Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rustenburg-man weer onder mes ná skoot van rower
Abel en Lizelle PienaarFoto: Facebook/ Lizelle Pienaar

Op Valentynsdag bederf haar man en drie kinders haar gewoonlik met ’n geskenkie. Maar op dié dag het haar eggenoot vir die derde keer in ’n week op die operasietafel gelê.

Dit was ’n moeilike Valentynsdag vir Lizelle Pienaar (41) van Rustenburg.

Haar rekenmeesterman, Abel (42), moes Vrydag weer geopereer word nadat ’n rower hom ’n week gelede in die maag geskiet het toe hy hul budjie, Buddy, van buite inbring. Die man het saam met vermoedelik twee ander by die bure se huis ingebreek en toe na die Pienaars se erf gevlug.

Abel is terug in die waakeenheid ná ’n operasie Vrydag aan sy dunderm. Die derm en sy bekkenbeen is in die voorval Saterdag omstreeks 01:30 in ’n kompleks in die buurt Safari-Tuine in die stad beskadig.

Twee dele van sy dunderm is Maandag verwyder en die derm is weer geheg. Die wond is oopgehou sodat onder meer vasgestel kan word of die derm normaal werk.

Hy het egter van die binneaarse voeding wat hy ontvang gebraak, wat aandui daar is ’n verstopping in die derm, sê Lizelle.

Abel Pienaar (42) Foto: Verskaf

Sy sê Abel het die afgelope twee dae net ’n suurstofmasker gedra en was nie meer aan die asemhalingsmasjien gekoppel nie. Sy verdowing is ook stelselmatig verminder.

“Hy het wakker geword as ons met hom gepraat het. Hy het sy oë oopgemaak.”

Hy kon egter nog nie met sy gesin praat nie.

Lizelle sê sy hande word vasgebind om te keer dat hy aan sy wond of die masjiene se drade raak.

Sy vermoed die herstelproses begin nou weer van vooraf.

Sy sê die koeël is nog nie verwyder nie omdat dit nie tans lewensbedreigend is nie. Dit gaan moeilik met ’n tweede wond wees – “dit is by sy boud en hy moet op die bed lê”.

Die bekkenbeen wat in die skietvoorval versplinter het, sal na verwagting self herstel.

Die egpaar het drie kinders van onderskeidelik tien, 14 en 19 jaar oud. Die gebeure is veral moeilik vir hul jongste, sê sy.

Netwerk24 het vroeër berig Abel het die budjie buite gaan haal nadat hulle hom daar vergeet het. Toe hy die voël neersit, was die man in sy huis en het dié ’n skoot geskiet, wat hom gemis het. Pienaar is egter raakgeskiet toe die man vlug en hy hom agternagesit het om hom van die perseel te verdryf.

Meer oor:  Abel Pienaar  |  Rustenburg  |  Lizelle Pienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.