Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA boer baie siek in VSA, raak skielik blind

’n Boer van Lichtenburg in Noordwes se familie haas hulle binnekort na Amerika nadat hy daar ernstig siek geword het en twee breinoperasies moes ondergaan.

Bernie van Jaarsveld (25) het sowat ’n maand lank op ’n plaas in Noord-Dakota gewerk toe hy verlede week skielik blind geword het in sy linkeroog. Sy ma, Marilize, sê hy het geruime tyd vooraf met hoofpyne gesukkel, maar dit was nie so akuut dat hy vermoed het daar is ’n ernstige onderliggende probleem nie.

Bernie van Jaarsveld en sy twee dogtertjies, Beané (4, links) en Luné (3). Foto: Facebook

“Toe hy blind word in die oog, het ’n oogspesialis vasgestel hy het bloeding agter sy oë en hom dadelik na die hospitaal in Grand Forks verwys,” sê Marilize.

Die bloeding is veroorsaak deur ’n sist wat gebars het. Bernie, die pa van twee kleuterdogtertjies, is verlede Saterdagoggend geopereer om die sist, wat ook drukking teen sy linkerbreinlob veroorsaak het, te verwyder en bloeding op sy brein te stop. Hy is enkele ure later weer na die teater gehaas weens bloeding.

Bernie het intussen in so ’n mate herstel dat hy Donderdag na ’n gewone saal oorgeplaas is en moontlik binnekort ontslaan gaan word. “Hy kan nou weer met albei oë sien, maar daar lê egter nog ’n lang pad van herstel vir hom voor,” sê Marilize. “Hy sukkel nog om te loop. Hoewel Bernie kan praat, sy selfoon kan gebruik en mense herken, is sy spraak aangetas. Hy praat byvoorbeeld óf baie stadig óf baie vinnig.”

Marilize en Bernie se vrou, Lomé, het sedert Bernie siek geword het, gespook om ’n noodafspraak by die Amerikaanse konsulate in verskillende stede te kry. Hulle wil so gou as moontlik in Amerika kom.

“Oral is aan ons gesê ons kan eers in September ’n noodafspraak kry, maar ons kon intussen ’n afspraak vir Maandag by die konsulaat in Kaapstad kry,” sê Marilize. Sy en Lomé vlieg nou Sondag na Kaapstad om Maandag by die konsulaat te kan wees. Hulle hoop om binne ’n paar dae noodvisums te kan kry om na Amerika te reis.

Bernie van Jaarsveld nadat hy geopereer is.Foto: Facebook

Bernie se jonger broer, Abré (23), werk ook op ’n plaas in Amerika. Hy was by Bernie toe hy geopereer is, maar moes intussen weer terugkeer na sy werk. Die twee broers was van plan om tot in Desember in Amerika te werk.

Marilize sê Bernie kry uitstekende mediese sorg. Sy werkgewer, Camron (sy van was nie dadelik bekend nie), het reeds gratis verblyf en ’n voertuig vir Marilize en Lomé gereël vir wanneer hulle in Amerika aankom. Bernie sal by Camron tuisgaan indien hy ontslaan word voordat sy ma en vrou in Amerika aankom.

“Die mense daar het hul hart vir ons oopgemaak,” het Marilize Vrydag gesê. “Die Dad-stigting in Amerika help ook reeds om geld in te samel om ons koste daar te dek.”

Lomé en Bernie se twee dogtertjies, Beané (4) en Luné (3), sal by hul ander ouma bly terwyl hul ma en Marilize in Amerika is.

* Mense wat die Van Jaarsvelds wil ondersteun, kan die familie se Facebook-blad, ’n Ma se kreet om hulp, besoek.

Meer oor:  Lichtenburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.