Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA gyselaar se gesin klou aan hoop
Amanda Bothma Foto: susan cilliers

Die familie van ’n Suid-Afrikaner wat nege maande gelede in Wes-Afrika ontvoer is en vir wie ’n losprys geëis word, klou vas aan die hoop dat hy nog leef.

“Ons wil net hê hy moet huis toe kom,” het Chris Bothma (54) se vrou, Amanda, Donderdag in Potchefstroom gesê.

“Ons het sedert sy verdwyning nog niks van hom gehoor nie.”

Onderhandelaars van die organisasie Gift of the Givers kon vasstel vermoedelik lede van die ekstremistiese groep Al-Kaïda het Chris en ander mense op 23 September verlede jaar ontvoer toe hulle na ’n myn in Burkina Faso op pad was.

Hulle eis glo ’n losprys van meer as $40 miljoen vir sy en vyf ander ontvoerdes se vrylating.

Die onsekerheid en onlangse gerugte dat Chris dood is, vreet aan Amanda en hul drie kinders, Jacques (25), Christopher (23) en Mariska (20). “Dit help nie om moed op te gee nie, dis beter om positief te bly,” sê Mariska.

Chris het in 2013 vir die eerste keer in Burkina Faso as ’n instandhoudingsbestuurder by ’n goudmyn-aanleg gaan werk.

Hy was tussen 2017 en 2018 ’n tydjie terug in Suid-Afrika, maar is in Junie 2018 terug soontoe.

Chris Bothma
Chris Bothma word al maande lank aangehou.

Hy het so goed verdien dat Amanda nie nodig gehad het om te werk nie en Mariska planne gehad het om vanjaar gasvryheidsbestuur te begin studeer.

Die laaste kommunikasie met Chris was op 23 September 2018 toe Mariska ’n boodskap aan hom op Facebook gestuur het.

Hy het dit gelees, maar nie geantwoord nie.

’n Amptenaar van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het die Bothma-gesin die volgende dag laat weet Chris, sy werkgewer se seun en hul motorbestuurder is ontvoer omtrent dieselfde tyd as wat Mariska op Facebook kontak gemaak het.

Die mans se voertuig is sowat 20 km van Mali se grens gevind.

Amanda wou dit nie glo nie.

Mariska onthou sy het “net op die vloer gaan sit” van skok. Amanda en Chris se ander seun, Christopher (23), wat as ’n sjef in Dubai gewerk het, het hom na Suid-Afrika gehaas. Die Bothmas het aanvanklik gedink Chris sal vinnig gevind word.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het gesê hulle kan nie betrokke raak nie omdat hulle nie met terroriste onderhandel en lospryse betaal nie.

“Die departement bel my nou nog van tyd tot tyd om te hoor wat die jongste verwikkelinge is,” sê Amanda.

Sy het ná die ontvoering ook kontak gemaak met dr. Imtiaz Sooliman, stigter en bestuurder van Gift of the Givers.

Sooliman het sy kontakte gebruik en die organisasie se onderhandelaars aan die werk gesit om na Chris te help soek.

Volgens Amanda kon hulle vasstel Chris word saam met vyf ander mense in Mali aangehou.

“Dr. Sooliman het in Mei ’n aanbod waarvan ons nie die besonderhede weet nie, aan die ontvoerders gemaak. Hulle wou dit nie aanvaar nie en het in Junie laat weet hulle soek $40 miljoen vir die vrylating van al ses gyselaars.”

Die Bothmas het kort daarna gerugte gehoor dat Chris dood is, maar geen bevestiging, oorskot of foto’s is gekry nie.

Die gesin het nou ’n private geldinsamelingsveldtog begin om hul huis te probeer behou omdat dit geldelik sleg gaan sonder Chris se inkomste.

Amanda werk nou by ’n Potchefstroomse prokureursfirma, Jacques as rekenaartegnikus en Christopher as kelner. Mariska moes haar studiedrome vir eers laat vaar en soek werk.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die Suid-Afrikaanse regering ondersteun die Bothma-familie, maar dat hulle geen inligting oor hul betrokkenheid by die ontvoering bekend kan maak nie weens die sensitiwiteit van die situasie.

Meer oor:  Chris Bothma  |  Burkina Faso  |  Mali  |  Gyselaar  |  Gift Of The Givers  |  Al-Kaïda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.