Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Russe oorrompel met hul Afrikaans
Daria Toerianitsa (22), Stefan Lukjanenko (21), Alisa Balikhina (22), Alena Fedjoekova (23), Valentina Kim (22) en Varvara Smirnova (22) tydens hul besoek aan Johannesburg. Foto: Johanna van Eeden

Hoe maak jy van ’n Russiese vegetariër ’n vleiseter? Jy nooi hom Suid-Afrika toe.

Stefan Lukjanenko (21) is een van ses Russiese studente van die Lomonosov-Moskouse Staatsuniversiteit wat Suid-Afrika tans besoek as gaste van die FAK.

Tydens middagete in Aucklandpark, Johannesburg, bestel hy ’n vegetariese pizza. Sy medestudente vra spottend of hy dan nou weer ’n vegetariër is.

“Ja,” antwoord hy, “behalwe as ons braai!”

Braaivleis en biltong, skilpadjies en murgbene. Dít is die lekkernye waaraan Lukjanenko en sy vriende smul sedert hul aankoms verlede week in Suid-Afrika. Die vleis hier is heerlik, sê hulle, maar die koeksisters is te soet.

Alena Fedjoekova (23) se naels is geel en groen, maar aan die punte van haar ringvingers wapper die Suid-Afrikaanse vlag.

“Ek het dit in Rusland laat doen voor ons Suid-Afrika toe gekom het,” sê sy. Soos Lukjanenko praat Fedjoekova suiwer Afrikaans. Hulle is studente in Afrikaans en bestudeer onder meer ook die geskiedenis van Afrika en Suid-Afrika.

Lukjanenko se T-hemp wys hy is ’n musiekaanhanger. “Dit is die omslag van een van Egor Letov se albums,” verduidelik hy die grafika op sy hemp. “Hier staan: One Hundred Years of Solitude.”

En wat dink hy van Suid-Afrikaanse musiek? “Die Antwoord is baie gewild in Rusland, maar ek verkies Fokofpolisiekar.”

Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte van die FAK, sê die Afrikaansstudente in Moskou het die organisasie se aandag getrek nadat prof. Deon Geldenhuys van die Universiteit van Johannesburg Moskou besoek het.

Die FAK het daarna ’n uitnodiging aan die studente gerig om meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

Alena Fedjoekova spog met die Suid-Afrikaanse vlaggie op haar naels. Sy het die naelkuns in Rusland laat aanbring voor haar besoek aan Suid-Afrika, vertel die Rus in suiwer Afrikaans.Foto: Johanna van Eeden

Tydens hul besoek was hulle by die Hoërskool Centurion, hulle het die Protea-boekehuis besoek en ’n draai gemaak by die Voortrekkermonument.

Hulle was ook gaste by ’n braai van die ekonoom Dawie Roodt, wat met ’n Russiese vrou getroud is. Dit is daar waar Lukjanenko skilpadjies ontdek het. Die Russiese gaste was eers onder die indruk dat hulle régte skilpadjies eet voordat hulle ingelig is dit is eintlik ’n lewerlekkerny in netvet.

“Ek het nog nooit ’n skilpadjie geëet nie en moes dit net proe. Ons het nie skilpadjies in Rusland nie!” sê Lukjanenko.

Die groep het die Afrikaanse fliek “Hoender met die rooi skoene” gaan kyk, ’n diens by die NG kerk Lyttelton bygewoon en ook ’n draai gaan maak op die stel van die sepie Binnelanders.

Maandag het hulle Netwerk24 se kantore in Mediapark in Johannesburg besoek.

Verder op hul program wag ’n besoek aan die Sterkfontein-grotte en Maropeng, Arts on Main en ’n konsert van Jak de Priester.

Jansen van Vuuren sê sy grootste plesier met die Russiese studente is die verrassing wat Suid-Afrikaners kry wanneer hulle die groep ontmoet.

“Ons verwag ’n kultuurskok, maar dit is eintlik dieselfde kultuur. Hulle het goeie maniere, is hulpvaardig en wil help skoonmaak.”

Hy sê die studente praat ’n “baie moderne Afrikaans” en is gesteld op suiwer taalgebruik.

“Hulle gebruik nie sommer ’n Engelse woord nie. Ons taal word aangeval by ons eie universiteite, maar hier sit studente amper 12 000 km weg van ons in Rusland en praat Afrikaans.”

Volgens Jansen van Vuuren het hy ’n sterk liefde vir Afrikaanse poësie by die studente opgemerk.

“En hulle eet pakke en pakke biltong!”

Ons verwag ’n kultuurskok, maar dit is eintlik dieselfde kultuur. Hulle het goeie maniere, is hulpvaardig en wil help skoonmaak.
Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte van die FAK
Afrikaans in Rusland?

Die Lomonosof-Moskouse Staatsuniversiteit is in 1755 gestig. Die universiteit het al 11 Nobelpryswenners opgelewer en spog met oudstudente soos Michail Gorbatsjof, voormalige president van die Sowjetunie, en Anton Tsjechof, bekroonde skrywer en dramaturg.

Die Instituut vir Oosterse en Afrika-studies het in 1956 ontstaan en bied studente die geleentheid om 'n verskeidenheid tale te bemeester, waaronder Afrikaans, Chinees, Hindi en Sanskrif. – Bron: Wikipedia

 

Meer oor:  Fak  |  Afrikaans  |  Russe  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.