Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rowwe vleuel bring hulde aan sy ouma

Suid-Afrikaanse rugby se nuwe James Small.

Dís hoe talle rugbyondersteuners die opwindende jong Leeu-vleuel Tyrone Green beskryf, veral nadat hy ’n paar weke gelede die WP se harte met ’n skitterende drie in die laaste paar minute van spel gebreek het.

Tyrone Green van die Leeus vroeër vanjaar tydens ’n Superrugbywedstryd. Green word allerweë as SA rugby se nuwe James Small beskryf. FOTO: GALLO

Green glimlag net as ’n mens hom oor dié vergelyking uitvra.

“In 1995 (met die Wêreldbekereindstryd) was ek nog nie gebore nie, maar ek het teruggegaan en na die eindstryd gekyk. Daai aggressie in sy spel was ongelooflik, en as jy dit in jou spel het, verander dit die soort speler wat jy is.”

Small was “sielkundig sterk”, sê hy, en dit is waar dit saakmaak.

“Fisiek is almal wat speel sterk, maar sielkundig is waar jy hom kan klop. Dit is vir my belangrik. As ek in my kop reg is vir die wedstryd, dan is ek gelukkig.”

Dié boorling van Stilfontein in Noordwes speel al rugby sedert hy vier is, maar dis in Jeppe High School for Boys waar hy – saam met sy Leeu-spanmaats Wandi­sile Simelane en Hacjivah Dayimane – sy talent ordentlik geslyp het.

“Ek wil ’n Springbok word."

Hy sê dis atletiek wat hom so giftig gemaak het.

“Ons het ’n paar vinnige manne in die skool gehad,” sê hy. Hekkies is dus waarop hy gekonsentreer het. Dit het hom sy spoed oor korter afstande – so tussen 20 en 40 meter – help bou.

Omdat hy nie baie groot is nie – hy is 1,8 m lank en weeg 87 kg – onderskat sy teenstanders hom dikwels, al laat sy talle tatoeëermerke hom kwaai en aggressief lyk.

Tog wys dié prentjies eerder die sagter kant van dié agterspeler wat op die veld vir niks stuit nie.

Die kuns op sy linkerarm is byvoorbeeld aan sy ouma Gail opgedra.

Tyrone verlede Saterdag in die Curriebeker-wedstryd tussen die Leeus en die Blou Bulle. Foto: Deon Raath

“Op my arm het ek my ouma se naam, my naam en Psalm 23 op my voorarm.”

Op sy ander arm is Moeder Maria, ’n duif en ’n Engelse spreuk: ‘Jou vlerke was reg om te vlieg, maar my hart was nie reg om jou te laat gaan nie’.

“My ouma is dood toe ek jonk was en sy was ’n baie groot rolmodel in my lewe. Sy was baie belangrik vir my. Sy’t alles vir my beteken en dus is my hele arm aan haar opgedra.

Hy sê terwyl sy boetie, wat slegs 11 maande jonger as hy is, buite “saam met my pa en die karre was”, was hy in die huis besig om saam met Ouma kos te maak.

“Dit was net so. Dit was net natuurlik hoe dit gebeur het. My boetie het saam met my oupa en pa op sport en karre gefokus, en ek was saam met my ouma.”

Een van Tyrone se tatoeëermerke.

Op sy lyf is daar ook twee animé-krygers.

“Ek is mal oor animé (Japanse animasie). Ek kan 12 uur per dag daarna kyk. Ek is rêrig mal daaroor.”

Hy sê vreemd soos dit mag klink, help animé hom met sy rugby.

“In animé-reekse verduidelik hulle die belangrikheid daarvan om jou doelwitte te visualiseer en om jou strategie goed te ken. Elke ou ken sy werk.

“Jy kan dit baie in sport en die lewe toepas.”

Hy sê hy geniet sy eerste seisoen by die Leeus baie, maar dis nie sy einddoel nie.

“Ek wil ’n Springbok word. Ek weet waar ek staan en weet waarop ek nou moet fokus. Ek weet ek moet konstant my spelpeil handhaaf en dan sal dit kom.”

Sy helde is die All Black-losskakel Dan Carter en die heelagter Damian McKenzie.

Hy sê as jou helde jou teenstanders word, soos nou met McKenzie die geval is, “is dit altyd ’n goeie ding”.

Op daardie drie wat die WP gekelder het, is hy nogal trots.

“Ek wil baie meer van daai soort oomblikke hê.”

Meer oor:  Leeus  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.