Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rugbyspeler slaan glo tandarts se kakebeen af

’n Tandarts van Pretoria het ’n klag van aanranding teen ’n oud Bloubul-rugbyspeler, wat nou in die buiteland klubrugby speel, ingedien na ’n vroegoggend onderonsie buite ’n kuierplek in Lynnwood.

Markus Botes (26) se kakebeen en ’n wangbeen is gebreek toe die 21-jarige rugbyspeler, wie se naam op regsadvies weerhou word, hom glo met die vuiste bygedam het.

Van die beserings op Markus Botes (26) van Pretoria se gesig.
Van die merke op Markus Botes (26), ’n tandarts van Pretoria, nadat ’n rugbyspeler hom glo bygedam het.
Markus Botes (26), ’n tandarts van Pretoria, na ‘n beweerde slanery vroeg Sondagoggend.

Botes moes Sondag vir ’n MRI-skandering gaan wat sy beserings wys en sal vandeesweek na ’n mond-en-kaak-chirurg moet gaan wat sal besluit of ’n operasie nodig is of nie.

Hy sê hy het Saterdagaand ’n vrou in die kuierplek in Lynnwoodweg ontmoet, wat gesê het dat sy die rugbyspeler, wat ook in die kuierplek was, se eksmeisie is. Botes en die vrou se broer het saam in Kaapstad studeer.

“Ons het lekker gesels en gedans, maar dit is al. Ons het so 02:00, 03:00 in die parkeerarea verder gesels,” sê Botes.

Die rugbyspeler het toe glo uit die kuierplek gekom en ook met die vrou gesels.

“Ek het weggestap en vir my Uber-motor gewag,” sê Botes.

Volgens hom het die rugbyspeler hom geroep en gevra, “het jy haar gesoen?”

“Die volgende oomblik toe slaan hy my. Alles het so vinnig gebeur. Ek het dadelik op die grond geval en hy het my aanhou slaan.”

Die MRI-skandering wat wys waar Markus Botes van Pretoria se kakebeen gebreek is.

Botes sê hy het nog nooit iemand in sy lewe geslaan nie. “Ek is ’n baie rustige mens.”

In die harwar het twee van Botes se vriende hom help wegkom en hulle het in die Uber-motor geklim. “Die rugbyspeler het agter die Uber-motor aangehardloop en ek het vir die bestuurder gesê hy moet ry dat ons kan wegkom.”

Hy het toe hy later Sondag wakker word, gesien daar is ’n groot knop by sy regteroog en sy kakebeen was seer. Hy het toe hospitaal toe gegaan waar die skandering gedoen is.

“Die ou is twee meter lank en weeg meer as 100 kg, hy kon my doodgeslaan het. Hy is ’n baie goeie rugbyspeler, maar ek kan nie dat hy wegkom met wat gebeur het nie.”

Botes het ’n klag van aanranding by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria aanhangig gemaak.

Kapt. Collette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie, het bevestig dat ’n klag van aanranding by die polisiekantoor aanhangig gemaak is. Sy sê die polisie ondersoek die saak. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Markus Botes (26) Sondagoggend nadat ’n rugbyspeler hom buite ’n kuierplek glo met die vuiste getakel het.

Die rugbyspeler het Maandagmiddag nie sy telefoon geantwoord nie. Hy het ook nie op teksboodskappe gereageer nie. Hy vlieg glo terug na die land waar hy nou rugby speel.

Shanil Mangaroo, bemarkingsbestuurder van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het Maandagaand gesê die beweerde voorval het niks met hulle te doen nie.

“Die betrokke speler is al vir maande nie meer by ons nie en daarom kan ons nie namens hom enigiets sê nie.”

Botes sê hy gee nie om as die polisie se ondersoek tyd neem omdat die man nou in die buiteland rugby speel nie. “Dan wag ek maar, maar ek wil net nie dat hy wegkom met wat hy gedoen het nie.”

Meer oor:  Markus Botes  |  Tandarts  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.