Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA gereed met e-visums vir besoekers

Miljoene meer besoekers sal na Suid-Afrika stroom sodra dié land sy “wêreldklas” e-visumstelsel binnekort in werking stel.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag op ’n besoek aan die departement van binnelandse sake se hoofkantoor in Pretoria gesê.

Binnelandse sake is die eerste departement wat die president besoek nadat hy in sy staatsrede in 2018 beloof het om self te gaan kyk wat by staatsdepartemente aangaan.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek werknemers by die departement van binnelandse sake se hoofkantoor in Pretoria toe. Foto: Christiaan du Plessis

Ramaphosa sê binnelandse sake sal in die toekoms al hoe meer digitale dienste aan Suid-Afrikaners moet help lewer.

Die departement sal in November sy e-visumstelsel in sekere lande bekend stel, waarna dit stelselmatig uitgebrei sal word. Die nuwe stelsel sal dit vir toeriste en sakelui makliker maak om die land te besoek.

“Die nuwe stelsel is van wêreldgehalte en die verwagting is dat binnelandse sake baanbrekerswerk daardeur gaan verrig. In die verlede was dit ingewikkeld vir buitelanders om aansoek te doen vir ’n visum,” sê Ramaphosa.

Ingevolge die huidige visumstelsel moet buitelanders by ’n Suid-Afrikaanse ambassade aansoek doen. Die nuwe stelsel sal dit moontlik maak vir buitelanders om elektronies aansoek te doen vir ’n visum.

Al die nodige dokumente moet steeds aangeheg word voordat goedkeuring gegee sal word.

“Die nuwe stelsel maak dit makliker en veiliger,” sê Njabulo Nzuza, die adjunk-minister van binnelandse sake.

Volgens hom sal die e-visastelsel “biometriese tegnologie” gebruik. Dit behels dat besoekers se identiteit met behulp van sagteware, wat gesigte kan herken, vasgestel word. Elektroniese vingerafdrukke sal ook gedoen word.

“Biometriese identifikasie is meer betroubaar as mense, wat met die blote oog moet bepaal of die persoon op die foto en die reisiger dieselfde mens is. Die stelsel sal ook met ander lughawens oor die wêreld heen se stelsels kommunikeer sodat inligting oor ’n gegewe reisiger maklik opduik,” sê Nzuza.

Volgens hom sal daar ook sagteware wees wat dadelik sal wys of aansoekers “hoë-risiko”- of “lae-risiko”-besoekers is.

Ramaphosa sê hoewel die departement eens bekend gestaan het as die departement van “gruwelsake”, is baie intussen gedoen om die departement op koers te kry.

Die departement speel ’n sleutelrol om die veiligheid van Suid-Afrikaanse burgers te verseker.

“Die mense van Suid-Afrika verwag nou van die departement om nog beter te vaar; om die mense van Suid-Afrika eerste te stel,” sê Ramaphosa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.