Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rugbyman terug op spoor ná ongeluk met motorfiets

Hy kom uit die weermag en daar werk dit so: As jy onsuksesvol in ’n taak is, loop jy nie daarvan weg nie. Jy gaan terug en doen dit oor.

Daarom, sê Skillie le Roux (58), bestuurder van die Vrystaatse Rugbyunie se skeidsregters, keer hy terug na Namibië om die roete te voltooi waarop hy ’n jaar gelede ernstig in ’n motorfietsongeluk beseer is – hoewel hy dit dié keer in ’n motor aandurf.

Met die klere en valhelm wat hy toe gedra het in sy motor gelaai, vertrek hy Saterdag uit Bloemfontein op sy alleenreis. Sy ysterperd is in die ongeluk afgeskryf.

Skillie le Roux, bestuurder van die Vrystaatse Rugbyunie se skeidsregters, in sy kantoor by die Toyota-Stadion in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman

Netwerk24 het vroeër berig oor Le Roux se ongeluk op 4 Desember tussen Gochas en Stampriet in Namibië toe hy op pad na familie in die Stampriet-Leonardville-gebied was.

Hy is destyds eers in die Mediclinic Windhoek se waakeenheid vir ligte bloeding op die brein en in die long en ’n gebreekte linkerbeen opgeneem. Daarna is hy per lugambulans na die Mediclinic Bloemfontein gebring en op 16 Januarie na 3 Militêre Hospitaal (in Tempe) oorgeplaas.

Le Roux weet hy het 40 km voor die ongelukstoneel brandstof ingegooi, maar hy onthou niks van die ongeluk self nie. Sy herinneringe ná die ongeluk begin eers met sy oorplasing na 3 Militêre Hospitaal.

Skillie le Roux vertrek Saterdag op dieselfde alleenreis na Namibië waarop hy ’n jaar gelede in ’n ernstige ongeluk was.Foto: Marita Herselman

Dié voormalige kolonel in die weermag se valskermeenheid het wel beeldmateriaal van die ongeluk op sy aanboordkamera gesien.

“Die motorfiets het net op die grondpad agter begin gly en toe steek dit vas. Toe rol dit twee keer. Ek het twee keer saam met die motorfiets gerol. “Toe ek val, het ek my been gebreek en my longe het gebars. Ek was onmiddellik in ’n koma.”

Hy sê hy is besonder gelukkig en dankbaar dat hy nie fisieke skade oorgehou het nie.

Hy volg ook die roete om weer dankie te sê.

Le Roux sal op 4 Desember die ongelukstoneel saam met Pieter en Marianne Nel van die omgewing besoek. Hulle het hom op die toneel gehelp en by hom op die ambulans gewag. Dit was nadat hul werkers die voorval gesien gebeur en hulle laat weet het.

“Ek wil net graag weer vir die mense dankie sê, al het ek al dankie gesê.”

Hy bedank ook weer almal wat hom bygestaan het. Hy sê daar is onder meer hospitaalbesoeke wat hy nie kan onthou nie.

Elsabé (28), sy enigste kind, is onder die mense wat hom ná die ongeluk bygestaan het. Sy vrou, Adri, is drie jaar gelede aan kanker dood.

Spelers van die Vrystaat-Cheetahs het ook ná die ongeluk gereeld kom inloer om te hoor hoe dit gaan.

Nou is dit sy sending om dié “taak” te voltooi.

Skillie le Roux sal op 4 Desember, presies ’n jaar ná sy ongeluk in Namibië, die ongelukstoneel besoek om sy “taak” te voltooi en mense vir hul bystand te bedank. Foto: Marita Herselman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.