Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA benoem ‘Noem my skollie’ vir Oscars
Tarryn Wyngaard (Jenny) en Dann-Jaques Mouton (AB) speel geliefdes in die treffende rolprent Noem my skollie.
Noem my skollie, ’n rolprent oor die bendelewe op die Kaapse Vlakte, is vandeesweek as Suid-Afrika se amptelike keuse vir die 89ste Oscar-toekennings benoem.

Kaartjies bly gedurig uitverkoop sedert die uitreiking van die Afrikaanse rolprent Noem my skollie.

As jy dit nog nie gesien het nie, gaan dié naweek, want dit is as Suid-Afrika se amptelike keuse vir die 89ste Oscar-toekennings benoem.

Die rolprent word ingeskryf in die afdeling van beste rolprent in ’n vreemde taal en is al deur 32 000 Suid-Afrikaners gesien sedert dit op 2 September landwyd in rolprentteaters begin wys het.

Die Nasionale Film- en Videostigting (NFVS) het vandeesweek aangekondig hy het besluit om dié treffende rolprent oor bendelewe op die Kaapse Vlakte in te skryf as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir 2017 se Oscars.

Zama Mkosi, uitvoerende hoof van die stigting, sê ná ’n streng beoordelingsproses is hulle trots dat Noem my skollie die amptelike keuse is.

“Dit is ’n aanduiding van die belangrike rol wat die NFVS in die bemagtiging en transformasie van die rolprentbedryf speel deur Suid-Afrikaanse stories aan die wêreld bekend te stel.”

Volgens die stigting was die kompetisie vanjaar straf en was dit ’n moeilike keuse om ’n rolprent te benoem om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Die stigting meen die benoeming is ’n merkwaardige prestasie vir die werk van sowel die regisseur Daryne Joshua as die vervaardigers Dawid Max Brown en Moshidi Motshegwa, die skrywer John Fredericks, en die uitstekende akteurs.

Noem my skollie speel af in die 1960’s op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-gevangenis. Dit is gegrond op die lewe van die draaiboekskrywer, Fredericks (71).

Die rolprent volg AB en sy drie beste vriende, wat in armoede grootword.

AB (Dann-Jaques Mouton) en sy vriend Gimba (Gantane Kusch) word ná ’n inbraak in hegtenis geneem en twee jaar tronk toe gestuur.

Dit is hier in die gewelddadige tronk dat AB besluit om sy talent vir stories vertel te gebruik om die geharde misdadigers te vermaak. Gimba slaan ’n ander koers in.

Wanneer AB vrygelaat word, sit hy en Jenny (Tarryn Wyngaard) hul verhouding voort. Hy skryf steeds stories om haar te beïndruk, maar sy bendevriende oorreed hom om vir oulaas by hulle aan te sluit. Die gevolge is skokkend.

“Ek het die onmoontlike gedroom. Diep binne my hart het ek geweet Skollie gaan ’n impak maak,” sê Fredericks.

“Toe ek 70 jaar oud geword het, is ek geseën met ’n replika van die Oscar-standbeeld wat steeds op my lessenaar staan. Ek het hierdie prestasie gemanifesteer.”

Joshua sê hulle bly verras deur al die liefde wat Skollie steeds by gehore landwyd ontvang.

“Ons is oorweldig deur die eer om ons land te verteenwoordig.”

Noem my skollie sal nog dié naweek in teaters landwyd te sien wees.

Meer oor:  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.