Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rosestad spog met vyf topskolespanne

Skolesport in die Rosestad beleef ’n goue tydvak soos lanklaas of moontlik nog nooit met nie minder nie as vyf en moontlik selfs ses eerste spanne van plaaslike skole wat tans amptelik en nie-amptelik die heel beste in die land is.

Dít is die stand van sake ná die Hoër­ Meisieskool Oranje se segetog op die naweek se Amanda Coetzer-tennistoernooi vir meisiespanne waarin sowel die o.19- as die o.15-span die hoogaangeskrewe Hoër Meisieskool Bloemhof in die eindstryd verslaan het.

Die kapteins van die vyf Bloemfonteinse eerste-skolespanne wat tans amptelik en nie-amptelik as die land se beste beskou word. Van links is Carmen Fichardt (tennis, Hoër Meisieskool Oranje), Saré Laubscher (hokkie, Oranje), Garnett Tarr (krieket, St. Andrew), Nita Scholtz (pluimbal, Hoërskool Jim Fouché) en Zelda Jordaan (netbal, Hoërskool Sentraal). Foto: André Damons

Daar bestaan nie ’n amptelike ranglys vir skoletennis nie, maar volgens David Jaquire, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skoletennisvereniging, het Oranje “sonder enige vrees vir teenspraak” nou die beste o.19-span in die land. Volgens hom was al die topskole op die Amanda Coetzer-toernooi in aksie waar Oranje se eerstes onoorwonne was.

Daarbenewens sit Oranje ook met die voorste eerste hokkiespan in Suid-Afrika. Hy beklee volgens SA School Sports, die enigste webwerf wat ’n ranglys vir hokkiespanne saamstel, die eerste plek. Dié span het verlede maand sy eerste nederlaag in 127 wedstryde gely, wat ook sy enigste tot dusver in 2018 is waarin hy nog net vier doele in 33 wedstryde afgestaan het. Hy was ook die kampioen op die All Girls-toernooi.

Ook die St. Andrew-skool en die Hoërskool Jim Fouché dra amptelik die kroon as die land se kampioen in onderskeidelik krieket en meisiespluimbal. Saints het die nasionale T20-toernooi in Maart beklink en JF se meisiespan het in 2017 ’n derde agtereenvolgende jaar die Suid-Afrikaanse skolepluimbaltoernooi gewen.

Die Hoërskool Jim Fouché vier fees nadat sy eerste netbalspan Saterdag ’n wendroogte van 13 jaar teen die Hoërskool Sentraal gebreek het. Hy het met 47-46 geseëvier. Die twee spelers van die eerste span op die foto is die doelskieters, Elmeré van den Berg (links) en Melandri Meyer. Foto: Charles Smith
Elizna Greeff, senter van die Hoërskool Jim Fouché se eerste netbalspan, word deur skoolmaats en oudleerlinge omhels nadat haar man in die laaste minuut teen die Hoërskool Sentraal met ’n enkele doel gewen het. Foto: Charles Smith

Hoewel die nasionale skolenetbaltoernooi in Augustus die enigste geleentheid is waar skolenetbalspanne sake vir ’n amptelike posisie in die land uitspook, kan die Hoërskool Sentraal tans op vorm as die voorste span in die land gereken word. Hy het Affies, 2017 se kampioenspan, verlede maand oortuigend met 31-18 geklop op pad na die verowering van die trofee op die Wildeklawer-Superskoletoernooi waar al die land se voorste spanne betrokke was.

Die Tralies het vanjaar nog net twee nederlae op die lyf geloop. Die kinkel in die kabel is dat die netbalspan van Jim Fouché die afgelope Saterdag daarin geslaag het om Sentraal in ’n spannende wedstryd met 47-46 te klop. Dan kan die eerste rugbyspan van Grey-kollege hom ná Saterdag ook by dié vyf spanne aansluit as hy met Affies afreken en Paul Roos-Gimna­sium teen die Hoër Jongen­skool Paarl vasval.

Grey en Paul Roos, albei nog onoorwonne, is tans in ’n taai tweestryd om as die voorste span in Suid-Afrika gereken te word. Twee webwerwe beskou Grey as nommer een en twee ander het vir Paul Roos in die eerste plek. Grey het onlangs met Boishaai (34-20) afgereken en daarmee die Paarliete se segetog oor Suid-Afrikaanse skole beëindig wat tot 2014 terugstrek.

  • Intussen wag ’n taai stryd in vandag se netbalwedstryd tussen Oranje en Sentraal. Die uitslag sal bepaal wie van Sentraal, Oranje of Jim Fouché eerste op die puntelys van die Bloemfontein-streek eindig. Die halfeindronde vind Dinsdag plaas.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.