Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Rustenburger kry terugslag ná rower hom 4 keer skiet

Die Rustenburgse man wat oorleef het nadat ’n rower hom verlede week vier keer geskiet het, het ’n terugslag gehad en ’n hoë koors ontwikkel.

Volgens Gerald Spalding (54) se broer, Pieter Henning, is hy na die teater geneem om die probleem te probeer vasstel.

“Dit blyk nou dat die skade aan sy lewer erger is as wat aanvanklik vermoed is. Hy is steeds in ’n kunsmatige koma in die waakeenheid (van die provinsiale hospitaal Job Shimankana Tabane in Rustenburg). Sy koors het intussen gedaal en sy bloeddruk, hartklop en suurstofinname is goed. Hoewel sy toestand ernstig is, is hy bestendig.”

Henning en Spalding se suster Anne Spalding het vroeër gesê dit was ’n wonderwerk dat hy, nadat hy geskiet is, nog sy huurhuis se deur kon oopsluit en in sy Land Cruiser kon klim om hulp te gaan soek.

Die rower het hom op Donderdag 6 Februarie tussen 03:00 en 04:00 in die huis oorval, verskeie kere geskiet en met sy skootrekenaar en selfoon gevlug.

Die gewonde Spalding het self gery om etlike kilometers verder by sy vriendin, Sandra Osborne, se huis hulp te soek.

Gerald SpaldingFoto: Verskaf

Hy het daar die toeter gedruk totdat mense uitgekom en die polisie en ’n ambulans ontbied het. Daarna het hy nog ’n verklaring by die polisie afgelê voordat hy ure ná die rooftog ’n noodoperasie ondergaan het.

Volgens Henning het een van die koeëls sy een long getref. “ ’n Deel van die long sal self herstel, maar hy gaan steeds permanente skade oorhou. Die skade wat ander koeëls aan sy ingewande en diafragma aangerig het, is in die operasie herstel. Gerald se linkerarm het gebreek toe ’n koeël daardeur is, maar dit kan eers herstel word wanneer die swelling gesak het.”

Die koeëls wat in sy lyf agtergebly het, sal voorlopig nie verwyder word nie omdat dit nie op lewensgevaarlike plekke is nie, het Henning gesê.

Spalding sou reeds vóór die rooftog verlede week na Anne in St. Lucia in KwaZulu-Natal gegaan het voordat hy binnekort na Kanada sou emigreer om daar te gaan werk. “Hy moes egter nog ’n rukkie in Rustenburg agterbly vir ’n laaste visum-afspraak,” het sy gesê.

Sy het reeds voorverlede naweek van Rustenburg, waar hulle saam gewoon het, na St. Lucia verhuis. Elize Botha, Gerald se ander suster, het intussen van Brittanje af gekom om hom te ondersteun.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Gerald Spalding  |  Rustenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.