsters wat geneem word, is die belangrikste aspek van die melkaantekening.

Die diere se voeding word daagliks gemonitor en vir hom is ’n baie belangrike aspek die grootmaak van kalwers en verse om te verseker dat hulle hul volle potensiaal bereik.

Stoetkudde van die jaar vir ander spesies

In die kategorie vir ander spesies ontvang Beverli Katz van Klein Sandfontein Boerboele in Caledon, die toekenning. Dit is deur Standard Bank en Telwiedrè Voere geborg.

Katz, wat nou vir die 20ste jaar boerboele teel, sê die fokus is om voortdurend honde van gehalte te lewer, met onder meer “pragtige temperament”.

“Ek bestee ’n astronomiese bedrag aan toetse en die diere se gesondheid. Elke hond se DNS word getoets.”

Die geheim in haar sukses lê in toewyding en liefde vir die honde.

AJ Schoonwinkel van die Kluitjieskraal Jerseykudde. Foto: Skermgreep

Stoetkudde van die jaar vir perde

Die Tokoza SA Boerperdstoetery van Frikkie en Ansie Combrink tussen Delmas en Bapsfontein is aangewys as die perde-stoetkudde van die jaar. Dit is deur Standard Bank en Telwiedrè Voere geborg.

Die stoetery is in 2002 gestig en deel van die Combrinks se boerdery Tokoza Rose. Die stoetery het alle talle kampioenskappe gewen.

Ansie en hul twee seuns, Gustav en Gunter, is aktiewe skouruiters en Frikkie konsentreer op die teling.

Van die pryse vir die Standard Bank SA Stamboek Elite-prysuitdeling in SA Stamboek se kantoor in Bloemfontein. Die stoetkudde-wenners ontvang die beelde van die diere. Foto: Mlungisi Louw
Johan Hoffman van die Majobe Merinostoetery op Vlaklaagte, Bothaville, is die stoetkudde-wenner vir kleinvee. Foto: Verskaf

“Vir my gaan dit oor die teling van die ras en die skouprestasies wat ek as ’n teler behaal. En die produk wat ek aan die kliënt lewer as ek die dag die perd verkoop,” sê Frikkie, ook voorsitter van die SA Boerperdtelersgenootskap.

Hy sê SA Stamboek se inligting is vir hom noodsaaklik om te bepaal watter hings hy by watter merrie gaan gebruik.

Die Farmer’s Weekly SA Stamboek Elite Mentorteler van die Jaar is Johan Erasmus van die Jeras Boranstoetery van Derby, Noordwes. Erasmus is reeds 37 jaar by stoetbeeste betrokke, waarvan hy die afgelope 17 jaar ’n boranteler is.

Joubert Fourie met die holstein-stoetkudde van Limpopo-melkery in Makhado (Louis Trichardt) is die wenner van die SA Stamboek Genetiese Suiwelkudde vir 2020.

Die Boran Beestelersgenootskap van Suid-Afrika het die prys vir die beste jaarverslag ontvang.

Die Vleissentraal SA Stamboek Elite-bulgroeiklas met sy rekordgetal van 22 bulle kon nie vanjaar plaasvind nie, aangesien daar weens die pandemie nie ’n wenner in die skouring aangewys kon word nie.

Uitmuntende bulle, vleisbees- en melkkoeie het ook erkenning gekry.

Meer oor:  Veebedryf  |  Landbou  |  Vereer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.