Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rottweilers byt seun (6) dood

Twee rottweilers het Maandagaand ’n sesjarige seuntjie in ’n straat naby Muizenberg in Kaapstad doodgebyt.

Uriel Ockhuis, wat volgende jaar gr. 1 toe sou gaan, het met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde gesterf.

Hy het kort voor die voorval saam met maatjies naby sy huis in die straat in Hillview gespeel. Hy het vermoedelik verby ’n huis, waar die honde in die agterplaas aangehou is, gehardloop. Die honde het uit die erf gekom en hom aangeval.

Belinda Abrahams, woordvoerder van die DBV, het gesê ’n klein hekkie is glo op die erf oopgelos. Ná die aanval is die honde op versoek van die eienaar uitgesit.

Uriel Ockhuis (6) van Hillview naby Muizenberg, wat deur twee rottweilers doodgebyt is.

Sy het gewaarsku dat dit ’n groot verantwoordelikheid is om honde aan te hou. Sy meen honde val nie sonder rede aan nie, en dat daar altyd ’n oorsaak is.

Sy het gesê eienaars van veral “sterk” honderasse moenie aggressie by hul troeteldiere aanmoedig nie. Hondjies van aggressiewe ouers is geneig om ook aggressief op te tree.

“Aggressie begin wanneer die hondjies nog klein is en dit is belangrik dat hulle geleer word om verdraagsaam teenoor mense van alle ouderdomme te wees. Hondjies is van drie weke tot 20 weke baie vatbaar vir indrukke en goeie gedrag moet dan aangeleer word.”

Dit is ook noodsaaklik dat honde vir sosialiseringsklasse by betroubare afrigters gaan en dat dit met gehoorsaamheidsopleiding opgevolg word.

Troeteldiereienaars moet genoeg gehaltetyd met hul honde deurbring en die diere moenie geïsoleer word nie. Dit laat die troeteldier uitgesluit voel uit die gesin, wat hy as sy trop beskou.

Die meeste eienaars straf hul honde onnodig en slaan hulle om redes wat die dier nie kan verstaan nie. Menslike aggressie veroorsaak dikwels aggressie by honde.

Die DBV het ’n beroep gedoen op ouers om te verseker dat kinders leer om negatiewe interaksie met honde te vermy.

Dit sluit in:

• Om nie onbekende honde te nader nie;

• Moet nooit op ’n hond skree of van hom weghardloop nie;

• Moet nooit sonder volwasse toesig met ’n hond speel nie;

• Moenie ’n hond steur wat eet, slaap of haar kleintjies soog nie, en

• Moenie weghardloop as ’n hond aankom nie.

Die polisie vra mense met inligting oor die voorval om die ondersoekbeampte, sers. Milicent Teichardt, by 082 411 2455 te kontak of die stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

Meer oor:  Rottweiler  |  Seun  |  Doodgebyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.