Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Roubeklaers staan straat vol vir Tulbagh-dokter
’n Roubeklaer sit ’n bos blomme neer by die motorhek van Botha se huis en praktyk. Foto: Facebook/Ria Cronje

Mense het in hul honderde opgedaag vir die begrafnis van dr. Roelof Botha (59), geliefde dokter van Tulbagh, wat verlede Maandagaand koelbloedig vermoor is.

Hoewel net 50 mense volgens inperkingsmaatreëls die diens kon bywoon, het die gemeenskap van Tulbagh opgeruk in die straat van Botha se praktyk, in swart geklee en met blomme in die hand.

Die mense het die hele pad tussen die kerk en sy praktyk, ongeveer 1 km, volgestaan. Weens die inperkingsregulasies moes hulle meters uitmekaar bly, en daarom is die hele straat weerskante gevul met roubeklaers.

Botha is Maandagaand dood aangetref langs die Schalkenbosch-pad buite die dorp nadat hy met vermoedelik die lem van ’n skaapskêr doodgesteek is. Botha het nie, soos beweer word, die grond besit waar die voorval gebeur het nie.

Mense in swart geklee staan langs die straat en wag vir Botha se familie om verby te ry. Foto: Facebook/Ria Cronje

Vier mense, drie mans en ’n minderjarige meisie is vir sy moord in hegtenis geneem en het verlede week in die hof verskyn.

Aiden Abels (27) het skuld beken op Botha se moord. Sy medebeskuldigdes is Justin Adonis (30) en Andrew Gouws (30). Die meisie is 17 en mag nie geïdentifiseer word nie. Die drie bly in aanhouding terwyl die meisie na ’n jeugsentrum in Elsiesrivier verskuif is.

Ria Cronje van Tulbagh, ook een van Botha se pasiënte, sê mense van alle rasse en agtergronde het gekom om eer te betoon aan Botha, wat ’n “steunpilaar in die gemeenskap was”.

“Hy was nie net jou dokter nie, hy was regtig soos jou vriend. Hy was plat op die aarde,” sê Cronje.

Volgens haar het al die roubeklaers langs die pad gestaan terwyl Botha se vrou, Lorette, en enigste dogter, Lorè, in Botha se viertrekvoertuig in die straat afgery het van hul huis in die rigting van die kerk.

Roubeklaers wag met blomme in die hand en maskers op. Foto: Facebook/Ria Cronje

“Dit was pragtig om te sien hoe die gemeenskap hulle dra. Die arme kind het so gehuil. Dit was hartroerend,” sê Cronje.

Sy sê sy was een van die laaste mense wat met Botha gepraat het voor sy dood, per telefoon. “Ek het ’n geraas gehoor in die agtergrond, en gedink hy is dalk besig om iemand te help.

“Hy sê toe vir my: ‘Ek bel jou terug’. Nie lank daarna nie hoor ek die ambulans se sirene. In ons klein dorpie weet jy, as jy daardie sirene hoor, is dit iemand wat jy ken.”

Cronje sê: “Die oomblik toe ek die nuus hoor, was ek verslae. Ek kon dit nie glo nie.”

Nog mense staan langs die pad. Foto: Facebook/Ria Cronje

Botha se begrafnis is Sondag ook via Zoom uitgesaai vir sy vriende en familie wat nie die diens kon bywoon nie. Daar was 50 mense in die kerk, 50 in die kerksaal en die honderde gemaskerde mense buite in die straat.

Toe die diens begin, het al die roubeklaers hul blomme voor Botha se spreekkamer gaan neerlê.

Abels, Adonis en Gouws verskyn weer Dinsdag in die hof op aanklag van moord. Hulle sal na verwagting dan hul aansoek om regshulp voltooi.

Dr. Roelof Botha en sy vrou, Lorette. Die paartjie was langer as 30 jaar getroud. Foto: Facebook/I Love Tulbagh
Meer oor:  Roelof Botha  |  Tulbagh  |  Begrafnis  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.