Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
RSG se Ian Wessels sterf aan kanker

Die bekende RSG-aanbieder Ian Wessels is Maandagmiddag ná ’n stryd met kanker dood.

Wessels, wie se stem in Regsake op RSG gehoor is, asook die inbelprogram Loslip, was 61 jaar oud.

Pankreaskanker is in 2019 by hom gediagnoseer, lui ’n verklaring wat deur Ilse Salzwedel namens die familie uitgereik is.

Ondanks sy siektetoestand was Wessels nog tot drie weke gelede op sy pos agter die mikrofoon.

Ian Wessels

Luidens die verklaring het hy deurgaans sy kankerstryd met ’n positiewe ingesteldheid benader.

Magdaleen Kruger, RSG-stasiebestuurder, het ook in ’n verklaring aan Wessels hulde gebring.

“Jy het gehoor as hy by die werk in die gange was – iemand was altyd aan die lag oor ’n Ian-uitlating of skerpsinnige en soms sinies-snaakse opmerking oor mense en dinge.”

Sy het Wessels vir sy besonderse talent geloof, vir sy spitsvondigheid en sy gesonde moedswilligheid om mense oor ’n onderwerp uit te lok.

“Hy was ’n besonder inspirerende mens, veral toe hy siek geword het. Ian kon ook soms ’n moeilike kalant wees, maar dit was wanneer hy sterk geglo het in sy standpunt en sy werk.”

Renske Jacobs, ook ’n RSG-omroeper, sê Wessels het gekies om sy pad met kanker “ekstreem positief” te stap.

“Hy het so lank geveg. Taai soos ’n ratel tot aan die einde. Ek het geweldige respek vir hom, hy het die stryd geveg tot aan die einde op ’n uiterse positiewe manier en vir ons ’n paar dinge van die lewe geleer.”

Benewens sy positiewe uitkyk, sê Jacobs, het sy groot respek vir die wyse waarop Wessels Afrikaans gebruik het.

“Sonder om hoogdrawend te wees het hy dit op so ’n kleurvolle manier gebruik. ’n Mens kon regtig by hom leer deur net te sit en luister na hom. Ook die gemaklike manier waarop hy aangebied het, hy was so gesout. Hy was ’n gebore radioman.”

Voordat Wessels deel van die radiowêreld geword het, het hy ’n paar jaar as staatsaanklaer gewerk nadat hy ’n BA LLB-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Voordat hy hom in 2009 by RSG aangesluit het, was hy lid van die bestuurspanne van Radio Helderberg en OFM. Hy het ook verskeie boeke geskryf, as motiveringspreker landwyd opgetree en selfs ’n draai op die verhoog gemaak met sy eenmankomedie.

“Hy sal nie net onthou word vir sy passie vir radio nie, maar ook vir sy sin vir humor. Ian was ’n positiewe mens wat geglo het dat jou lewe deur jou keuses bepaal word en het graag gesê dat ’n mens nie kan kies wat met jou gebeur nie, maar wel hoe jy daarop gaan reageer,” lui die verklaring.

Wessels word oorleef deur sy vrou, Liesel, wat hy vir 25 jaar geken het, waarvan hulle vir 18 jaar getroud was. Hy laat ook sy ouers, broer en skoonsuster agter.

Hy sal privaat veras word.

Meer oor:  Ian Wessels  |  Rsg  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.