Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA gesin skop teen deportasie uit Nieu-Seeland

’n Suid-Afrikaanse gesin wat nege jaar gelede na Nieu-Seeland verhuis het, kan dalk eersdaags die trekpas uit die land kry.

Die Von Metzingers het in 2008 die Goudstad vir Dunedin, die tweede grootste stad op die Suid-Eiland, verruil, maar is nou in ’n stryd teen tyd met Nieu-Seeland se immigrasieowerheid gewikkel. Hulle wag om te hoor wat hul lot is nadat hul burgerskap geweier is omdat een van hul kinders ’n chroniese niertoestand het.

Fase-vier-urieneterugvloeiing is by Steven von Metzinger se jongste seun, Ethan (15), gediagnoseer. Dit beteken hy is sonder kleppe in sy urinebuis – wat urinevloei beheer – gebore.

Die gesin doen aansoek om Nieu-Seelandse burgerskap, maar is dit geweier omdat die Nieu-Seelandse regering die toestand as ’n las op die gesondheidstelsel sien. Die immigrasieowerhede beweer ook dat Von Metzinger nie vooraf Ethan se toestand in sy aansoek verklaar het nie.

Die Von Metzinger-gesin: Steven, Joan, en hul twee seuns, Travis (links) en Ethan.

Tog sê Von Metzinger, ’n konsultant vir ’n IT-maatskappy, dat hy nie vir Ethan as deel van sy jongste aansoek ingesluit het nie sodat hy ’n operasie in Suid-Afrika kan kry indien dit nodig is. Von Metzinger sê verder dat hy bereid is om self vir die operasie en moontlike nieroorplanting in Nieu-Seeland te betaal, sou dit ooit nodig wees.

“Ek het die nodige voorsiening gemaak om te verseker dat daar genoeg geld is vir enige operasie. Ek sal dit self betaal. Ek het Nieu-Seeland toe gekom om vir my kinders ’n beter lewe te gee. Ek wil hier bly, maar ek kan nie van een werksvisum na die volgende lewe nie,” sê Von Metzinger, wat al twee keer voor ’n tribunaal verskyn het om sy saak te stel.

“Ethan het toe hy jonger was ’n operasie ondergaan wat gesorg het dat hy nou in ’n stabiele toestand is. Sy niere funksioneer teen 90% en hy gaan elke jaar drie keer hospitaal toe om die situasie te monitor. Hy lewe ’n gewone lewe en ek is meer as bereid om die onkoste te betaal sou dit enigsins nodig wees,” sê hy.

Von Metzinger sê hy hoop vir ’n wonderwerk wanneer hy volgende week die Nieu-Seelandse minister van gesondheid en ’n plaaslike parlementslid oor die saak sien.

Ons verdien ’n kans om hier te lewe

Sy vrou, Joan, is betrokke by verskeie liefdadigheidsprojekte soos Kidney Kidz NZ, wat fokus op nierkwale terwyl sy oudste seun, Travis (18), verlede jaar begin het met sy mediese studie by die Universiteit van Otago. Hy moes egter onttrek omdat Von Metzinger in September 2017 slegs ’n vier-maande-werksvisum toegestaan is om hul sake in die land in orde te kry voordat hulle vertrek.

Travis het egter nie gras onder sy voete laat groei nie en het intussen ’n aanlyn petisie begin om ondersteuning vir sy gesin in te win.

“Ons het nege jaar terug na Nieu-Seeland getrek met die idee om ’n nuwe lewe te begin, maar ons word nou deur die regering gevra om te gaan. Ek het hierdie petisie begin omdat ek glo die regering se besluit is verkeerd en immoreel. Ons verdien ’n kans om hier te lewe. Dit is ons huis en ek vra dat julle hierdie petisie teken sodat ons kan aanhou lewe in hierdie besonderse land,” lui die verklaring van die petisie.

Teen Donderdagmiddag om 14:00 het 13 245 mense al die petisie geteken.

Peter Elms, bedryfshoof van die Nieu-Seelandse immigrasieowerheid, het aan die Otago Daily Times gesê die immigrasieveiligheidstribunaal het in Augustus 2017 die gesin se aansoek om appèl van die hand gewys. Die tribunaal het die saak teenstrydig met openbare belang beskou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.