Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rugbyster sterf ná skietvoorval
Gert Roets (23). Foto: Verskaf

Gert “Gertjie” Roets (23), die jong rugbyspeler van die Oosrand in Gauteng is Saterdagmiddag dood nadat hy ’n week gelede in die heup geskiet is in ’n mislukte rooftog.

“God het jou nodig gehad in sy beginspan vandag. Jy het nou die beste coach in die hele wêreld. Jou plek is leeg, maar jou pyn is weg,” het Jaco Lombard, afrigter van die Wolwe-rugbyklub en familiewoordvoerder, op sosiale media in ’n boodskap aan Roets geskryf.

Roets was ’n speler vir die Wolwe-rugbyklub.

Lombard het in ’n WhatsApp-boodskap die nuus aan Netwerk24 bevestig en sê Roets se familie is baie ontsteld. “Dis ’n baie groot skok.”

Roets se been is Vrydagmiddag geamputeer in ’n poging om sy lewe te red. Hy was sedert die aanval verlede Saterdagoggend in ’n geïnduseerde koma in die Tembisa-hospitaal se waakeenheid.

Aanvallers het Roets verlede Saterdag omstreeks 04:00 in die heup geskiet. Hy en Devan Kruger (23), wat saam met hom rugby speel, het van Kruger se huis in Van Riebeeckpark in Kempton Park saam met ’n vriendin na haar huis geloop.

Dit is nie duidelik waarom hulle aangeval is nie, want die aanvallers het gevlug sonder om enigiets te roof, sê Lombard.

Gert Roets (regs) het vir die Wolwe-rugbyklub aan die Oosrand in Gauteng gespeel. Foto: Verskaf

Die koeël is van sy heup deur sy been en het sy hoofslagaar afgeskiet. Hy is na die Tembisa-hospitaal gebring waar hy dieselfde dag ’n noodoperasie van byna agt uur lank ondergaan het.

Lombard het Vrydag gesê dit gaan nie goed met sy ouers, Yolanda en Louwtjie, nie.

“Here, maak die familie, vriende en mense wat Gertjie geken het rustig. Omhels hulle en maak hulle rustig tot ons weer vir Gertjie sien,” skryf Lombard in ’n roerende boodskap aan Roets.

“Devan, jy bly ons hero, want as dit nie vir jou was nie het ons nie geweet of vir Gertjie gekry nie. Ons gebede is ook saam met jou!”

Meer oor:  Gert Roets  |  Rowers  |  Rugbyster  |  Skietvoorval  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.