Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘SA bloei, maar geweld sal nie die oplossing wees nie’
Mense bid saam wat Vrydagoggend aan ’n saamtrek vir veiligheid en gelykheid deelgeneem het by Lady Slipper net buite Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Op ’n dag wat spanning hoog loop terwyl die moordverdagtes van die plaasvoorman, Brendin Horner, in die hof in Senekal in die Vrystaat verskyn, was die boodskap van verskeie leiers in georganiseerde landbou duidelik: “Geweld is nie die oplossing nie”.

Terwyl die spanning in ’n stadium baie hoog was toe ’n groot groep EFF-lede van aangesig tot aangesig met boere-ondersteuners voor die hof in Senekal gekom het, het die Van Stadensrivier-boerevereniging ’n saamtrek in ’n oop veld by Lady Slipper, net buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap gehou waar toplui in georganiseerde landbou gepraat het. Hul pleidooi was vir veiligheid, gelykheid en geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners.

Horner is die aand van 1 Oktober naby Paul Roux vermoor en dit het gevolglik tot grootskaalse rassespanning gelei.

Met statistieke wat aandui dat 58 moorde op ’n dag in Suid-Afrika gepleeg word, het Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap, wat die saamtrek in die Oos-Kaap toegespreek het, gesê wetteloosheid is aan die orde van die dag en misdaad is buite beheer.

“Ons as boere en plaaswerkers kom ook in die spervuur. Frustrasies het kookpunt bereik.

“Maar dit is belangrik dat ons nie nou ons emosies volg nie. Rasionele gedagtes moet nou heers en daar moet gewaak word teen enige vigilante groepe, want ek belowe jou dit sal nie die probleme oplos nie.”

Doug Stern, president vir Agri Oos-Kaap, het tydens die saamgetrek gepraat. Foto: Lulama Zenzile

Hy benadruk die staatskoffers is deur staatskaping geplunder wat die staat se hulpbronne lamgelê het en onder meer tekorte in die polisiediens gelaat het.

“In plaas van net kritiseer, moet ons eerder saamwerk en kyk waar en hoe kan ons help.

“Ons as georganiseerde landbou werk nou saam met die polisie en ontmoet gereeld met die provinsiale polisiekommissaris wat ook passievol is om veediefstal die nekslag toe te dien.”

Die afgelope boekjaar se misdaadstatistieke het aangedui dat agt uit die toptien polisiekantore waar die meeste veediefstalsake landwyd aangemeld word, in die Oos-Kaap is.

Stern sê vir die eerste keer begin die regering en pres. Cyril Ramaphosa praat oor plaasmoorde.

“Onverantwoordelike optrede kan nou alles weer onklaar laat.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die landbou-organisasie TLU SA, het op sy beurt gesê enige optrede vandag, moet vir ’n beter môre in Suid-Afrika sorg.

“As ons kyk na die spanningslyne in ons omgewing, in Suid-Afrika en vandag in Senekal, wil ek ’n gedagte hier laat– ons moet Woord verbonde bly.

Die saamtrek is afgesluit met deelnemers wat opstaan en die Onse Vader sing. Foto: Lulama Zenzile

“Die Woord sê God het nie vir ons ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar een van krag, liefde en selfbeheersing. Dit is belangrik dat ons die drie punte in balans moet sien wanneer ons enige dispuut aanpak.”

Hy erken daar is min inligting wat hulle deesdae oor hul lessenaars van landbou ontvang wat hulle bruisende opgewondenheid bied, maar sê die ingesteldheid van elkeen sal denkwyses bepaal wat tot ’n positiewe of negatiewe optrede lei.

“Vat hande in strukture met regulasies en rekenpligtigheid, raak betrokke en help bou aan ’n heel nuwe Suid-Afrika.”

Retief Odendaal, DA-woordvoerder vir landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, het Suid-Afrikaners as apaties bestempel, wat hul vertroue in leiers plaas wat hulle nie ken nie.

“Dit is nie vandag gepas om oor die politieke diskoers in die land te praat nie, óf wat die regering moes doen om landelike sekuriteit te verseker nie.

“Dit is veel belangriker om te praat oor wat u en ek kan doen om ’n verskil in die land te maak.”

Hy het saamgestem met ’n vorige spreker deur te sê politici gaan nie die antwoord wees op die land se probleme nie, maar eerder elkeen-self.

Dit is nie vandag gepas om oor die politieke diskoers in die land te praat nie, óf wat die regering moes doen om landelike sekuriteit te verseker nie.

“Ons is nie meer betrokke by die kerk, kultuurorganisasies of organisasies sonder winsbejag nie. Ons sê ons het nie tyd nie. Dit is juis omdat ons almal as ’n gemeenskap nie betrokke gewees het nie, dat Suid-Afrika op die rand van ’n afgrond staan.

“Die mag lê in die hande van die publiek. Raak betrokke, gee leiding, deel jou vaardighede en help die land bou,” het Odendaal gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.