Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rugbyspeler verdrink in Vaalrivier

Sy lewe het as ’n weggooibaba langs ’n rivier begin en net meer as 20 jaar later het dit op Oujaarsdag tragies in ’n rivier tot ’n einde gekom.

So het Marina van Zyl van Meyerton in die Vaaldriehoek Vrydag snikkend vertel oor haar jongste kind, Webster Swanepoel (22), wat Donderdagmiddag in die Vaalrivier verdrink het.

Hy was ’n belowende rugbyspeler wat volgens kenners ’n goeie kans gehad het om eendag vir die Springbokke te kan uitdraf.

“Hy het vir rugby geleef. Hy het ’n ongelooflike talent gehad en was ’n rugbyfanatikus,” sê Van Zyl.

Webster Swanepoel (22), 'n kranige rugbyspeler van Gauteng, het Donderdagmiddag verdrink. Foto: Verskaf

Hoewel hulle hom nooit amptelik aangeneem het nie, was sy en haar man, Piet, Swanepoel se “ouers” sedert hy 11 jaar oud is.

“Dit is ’n verskriklike verlies . . . ek kan nie glo hy is weg nie. Ons het soveel by hom geleer,” sê Van Zyl.

Swanepoel het Donderdagmiddag saam met ’n groep vriende langs die Vaalrivier gekuier en geswem.

“Hy het my net voor 09:00 gebel. Sy laaste woorde was, ‘ek is lief vir jou, my tannie’. Hy het dit altyd vir my gesê.”

Sy sê dit is nie duidelik wat gebeur het nie, maar hy het kort voor 15:00 vir sy vriende wat saam met hom in die Vaalrivier was, geskreeu om hom te help.

Webster Swanepoel (22) het Donderdagmiddag in die Vaalrivier verdrink. Foto: FACEBOOK/ArnoHoffmann

“Hulle het hom uit die water probeer kry, maar hy het afgesak ondertoe en toe is dit verby.”

Arno Hoffmann, ’n vriend van Swanepoel, het hom uit die water probeer red.

Hy het in ’n roerende boodskap op Facebook geskryf: “My liefste broer . . . Jy word gemis al klaar, ek weet nie hoe om die (sic) te beskryf nie. Ek wil van my kant af sê Boeta dat ek my beste probeer het om na jou te soek daar onder in die diepste water.

Webster Swanepoel by sy ouers, Piet en Marina van Zyl van Meyerton. Foto: Facebook/MarinaVanZyl

“Ek is jammer my boeta, jy was alles, jy was meer werd as ’n vriend vir my. Jy is my broer in siel en vlees. My hart is stukkend.”

Van Zyl sê Hoffmann “gaan deur hel”. Hy het nie op Netwerk24 se navrae reageer nie.

Swanepoel was drie dae oud toe hy deur die polisie langs die Kliprivier in Gauteng gekry is. Hy het nooit geweet wie sy biologiese ouers is nie.

Volgens van Zyl is “Webbie” destyds deur die polisie aan ’n pleegma gegee waar hy tot omtrent sewejarige ouderdom gebly het.

Webster Swanepoel het Donderdagmiddag in die Vaalrivier verdrink. Foto: Facebook/WebsterSwanepoel

“Hy het in ’n Afrikaanse huis groot geword, hy het nie ’n ander inheemse taal geken nie.” Hy is later na ’n plek van veilige bewaring.

Dit was as leerling aan die Laerskool Voorwaarts in Meyerton waar sy rugbytalent vir die eerste keer raakgesien is. Hy het in die Cravenweek gespeel en die Van Zyls, wat sewe ander kinders het, het hulle oor hom ontferm.

Dries van Heerden, oudhoof van die destydse HTS Vereeniging, het Swanepoel se rugbytalent help ontgin. Dié skool en die Hoërskool Vereeniging het in 2013 saamgesmelt as Vereeniging Gimnasium. Swanepoel het in 2018 vir die Valke in die Cravenweek vir hoërskole as losskakel uitgedraf.

Hy het ook vir Vereeniging se o.21-rugbyspan en later vir die NWU Vaal se o.21 rugbyspan gespeel.

Webster Swanepoel Foto: Facebook/MarinaVanZyl

Hy het onlangs rugby en atletiek by Vereeniging Gimnasium afgerig terwyl hy aan ’n private onderwysinstelling sy akademiese punte verbeter het. ’n Lykskouing sal Maandag gedoen word.

“Hy was gelief en het in mense se harte geklim. Webbie het baie mense se lewe aangeraak,” sê Van Zyl.

Vriende beskryf Swanepoel as iemand baie spesiaal en die Harlequin International Rugby Factory, waarvan hy deel was, sê hy is “heeltemal te vroeg weggeneem”.

Meer oor:  Webster Swanepoel  |  Vaalrivier  |  Verdrink  |  Dood  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.