Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rugbywêreldbeker: Ons man in Japan

Sy drie “filters” op die veld help hom om ook groot internasionale wedstryde onder druk te kan hanteer, sê Jaco Peyper. Hy is al Suid-Afrikaanse skeidsregter wat op die veld aan die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan deelneem. Gert Coetzee het met hom gesels.

Jaco Peyper as skeidsregter in aksie tydens die eerste toetswedstryd tussen die All Blacks en die Britse Leeus in Auckland, Nieu-Seeland in 2017. Hy sonder hierdie wedstryd as ’n hoogtepunt in sy loopbaan uit. Nieu-Seeland het 30-15 gewen danksy twee drieë deur Rieko Ioane in die tweede helfte. Die spanne het die reeks gedeel nadat die Leeus die tweede toets gewen en die derde toets gelykop geëindig het. Foto: Getty Images

Oor die vooruitsig van die Springbokke in die eindstryd van Wêreldbeker 2019 raak Peyper (39) as ’n Suid-Afrikaner skoon opgewonde.

“Dit sal die heel beste ding vir ons land wees. Dink net aan die genesing en verandering wat sport vir ons land meebring. Of dit nou Wayde van Niekerk, Chad le Clos, Kevin Anderson of die Bokke is, niks genees ons land soos ’n groot sportprestasie nie.”

Wat die Bloemfonteiner nié sê nie, is dat as die Springbokke die eindstryd haal, hy ingevolge die beleid van neutraliteit nie die fluitjieblaser in daardie wedstryd sal kan wees nie.

Haal die Bokke – en nie hy nie – die eindstryd, sal hy dalk nooit die kans kry om in die gesogte wedstryd die fluitjie te blaas nie. Vanjaar se WB-toernooi is ná 2015 s’n in Brittanje, sy tweede en hy weet nie of hy nog vier jaar – tot WB 2023 – gaan hou nie.

Hy mag vanjaar ook nie skeidsregter wees in ’n wedstryd van een van die spanne – Nieu-Seeland, Kanada, Italië en Namibië – wat saam met Suid-Afrika in groep B is in die WB-toernooi wat volgende week in Japan begin nie.

Ná die eerste ronde sal ons man in Japan wel in die uitspeelwedstryde in ’n wedstryd van die All Blacks mag optree – maar slegs as die Bokke nié teen hulle speel nie.

Peyper behaal in die WB-toernooi die mylpaal dat hy in sy 50ste toets as internasionale skeidsregter optree – in die wedstryd tussen Japan en Samoa in Toyota op 5 Oktober.

Sy ander “prestasie” is dat hy meestal wedstryde in die “poel van die dood” (Engeland, Frankryk, Argentinië, VSA, Tonga) gaan hanteer. “Ek hoop maar nie ek’s die ou wat sneuwel nie,” sê hy droogweg.

In dié onderhoud in ’n koffiewinkel waarin hy ’n belang het by ’n dagkliniek in Bloemfontein, hou Peyper sy oog op die bal, laat voordeel toe en slaan nooit aan nie.

Hy benadruk die belang van liefde vir rugby, respek op én van die veld, die noue band in die kring (clan) van skeidsregters, en die geborgenheid van sy gesin wat hom dra, ook gedurende die sowat 150 tot 180 dae per jaar wat hy “op pad” is.

AUCKLAND, NEW ZEALAND - JUNE 24: Referee Jaco Peyper during the Test match between the New Zealand All Blacks and the British & Irish Lions at Eden Park on June 24, 2017 in Auckland, New Zealand. (Photo by Hannah Peters/Getty Images)Foto:

Een vraag – oor sy lengte – betrap hom effens onkant. “Hoe lank?” vra hy verbaas. Lag lekker. “Jy bedoel ‘Hoe kort?’ 1,75 m, as ek my lang studs aan het.”

Op Grey-kollege waar hy in 1998 in matriek was, het hy meestal skrumskakel vir die Cherries (tweede span) en ’n paar wedstryde vir die eerste span gespeel.

“Meestal nommer nege, maar ’n bietjie op tien en twaalf ook. Die ander seuns was net te groot; ouens soos CJ van der Linde en ander wat later vir die Bokke gespeel het. Ek’s seker maar net geweeg en te lig bevind, want met tackles en rucks het ek uitgevlieg as hulle my beetkry.”

As al Suid-Afrikaanse skeidsregter by WB 2019, is hy ook die Suid-Afrikaner wat die beste uitsig daar gaan hê – op die veld. “Dis pure plesier, die kick om saam met die supersterre rond te draf. Elke keer dink ek ‘Wow!’. Dis amper ’n ontnugtering om saam met die bestes ter wêreld op die veld te wees.”

