Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ryers van SA gaande oor hulp
Paul Geddes staan vroegoggend op die barmhartige Samaritane van Lesotho se stoep terwyl een van die plaaslike mans sing en kitaar speel.Foto: SKERMGREEP, YOUTUBE

Plaaslike inwoners van Lesotho het onlangs tot die redding gekom van ’n groep Suid-Afrikaanse motorfietsryers wat ten tyde van ’n avontuur in die Berg­koninkryk verdwaal het.

Paul Geddes (42) van Johannesburg sê hy en twee vriende, Alex Vowles (46) en Dennis Murphy (46), het vroeër vandeesmaand die Ribaneng-vallei in Lesotho op motorfietse verken.

Hulle het op Vrydag 13 Maart omstreeks 11:30 vertrek.

“Ons het niks wild beplan nie, net ’n maklike rit. Ons het geen GPS nodig gehad nie omdat ons vriend Alex die roete baie goed ken. Hy ry al motorfiets in Lesotho vir meer as 30 jaar,” sê Geddes.

Ná ’n rit van sowat drie uur in die valleie het die omgewing begin bekend lyk, asof dit herhaal. Die brandstof in die motorfietse het min geraak.

Die mans se plan was om tot by ’n nabygeleë lodge te ry om brandstof en ’n koeldrank te koop voordat hulle na hul eindbestemming sou ry.

“Ons het omstreeks 17:30 by die lodge aangekom en soveel moontlik brandstof gekoop met R300. Ek en Dennis het 6 liter gekoop en nog 4 liter vir Alex, wat intussen sowat 12 km verder agtergebly het omdat sy brandstof opgeraak het,” sê Geddes.

Hy sê hulle het geweet hulle is in die moeilikheid en dat hulle vinnig sou moes maak omdat die son aan die sak was.

Hulle het Google Maps gebruik om hul weg te vind na ’n teerpad na Ramabanta, vanwaar hul rit begin het, maar het verdwaal.

Dit het toe donker geword en die mans het slegs een lig op Alex se motorfiets gehad.

“Ons pak gewoonlik ligte in, maar nie vir hierdie ‘vinnige’ rit in die vallei nie. As jy Lesotho ken, sal jy weet dit raak pikdonker.”

Teen 20:30 het hulle steeds in sirkels rondgery langs ’n rivier af.

“Ons het toe ’n klein lig teen een van die heuwels gesien. Die lig het aan en af gegaan en stadig nader aan ons beweeg. Dit was toe ’n jong meisie, Angelina, van ’n dorpie op daai heuwel,” sê Geddes.

Angelina het gesê die pad hou daar op en voorgestel dat die mans vir die nag by haar familie oorslaap of terugry op die pad waar hulle vandaan gekom het.

“Sy sê die klippe was te groot op die roete wat ons wou volg. Dit sou ons nie in die dag afskrik nie, maar ons het slegs 13% batterykrag op die foon oorgehad en min brandstof.”

Die drie het toe besluit om die nag by die plaaslike inwoners deur te bring.

Die drie het toe besluit om die nag by die plaaslike inwoners deur te bring.

Die vriende is oorweldig deur die gesin se goedhartigheid.

“Angelina en haar ma het ons soos koninklikes hanteer,” sê Geddes.

Hulle het komberse en water gekry en sowat 40 mense het byeengekom­ om hulle te verwelkom en met hulle geselsies aan te knoop.

Aandete was pap, marog en roereier.

“Ons het aangeneem dat ons op die banke sou slaap, maar hulle het ons na ’n kamer geneem met ’n dubbelbed en ’n enkelmatras op die vloer. Ons het probeer om die aanbod van die hand te wys, maar die mense het daarop aangedring dat ons op die beddens slaap,” sê Geddes.

Slaaptyd het dit begin reën en die mans het weer besef hoe gelukkig hulle was dat hulle nie buite vasgekeer was nie.

“By sonsopkoms het een van die mans in die dorpie vir ons ’n paar liedjies gesing terwyl hy op sy tradisionele kitaar gespeel het wat gemaak is uit ’n oliekan en ’n bietjie draad. Wat ’n asemrowende ervaring. Ek sal nooit die glimlag op die man se gesig vergeet nie.”

By hul vertrek is hulle selfs ’n bietjie tandepasta aangebied.

“Ons het Angelina se selfoonnommer gevat en ons sal beslis die familie vergoed om hulle te bedank vir wat hulle vir ons gedoen het.”

Op pad huis toe het die mans weer sonder brandstof gaan staan, en weer het die mense van Lesotho kom help.

Op pad huis toe het die mans weer sonder brandstof gaan staan, en weer het die mense van Lesotho kom help.

Mense het die motorfietse help stoot en hier en daar ’n liter of twee se brandstof geskenk. Die mans het later die middag hul bestemming bereik.

“Waar in die wêreld, in dié tyd, sal jy ’n familie vind wat vreemdelinge in hul huis toelaat vir die nag? Geen vrae is gevra nie en hulle het niks in ruil daarvoor verwag nie. Hulle het so min, maar tog so baie om te gee,” sê Geddes.

“Dit was een van die onvergeetlikste ervarings in my lewe. Goeie, goedhartige en egte mense bestaan wel. Dit was vyfster akkommodasie, vir seker.”

Geddes sê hulle is ’n bietjie gespot deur hul vriende ná die hele avontuur.

Al drie van hulle is ervare motorfietsryers en Vowles het al sowat 29 keer aan die gewilde Roof of Africa-wedren in Lesotho deelgeneem, en Geddes sowat vyf keer. En steeds verdwaal!

Meer oor:  Paul Geddes  |  Lesotho  |  Hulp  |  Motorfietsryers  |  Barmhartige Samaritane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.