Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Roomys is Boeta se brood en botter

“Fifty five not out” is sy telling op Nuweland se rugby- én krieketstadion, sê die 65-jarige Boeta Cassiem, seker die bekendste roomysverkoper in die land.

Boeta Cassiem (65) op sy geliefde Nuweland. Foto: Jaco Marais

Almal ken dié kaalkopman wat luid sy ware bemark op die Kaapse sportvelde en by musiekkonserte.

Hier uit sy tweeverdiepingwoonstel in Westridge, Mitchells Plain, het hy en sy vrou, Shahieda, vier kinders met roomysgeld deur universiteit gesit. Yu­suf is ’n arbeidsprokureur, Farzana Israel werk by rampbestuur in Kaapstad, Seraj is ’n reisagent en Weedaad ’n onderwyseres, vertel Boeta trots.

Sy daaglikse huiswerkie is om sewe van sy nege kleinkinders by hul onderskeie kleuterskole te gaan oplaai en dan tuis besig te hou tot hul ouers hulle kom haal.

‘Dan skrie ek my favourites: A lolly to make you jolly!’

Oor die jare het Boeta ál die groot rugby- en krieketspelers gesien. En hy self is al bekend tot in plekke so ver as Rusland en Brittanje. Net Maandag het ’n toeris ’n foto van hom geneem by die kriekettoets tussen Suid-Afrika en Engeland op Nuweland. Hy wou dit vir sy seun in Rusland stuur, want dié wou weet hoe lyk Boeta Cassiem.

“Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor mense,” verseker hy my. Maar voeg by in die vyf dae van die afgelope toets het hy so R8 000 verdien. “Dis net vir verkope, nie vir die gêl wat die spectators in my hanne gestop het nie,” sê hy.

“My naam is gróót op Nuweland. Ek het op die big screen gesien Cape Town willie hê ek moet retire nie. Nou, dan kap ek aan! Ek het lewe in my.”

Boeta Cassiem in 2003.

Met sy blou koelboks roep hy luid tussen die rye: “Goeiemôre mense!”

“Ek loop reg om die veld, dan skrie ek my favourites: ‘A lolly to make you jolly!’ of ‘A wafer to make your boy-friend stywer.’ Dan lág die mense en dan koop hulle!”

Boeta sê hy het met die afgelope toetswedstryd baie op die Engelse toeskouers en die Barmy Army gefokus.

“Toe ek sien (Quinton) De Kock is nog daar, toe dag ek ons kan nog wen. Wel, toe die Engelse wen, toe gaan ek terug na hulle supporters en wens hulle geluk. Toe sê ek: ‘Thank you. I salute julle! Toe kom een ou, gee my ’n Barmy Army-cap. Dit wys net hoe gelieflik ek vir die mense is.”

Boeta en sy vrou, Shahieda. Foto: Julian Jansen

Boeta het in Pontacstraat in Distrik Ses grootgeword. Hy was sokkermal. Dit was die dae van Hellenic, Power­lines en Cape Town Spurs. “ ’n Man het destyds by Hartleyvale-stadion my gevra: ‘Mister Cassiem, ek is kaal, het u nie ’n R10 daar nie?’ Toe gee ek hom ’n R10. Toe gee hy my ’n wit-en-rooi jassie en sê: ‘Hie, vekoep icecream.’ The rest is history.

Nou smous hy al vir jare lank King Cones, Orange Maid, Eskimo Pie, wafels, yslollies . . .

“Sy geaardheid is nog dieselle,” laat Shahieda uit die kombuis hoor waar sy samoesas bak.Sy vergesel hom oral. “Lionel Richie wou by my wiet of sy my bodyguard is. Ek sê toe: ‘Néé, sy is my vrou!’ Ons lag toe te lekke!”

“By Nuweland is ek ’n anne mens. Die spectators kyk na my. Laas Sondag roep ’n vrou sommer: ‘Kom hier my darling!’ Dan spuit sy sunscreen op my gesig, vryf dit oralste oor my arms. Ek moet die mense bedank daarbuite. Sonder hulle is ek nie ’n champ nie.”

Een van sy gunstelingmense op die Nuweland-rugbystadion is Maria Williams, Chester se vrou.

“Sy sal my altyd roep: ‘My skat, kom hier, kom eet, daar’s kos en drinks. Dan hou sy my so vas.” Boeta se oë traan skielik.

“Dit gaan nie net oor ice cream nie. Dis ’n hele affêre . . .” Hy droog sy nat oë met sy hand af.”

Boeta sê hy vat elke jaar in Januarie R1 000 en neem dan ’n behoeftige leerling na die supermark om vir hom of haar skryfbehoeftes te koop. “Ek werk elke dag met oop hande. My hande moet ook oop wees.”

Shahieda bring die bak samoesas uit die kombuis. Saam gee hulle dit en ’n Mega-roomys by die totsiens aan Rapport.

Buite haal Boeta sy blou Dairymaid-kep af en waai geesdriftig.

Meer oor:  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.