’n Hoogtepunt was sy deelname aan die Britse Leeus se toer na Nieu-Seeland in 2017 en veral die eerste toets in Auckland toe hy skeidsregter was. “Dit het soos ’n drukkoker opgebou na die toets toe. Met die wêreldwye belangstelling het jy geweet jy’s nou op die regte, egte wêreldverhoog. En albei spanne het uitstekend gespeel.

“Hul spelgehalte en intensiteit was feitlik onmoontlik op ’n nat veld. Toe gaan druk die All Blacks twee keer laat in die tweede helfte, en hulle wen.”

Sy ferm “geen nonsens”-benadering, ook in die lewe, ’n “bietjie begrip” van die spel en reëls en die genot wat hy uit rugby put, is die kenmerke wat hom vir skeidsregterskap toerus, meen Peyper.

Daar is ook sy drie filters op die veld. “My eerste filter is: Die spel moet veilig wees. Die tweede: Die hantering moet gebalanseerd en vir albei spanne ewekansig wees. Eers dan kan ek die spel laat vloei, wat my derde rol is. Daar is groot druk op skeidsregters om die spel te laat vloei, maar as dit onveilig of ongebalanseerd is, wen die verkeerde span dalk.”

As ’n voorste skeidsregter in wêreldrugby, wat “toevallig” (vir ’n paar biere en op krukke) die fluitjie begin blaas het nadat knie-operasies hom uit rugby gedwing het, het Peyper ’n lang pad gekom sedert hy as ’n kannetjie vroeg-vroeg motor bestuur het.

Regs: Al die wedstrydbeamptes van Wêreldbeker 2019 in Japan in hul amptelike wedstryddrag.Foto: Verskaf

Dit was in die mid-1980’s by Welkom-Gimnasium waar sy pa, Rudo (wie se kenmerkende glimlag hy geërf het), skoolhoof was. “Hulle sê ek was so 5 jaar oud, toe sit ek op ’n kussinkie op die voorste sitplek en ry my pa se ou Merc al om die sirkel op die skoolterrein. As hulle kyk, sien hulle net hier kom die kar met die mannetjie wat oor die stuurwiel loer.”

Nou is dié prokureur (wat sy klerkskap by Niehoff en Van Deventer Prokureurs en by Peyper Prokureurs, van sy broer Hannes, in Bloemfontein deurloop het) een van die 12 skeidsregters vir die 48 wedstryde in WB 2019. Naas hulle is daar ook ses assistent-skeidsregters en vier TV-skeidsregters. Marius Jonker van Suid-Afrika is ’n TV-skeidsregter in Japan.

Vier beamptes tree per wedstryd op. “Daar kan nie meer as vier wedstryde per dag wees nie, want daar is net vier TV-skeidsregters. En hulle is so ’n bietjie ’n spesie op hul eie, want hulle moet ook as ’n TV-vervaardiger in die kleine saam met die buitenshuise televisiespan optree. Hy het ’n kameraplan en moet weet ’n skoot is nodig van, sê maar, kamera 12 en nie kamera 16 nie. En moet, soos ’n krieketskeidsregter, kykweers aanvra en sê die beeld moet stadiger of vinniger gewys of gevries word.”

Watter skeidsregters tot die beslissende wedstryde gaan deurdring, word gemeet aan hoe goed hulle vaar.

Suid-Afrika se Jaco Peyper en Jérôme Garcès van Frankryk­ vandeesweek in Japan in hul skeidsregtersdrag. Garcès hanteer WB 2019 se openingswedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks. Foto: Verskaf

“Hulle kyk na wie op dreef is, en wie ‘groot oomblikke’ gespaar is. Een ou vaar dalk uitstekend maar dan’s daar so ’n oomblik wat hom in die kollig sit.”

Peyper het rugby op 20 ná ’n sesde knie-operasie gelos. Terwyl hy gestudeer het, het hy rugby by Grey (primêr) afgerig. “Daar was nie genoeg skeidsregters nie, toe blaas die afrigters sommer mekaar se wedstryde. Die eerste keer was ek nog so half op krukke.”

“Van die ouer onderwysers het gesien die jong latte wat afrig, kan sommer wedstryde blaas ook, en het ons met ’n paar biere omgekoop. Ons’t gedink dis ’n goeie ruil.”

Die een ding, en die ander ding . . . Toe gaan gesels sy pa met die destydse Vrystaatse rugbybaas Steve Strydom en in 2001 het die jong Peyper hom amptelik by die Vrystaatse Skeidsregtersvereniging aangesluit.

Sy eerste toets in 2010 tussen Kenia en Zimbabwe, is opgevolg met een tussen Australië en Skotland. “Van daar was dit elke jaar so vyf of ses toetse, en nou’s dit nege jaar later. Mense vergeet vir elke een toets wat jy blaas, is jy een toets op die vlag. In spelers­taal, sou dit nou al eintlik 100 toetse gewees het.”

Hy volg SA Rugby en die Vrystaatse Sportinstituut se hoëprestasieprogramme met komponente soos sportwetenskap, tegniese vaardigheid, fiksheid en kondisionering.

“Hoe langer jy sterk en vars is, hoe langer kan jy gebalanseerde besluite neem.”

Hy is vol lof vir afrigters soos Rassie Erasmus en Jacques Nienaber en Saru se hoëprestasie-bestuurder, Mark Lawrence, wat skeidsregters help om rugby, en nie net die reëls nie, beter te verstaan, asook vir Jan du Toit, voormalige Vrystaatse rugbyvleuel, en sy span by die VSSI.

“Ons het werklik wêreldgehalte afrigters en toerusting by die sentrum in Bloemfontein.”

As deel van die program, leer die “kopdokter” Ruan Botha, wat ook die Cheetahs help, hom hoe om inligting onder druk te verwerk en rasionele besluite te neem.

“Die strewe is om groot oomblikke (op die veld) as normale oomblikke te benader. Hoe meer jy dit dieselfde hanteer, hoe meer gebalanseerd gaan jy besluite neem.”

Peyper benadruk dat sonder ’n gesin en vriende se steun al die ander hulpbronne niks sal beteken nie. Hy is getroud met Zenobia (’n oudleerling van Hentie Cilliers, Virginia) wat in atletiek en netbal uitgeblink het.

“Sy is ’n wonderlike vrou, wat ook sportmal is, en alles so goed hanteer as wat dit hanteer kan word, as ek weer ’n verjaardag of iets misloop. ’n Mens moet seker maak elke oomblik tuis is gehaltetyd. My vrou sê juis kinders se geldeenheid is tyd, en nie rand of dollar nie.”

Oor spelers en ander skeidsregters laat hy hom nie by name uit nie. “Maar ek kan sê vir watter soort spelers ek respek het. Ons verstaan almal rugby is emosioneel. Die ouens is opgewerk, veg vir elke duim beweegruimte en dinge gebeur. Die ouens waarvoor ek respek­ het, is nie altyd die beste spelers nie, maar die wat in die hitte van die stryd en ongeag wen of verloor, steeds kom blad skud.

“Dit geld spelers en afrigters. Gelukkig heers spangees in rugby en die meeste toon respek.”

Oor intimidasie op die veld dink hy ondervinding is ’n skeidsregter se beste vriend. “Dit laat jou met oop oë kyk en besef spelers en afrigters is nie jou vriende nie. Almal wil die beste uit ’n situasie haal.

“Maar danksy ervaring hou ek net by my drie filters as ononderhandelbare riglyne. En nege uit die tien keer lewer dit die beste eindproduk. As jy veiligheid en regverdigheid eerste stel, kan niemand jou aanvat nie.”

Omdat hulle so baie tyd saam weg van die huis deurbring, smee skeidsregters ’n hegte band. “Op internasionale vlak is dit kollegas soos Glen Jackson en Wayne Barnes en in Suid-Afrika Marius Jonker en Craig Joubert (wat nou uitgetree het), maar eintlik almal op Saru se hoëprestasie-paneel. As jy tien jaar lank in mekaar se geselskap deurbring, raak jy vriende en hulle ken jou familiesake en jy hulle s’n.”

Peyper dink nie hy gaan, soos Jonathan Kaplan, 46 haal as skeidsregter nie. Vir ná rugby ploeg hy solank in sakebelange in.

En daar is sy gesin. “Zenobia is goed met kinders en ’n opgeleide grondslagfase-onderwysers. Sy bied klasse aan vir twee- tot vyfjariges, waar die nannies soms saamkom, en hulle met Bybelklassies begin, soos in ’n outydse kleuterskool.

“Sy help baie, ook met ons kinders. Want ek het mos twee dogtertjies, en dis vir my ’n vreemde besigheid.”

Nina (eintlik Christina, 6) en Lee (Julienne-Lee, 2) is na hul onderskeie oumas genoem.

Tuinwerk vind hy terapeuties. Peyper hou ook daarvan om, soms in oorleg met Nashua (waar hy ook betrokke is) en Kloppers in Bloemfontein, in liefdadigheid in te ploeg. Hy is ook die handelsmerk-ambassadeur van die L’Avenir-wynlandgoed by Stellenbosch.

“My pa het altyd gesê: Voordat jy kan vat, moet jy eers gee. En dis ’n oerbeginsel van die heelal. Jy kan nie meer vat as wat jy gegee het nie. Albei mandjies moet heeltyd vol bly.”

Meer oor:  Jaco Peyper  |  Japan  |  Skeidsregter  |  Sport  |  Rugbywêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.